in ,

Wyer en groter werktuie: Is dit beter en goedkoper?

This post is also available in: English

Deur Koos le Roux

In die goeie ou tyd kon ’n boer ’n bestaan maak deur ’n paar honderd hektaar mielies te plant en dit kon hy lag-lag doen met ’n Fordson Bloubottel of twee, twee-, drie- of vierryplantertjies en ’n een- of tweerysleepstropertjie. As hy nog ’n Vaaljapie of ’n Dextatjie bykoop om uit te brei, was daar genoeg werkers, kinders en nefies en niggies wat maar alte bereid was om op ‘n trekkertjie te spring en te help ploeg.

Vandag lyk die boer se situasie heelwat anders. Die ekonomie van skaal het so verander dat ’n boer wat sy bestaan net uit mielies maak verkieslik duisend of meer hektaar moet plant om goed te oorleef. Arbeid is duur en wisselvallig en niemand kan meer so baie kinders bekostig om met die plaaswerk te help nie. Boonop het tegnologie so gevorder dat ’n mens nie iemand na ’n halfuur se opleiding op ’n trekker kan plak en sukses kan verwag nie.

Soos wat plase en boerderye groter word, is dit logieserwys te wagte dat trekkers en werktuie ook groter sal word en dit sien ons daagliks op plase oral in die land. Wyer en groter werktuie het besliste voordele, maar die inwerkingstelling daarvan moet omsigtig beplan word en die boer moet ook onthou dat dit sekere nadele kan inhou. Een van die voordele van groter trekkers en werktuie is die beter benutting van beperkte plant- en stroopvensters, veral vir boere wat in dieselfde jaar ’n mielie- en koringoes op dieselfde land wil behaal. Die een oes moet baie gou gestroop word sodat die planters die volgende gewas baie gou kan plant. Die natuur wag vir niemand nie.

Groter trekkers en minder operateurs beteken vir die boer ook beter benutting van opleiding. Een of twee operateurs kan nou deeglik opgelei en ten volle benut word. Minder, groter werktuie maak die boer se logistiek veel eenvoudiger, makliker en goedkoper. Hy hoef nie nou meer dol rond te ry om te gaan seker maak dat alles reg loop by tien verskillende planters nie, hy hoef nie meer kos en drinkgoed aan te ry na ’n skare werkers op die lande en diesel, saad en kunsmis op ’n groot aantal verskillende punte te voorsien nie.

’n Baie belangrike voordeel van groter, wyer werktuie is dat spoorverkeer op die lande meer sinvol toegepas kan word om produksieverliese deur grondkompaksie wat deur trekkers en werktuie veroorsaak word, drasties te verminder. ’n Veel wyer strook land word bewerk en gestroop met minder wielspore.

Groot spuite met wye balke verseker ook dat peste en plae in jou gewasse vinniger uitgeknikker word sodat hulle minder skade kan aanrig. Versiening en onderhoud aan een of twee groot masjiene is ook makliker, goedkoper en tydbesparender as om ’n magdom kleiner masjiene te versorg. Een van die grootste voordele van  groter en wyer, veral tydens vandag se gevorderde presisieboerderypraktyke, is die uitskakeling van duur duplisering, byvoorbeeld: Met groter werktuie hoef jy net een of twee groot trekkers met GPS toe te rus. Dit sou beslis nie lonend wees om tien kleiner trekkers met hierdie tegnologie toe te rus nie.

Slaggate

Maar groter is darem nie áltyd beter nie. Groot werktuie vereis groot lande. As jou lande nie lank en groot genoeg is nie of as jy tussen kontoerwalle wil werk, moet jy maar eers mooi dink voordat jy reuse trekkers en werktuie aanskaf. Onthou dat so ’n groot werktuig genoeg draaiplek aan die kopkante van jou land nodig het en dink maar daaraan om, indien moontlik, heinings tussen lande te verwyder om lande te verleng, anders sit jy dalk later met meer wenakker as land.

Neem ook voordat jy groter toerusting wil aanskaf die koste in ag om hekke, paaie, brûe en driwwe wyer  te maak en skure en skuurdeure groter om die groter toerusing te huisves. Hou ook die feit in gedagte dat groter, wyer toerusting jou noodsaak om ook ander groter of meer toerusting aan te skaf, soos saadkarre, dalk telehanteerders om massasaad- en kunsmissakke te hanteer en meer of groter tapkarre om te verseker dat daardie groot, wye stroper nooit op ’n tapkar hoef te staan en wag nie.

Een van die belangrikste moontlike nadele van groter toerusting is dat foute jou hele boerdery tot stilstand kan laat knars. As jy net een reuse trekker en planter gebruik en hulle gaan staan as gevolg van een kleinigheid iewers wat gebreek het, dan staan jou hele plantery, terwyl die boer wat tien klein trekkertjies aanhou nog met nege kan aanhou plant. Dit beteken dat groot toerusting baie omsigtig aangekoop moet word en dat die boer moet seker maak hy kry betroubare toerusting met ’n rugsteundiens wat hom in alle omstandighede aan die boer sal hou.

Wyse raad

Die beste raad vir elke boer wat enige meganisasiebesluit moet neem, is om oom Koos le Roux se Meganisasiegids te raadpleeg en as daar dan nog steeds onsekerheid is, om met oom Koos self in verbinding te tree. Reeds meer as vyftig jaar lank reken talle suksesvolle boere op oom Koos en sy Meganisasiegids om suiwer, akkurate, werkbare meganisasiebesluite te neem.

Oom Koos se omskrywing van meganisasiebeplanning is: “Die meganisasiebeplaning van ’n boerdery is om die samestelling van meganisasiegoedere soos trekkers, werktuie en toerusting vir ’n besondere boerdery te bepaal sodat alle meganisasietake betyds, doeltreffend en so ekonomies as moontlik uitgevoer kan word.”

Volgens oom Koos moet enige meganisasiebeplanning aan die hand van sekere riglyne gedoen word, waarvan die belangrikste is dat die regte trekker vir die regte werktuig gebruik moet word om doeltreffend te werk, brandstof te bespaar en breekskade te voorkom. Dit maak waarskynlik ’n groter verskil om die regte kombinasie vir jou grootte grond te hê as om groter toerusting te gebruik.

Meganisasienorme

Oom Koos het nuttige megasisasienorme opgestel na aanleiding van baie meganisasiebeplannings wat deur die jare gedoen is. Dit is praktiese reëls wat aangewend kan word om te toets of bestaande boerdery se meganisasietoerusting voldoende is.

Trekkers:

Hoeveel kW het jou plaas nodig? Die praktiese reël is: Kilowatt per hektaar – 0,5 tot 0,75.

Planters

Die praktiese reël hier is: 90 ha per planteenheid per seisoen vir 0,91 m rye 75 ha per planteenheid per seisoen vir 0,76 m rye 150 ha per planteenheid per seisoen vir 1,5 m rye Byvoorbeeld: As jy 0,91 cm wyd plant, behoort jy met ’n 4-ry planter 360 ha gemaklik te hanteer. Sien

Tabel 1:

Wat interessant is, is dat daar nie baie groot verskil is tussen die koste per hektaar met ’n klein en groot planter nie. Die totale tyd en arbeid wat beskikbaar is vir die plantwerk is natuurlik ook ’n oorweging wat elke boer in sy eie omstandighede in ag moet neem.

Tabel 2 sit die koste per plantereenheid/hektaar uiteen:

Tabel 2

Dit is maklik om teoreties te sit en bespiegel oor groot of klein, maar oom Koos se beplanning maak altyd daarvoor voorsiening dat elke meganisasiebesluit ook koste- en begrotingsgewys uitvoerbaar moet wees.

Ook hier het jare se ervaring ’n norm aan die lig gebring wat ondeurdagte besluite uitskakel: Die totale paaiement wat altesaam aan alle meganisasietoerusting (nuut en oud) betaal moet word, moet aan die plaas se produksiewaarde gekoppel word. Om dit te bepaal moet ’n ordentlike ontleding van die plaas se opbrengsgeskiedenis gemaak te word, en die totale meganisasiepaaiement behoort 8 tot 10% van die geldelike inkomste te wees. As ’n boer by hierdie beginsel bly, behoort sy sake reg te verloop.

Die invloed van produkpryse

Die prys wat die boer vir sy mielies ontvang, beïnvloed die bedrag per hektaar wat aan die aankoop van nuwe toerusting bestee kan word. Dit kan aanvaar word, met die oog altyd op die geldelike posisie, dat ’n goeie riglyn vir hierdie uitgawe tussen 8% en 10% van die gemiddelde randwaarde per hektaar is.

Sien tabel 3.

Tabel 3

Tabel 3

Indien die boer dus 1 000 hektaar mielies plant en die prys van mielies wissel tussen R1 100 en R2 700, is die bedrag wat aan masjinerie bestee kan word 8% = R640 000 tot R1 572 000 en 10% = R800 000 tot R1 965 000

Die noodsaaklikheid van ’n beplande aankoopprogram

Uit die voorafgaande is dit dus duidelik dat die huidige wyse van prysbepaling van mielies (veral) wat binne twee jaar kan wissel van R2 500 tot R1 500 per ton, boere kan verplig om ’n baie meer konserwatiewe aankoopprogram te volg. Dit is dus raadsaam om ’n behoorlike meganisasievervangingsprogram te hê. Hierdie plan moet egter ook buigsaam genoeg wees om aan te pas as ’n besondere jaar dit vereis.

Die lesse wat hieruit te put is, is die volgende:

  • Uitbreiding na groter toerusting moet so geskied dat dit nie die regte kombinasie tussen trekkers en werktuie versteur nie. Dit beteken waarskynlik langsame uitbreiding, indien daarop besluit word.
  • As die boer besluit om oor te skakel na groter, wyer, breër werktuie, behoort hy dit binne die perke van beskikbare kapitaal volgens ‘n feitegegronde plan te doen.
  • Groter ter wille van groter alleen, is geen rede vir groter werktuie nie.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

NAMPO-KOMPETISIE

bokhaar

Bokhaarmark styg