in

Rotrix maak boer se droom waar

This post is also available in: English

Annemarie Bremner

Om ’n boerdery aan die gang te hou in ’n moeilike landboujaar is ’n uitdaging, maar om voltyds weg te spring met ’n nuwe boerdery sonder enige noemenswaardige kapitaal of middele lyk eintlik na ’n onmoontlikheid. Stals König van Bandelierskop naby Louis Trichardt kon vanjaar sy eerste tef sny nadat hy bietjie meer as ’n jaar gelede die moed bymekaar geskraap het om voltyds te begin boer op sy Bosveldplaas van 110 hektaar. Dit het alles begin toe hy in 2013 deur ProAgri se gereelde Lesersopname die eerste prys losgeslaan het. Die prys was ’n Rotrix Rainmaker-spuit ter waarde van R60 000.

In daardie stadium was Stals nog in die konstruksiebedryf en net ’n naweekboer met ’n groot droom om die plaas in ’n ekonomiese eenheid te omskep. Die een groot voordeel van die plaas is behoorlike water, met ’n standhoudende boorgat wat tot 50 000 liter water per uur lewer.

Met so ’n waardevolle waterbron en ’n spuit om dit behoorlik te benut, was daar geen omdraaikans meer nie. Stals het reeds ’n redelike kudde Simbras en Simbra-Bonsmara-kruisings opgebou, maar om dit in ’n lonende bedryf te omskep, is meer as net natuurlike grasweiding nodig.

Die plan is gemaak om vyf hektaar Bosveld te ontbos, mak te maak, waterpype aan te lê en gras te plant, maar dit was geen geringe taak sonder trekker, toerusting en geld nie.

Stals is iemand wat graag ander mense help, maar nou het hy self hulp nodig gehad. Al daardie groente, vleis en melk wat hy nog altyd ruimskoots van die plaas af uitgedeel het, het nou na hom toe teruggekom in die vorm van geldelike en fisiese ondersteuning deur vriende. Deur ’n vennootskap aan te gaan, het hy ook toegang tot trekkers en werktuie gekry.

Aangesien daar geen Eskom-krag op die plaas is nie, moes daar ook slim planne gemaak word om die water tot by die Rainmaker te kry. Nog ’n vriend het ’n Lister-enjin opgebou vir krag aan die boorgatpomp en sommer vir die huis ook. Die water word na staaldamme gepomp vanwaar dit met die hulp van nog ’n dieselenjin en monopomp na die Rainma-ker gevoer word teen 3 bar druk.

“Die spuit pas soos ’n handskoen op die plaas, omdat ek geen krag nodig het om hom aan te dryf nie – hy word mos deur die water aangedryf,” sê Stals. As gevolg van al die grondvoorbereidingswerk het hy so ’n bietjie laat geplant, maar hy verwag om nog een snysel tef te oes en dan gaan hy hawer plant.

Stals sê die Rainmaker werk baie logies en eenvoudig en die paar keer wat hy raad nodig gehad het, het hy net vir Jasper Hewitt van Rotrix geskakel. “Hy was tot in die aand bereid om te gesels en te help.”

Een van die uitdagings was die feit dat daar knaend ’n redelike sterk oos-tewind oor die stukkie aarde waai. Die probleem is oorkom deur nog ’n baan vir die spuit windop te maak sodat die wind nou inderwaarheid help om die laaste strook van die tefland te benat.

“Sonder die Rainmaker was ek nêrens,” vertel Stals.

Só werk die Rotrix Rainmaker

Die Rainmaker word aan die een kant van die land staangemaak en sy duursame Oroflex-pyp word na die waterpunt in die middel van die land gesleep. Die staalkabel word uitgerol en aan die oorkant van die land geanker.

‘n Deel van die stroom water word gebruik om met ’n 4 mm-sproeier ’n bakkieskyf aan te dryf, wat deur ’n ratkas en kettingstelsel die staalkabel inkatrol om die hele Rainmaker teen ’n spoed van jou keuse na die oorkant van die land te trek terwyl hy al die pad egalig natmaak.

Die twee verstelbare spuite kan ’n strook van tot 50 meter wyd besproei met ’n aanpasbare druppelgrootte. Die toevoerpunte word normaalweg 36 meter uitmekaar geplaas om behoorlike oorvleueling te verseker.

As jy jou boerdery winsgewend wil maak, praat vandag nog met Jasper Hewitt van Rotrix by 082-773-7544 of 023-342-3438 of stuur ’n epos na jasper@rotrixafrica.co.za. Besoek ook www.rotrixafrica.co.za.

Stals König by sy Rotrix Rainmaker wat hom gehelp het om voltyds te begin boer. “Ek kan nie vir Rotrix en ProAgri genoeg dankie sê vir die wonderlike geleentheid nie,” sê hy.
Stals König by sy Rotrix Rainmaker wat hom gehelp het om voltyds te begin boer. “Ek kan nie vir Rotrix en ProAgri genoeg dankie sê vir
die wonderlike geleentheid nie,” sê hy.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

NAMPO-nuus: Hoe rooier hoe mooier

CLAAS-groen vir plaas-groei