in ,

Wol: Van ’n grot in die Oos-Kaap tot lingerie-modehuise in Europa

Van ver af is die enigste aanduiding van al die skeerbedrywighede in Holkrans op Piet Steyn se plaas by Barkly-Oos, die luide geblêr van skape wat hulle skeerbeurte afwag.

This post is also available in: English

“Die groot Europese wolkopers, hou van my fynwol, want hulle kan dit aan die modehuise in Europa aanbied vir sagte onderklere,” sê Piet Steyn van “The Caves” by Barkly-Oos.

Oom Piet teel en voer sy Rubicon fynwol-Merino’s met die doelwit om wol van 17 mikron en nog fyner te lewer. Hoe fyner en skoner die wol is, hoe hoër is die prys en hoe minder skape hoef aangehou te word in hierdie dae waar reën skaars en voer duur is.

Nog ’n pluspunt wat bydra tot beter pryse, is dat oom Piet se naam onlangs gevoeg is by die lysie van sowat 400 wolboere wat deur BKB hulle oudit vir die internasionale Verantwoordelike Wolstandaard (RWS = Responsible Wool Standard) geslaag het. Al sy goed is nou gereed om die gesogte RWS-stempel op sy wolbale aan te bring.

Dr Anton Botha, wat op kontrak vir BKB die plase in die Oos-Kaap besoek en die oudits uitvoer, sê boere kan tans premies van 10% tot 15% op hulle woltjek verwag as hulle aan die standaard voldoen.

“Een van die dae gaan internasionale wolkopers nie eers meer kyk na wol wat nie die RWS-stempel het nie,” waarsku Anton. Bokhaarboere moet ook voldoen aan die Responsible Mohair Standard (RMS).

Van naderby begin die prentjie van die grot se groot rol in die skaapboerdery ontvou.

Hy sê die standaard gaan oor drie dinge:

1. Hoe jy jou skape versorg: Hier moet die boer rekord hou van voeding, alle gesondheidsprogramme en hantering van siektes en parasiete. Enige voorvalle van diere wat seerkry, soos in die skeerproses, moet aangeteken word, asook die hantering van die voorval.

2. Hoe jy die grond bestuur: Dit gaan oor bewerkingspraktyke vir die vestiging van voer, maar veral die bekamping van oorbeweiding.

3. Werkers en veiligheidsaspekte: Hierdie stel standaarde is onlangs bygevoeg en gaan daaroor dat werkers bewus gemaak moet word van veiligheid en voorkoming van beserings, asook die nakoming van arbeidsregulasies.

Dertig Merino’s word op ’n slag uitgekeer om na die skeerhok te gaan.

Die standaarde is opgestel deur die internasionale bedryfsliggaam, die Textile Exchange, en werk baie soos  die Global Gap-standaarde waaraan groenteboere moet voldoen. Een van die hoofredes is verbruikers se aandrang op naspeurbaarheid van produkte tot op plaasvlak. Anton verduidelik dit so: “Daar is ’n tannie wat ’n trui koop en sy wil weet waar die trui vandaan kom en of die skape wat die wol gegee het gelukkige skape is!”

Rolspelers in die wolbedryf, soos BKB en CMW, staan hulle boere by om al die papierwerk in plek te kry vir die interne en jaarlike oudits. ’n Onafhanklike derde party, in hierdie geval Control Union in die Paarl, besoek ook van tyd tot tyd sekere boere om seker te maak dat alles korrek geskied.

Anton sê baie boere voldoen reeds aan die meeste van die vereistes, maar nou moet hulle net sorg dat dit alles aangeteken word. Boere wat deur die proses is kyk met ander oë na hulle insette en kan beter bestuursbesluite neem. Daarby kry elke boer ’n pragtige sertifikaat wat hy teen sy spogmuur kan hang. Boere kry ook genoeg geleentheid om enige foute reg te stel, so hulle verloor nie dadelik hulle status as iets verkeerd is nie. Anton sê aan die bokhaarkant is daar voorskrifte oor die gebruik van sekere middels, maar aan die skaapkant gaan dit hoofsaaklik oor verantwoordelike bestuur.

Van BKB se boere is sowat ’n duisend reeds geregistreer en 400 is deur die proses wat in 2017 begin is. “Eers was ons net twee wat die hele land platgery het, maar nou is daar darem al elf mense wat die oudits doen,” sê Anton. “Dit is ’n ongelooflike ervaring om te sien wat die boere doen. Elkeen het sy eie tegniek en manier; nie twee boere is dieselfde nie.”

Die dik lêer vol inligting het gesorg dat Piet Steyn sy oudit geslaag het en nou met trots die RWS-stempel op sy bale kan aanbring. Dr Anton Botha, wolstandaardouditeur, en Henri Naudé, plaaslike verteenwoordiger van BKB, by Piet Steyn en skoonseun, Jacques Bekker, in die skeergrot.

Skeerdery in Holkrans

Op oom Piet se plaas is die skeerdery in die reuse grot, bekend as Holkrans, iets om te beleef. Die agste geslag Steyns is tans op die plaas. Oom Piet vertel met smaak hoe sy voorvaders ’n groot klip wat die ingang versper het uitmekaar geskiet het. “Die broer wat die vinnigste kon hardloop moes die lont gaan aansteek het.”

Met die klip uit die pad kon ’n span osse met ’n wa tot binne-in die grot ry en hulle draai maak. ’n Stewige houtstellasie teen die een kant het gesorg vir droë, beskutte pakplek vir voer en skuiling vir die skape. Elke geslag het nog iets bygedra tot die sinvolle gebruik van die grot, soos die moderne skeervloer en hanteringstelsel wat oom Piet gebou het. Dit help die skeerspan van drie om tot 300 skape per dag te skeer! Die klassers moet wikkel om by te hou.

Lieflike, natuurlike Akoestiek maak ook van Holkrans ’n uitstekende konsertsaal. Wêreldbekende kunstenaars, soos die Drakensbergse Seunskoor, het al in die grot opgetree vir oom Piet se tweejaarlikse Kerskonsert waarheen almal in die gemeenskap uitgenooi word. Vir ’n spoggerige boeretroue staan die grot ook glad nie terug nie.

Natuurlik, soos elke bekwame grot in die volksgesiedenis, het Holkrans ook ’n spook …

Die uitsoek en klas van die wol is in alles erns aan die gang met ’n helpende hand van Henri Naudé van BKB. Agter is die skeervloer met drie skeerders gelyk aan die werk. Die skape word van agter af deur die openings gestuur na die skeerders en vorentoe losgelaat om onderdeur die vloer te beweeg en by hulle geskeerde maters aan te sluit.

Een van die pilare van die houtstellasie het knaend skade gekry soos die wa gedraai het en oom Piet se oupa het opdrag gegee dat die natuurlike houtpaal met ’n teerpaal vervang moes word. Met die uitgrou van die oorspronklike paal is daar afgekom op die skelet van ’n Khoi-San wat in ’n hurkende posisie begrawe is. Paleontoloë and ander kundiges is laat kom en uit vrees dat die skelet te veel sou beskadig as daar dieper gegrou word, is net die skedel en ’n deel van die bolyf en arm verwyder vir ontledings.

Elke nag kruip Mahokie uit om na sy kop te soek en elke oggend is die teerpaal los van die stellasie, maak nie saak hoeveel keer dit reggemaak word nie. Oom Piet glimlag: “Hier word nie goed uit die grot gesteel nie …”

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scania help boere in nood

Beskerm jou oes 2: Gebruik die regte spuitpunte