in

Winsgewende skaapboerdery deel 3: Resep vir maksimum wins uit skaapboerdery

This post is also available in: English

Boere wat goeie geld uit skaapboerdery maak het almal een ding gemeen: Hulle volg ՚n holistiese benadering deur wetenskaplikgegronde bestuur-, voeding- en seleksiepraktyke optimaal te integreer. Boere word dus aangeraai om die beste kundiges te raadpleeg om op hoogte te kom van die jongste tegnologiese, asook die mees winsgewende produksiestelsels vir hulle spesifieke omstandighede.

Daar is talle uiters suksesvolle skaapboere wat uitstekend vaar en voortdurend hoë winste genereer.

Verskeie boere, veral in sekere gebiede, is baie skepties oor enige vorm van byvoeding en beskou dit eerstens as ՚n onnodige uitgawe. Tweedens glo hulle dat dit aanleiding sal gee tot die teel van minder geharde en aangepaste skape.

Die teendeel is waar. Daar is boere wat aansienlike bedrae geld aan strategiese byvoeding bestee en ook die hoogste netto wins uit skaapboerdery realiseer.

Veeboerdery is lankal nie meer ՚n kuns soos baie boere dink nie, maar ՚n hoogs tegnologiese en wetenskaplike onderneming (Schiller, 2002). Om maksimum wins te genereer het skaapboere geen ander keuse nie as om die beste kundiges te gebruik om op hoogte te kom van al die jongste tegnologie asook die mees winsgewende produksiestelsels en veesoorte of -rasse vir spesifieke omstandighede.

Boere word ook sterk aangeraai om suksesvolle medeboere te besoek en by hulle te leer wat hulle doen om suksesvol te wees. Hierdie boere het altyd nuwe planne en beter maniere om dinge te doen. ՚n Tipiese kenmerk van boere wat sukkel om wins te maak, is dat hulle nog op dieselfde patroon voortgaan as hulle voorgeslagte.

Volgens Vizard (2002) is die pad na winsgewendheid afhanklik van die kritiese faktore wat winsgewendheid bepaal – die sogenaamde winsdrywers, naamlik:

  • Kilogram lam (afhanklik van speenpersentasie en speenmassa) gespeen per ooi gepaar per jaar of per hektaar;
  • Kilogram wol geproduseer per ooi per jaar of per hektaar;
  • Produksiestelsels;
  • Drakrag;
  • Kuddesamestelling;
  • Produktiewe genotipe (bloedlyn); en
  • Kruisteling.

Lesse van winsgewende Australiese skaapboere

Die top 20% van skaapboere in Australië maak drie keer meer geld as die res. Volgens Vizard moet die boer eerstens weet wat dit kos om ՚n kilogram van ՚n produk soos vleis of wol te produseer, want dit is ՚n uitstekende maatstaf van produksiedoeltreffendheid. Sy resep om meer geld uit skape te maak, is om die koste van die produksie van ՚n kilogram bemarkbare produk te verlaag. Dit moet geskied deur nie noodwendig insetkoste soos voer-, doseer en inentingskoste te verlaag nie, maar deur ՚n groter hoeveelheid bemarkbare produk soos meer en swaarder lammers of fyner en/of meer wol per hektaar te produseer, deur aanpassings in bestuur-, voeding- en telingspraktyke te maak en deur met ՚n meer produktiewe genotipe te boer.

Suid-Afrikaanse boere wat hoë winste genereer

Boere wat hoë winste uit hulle skape genereer, fokus op daardie aspekte (winsdrywers) wat die meeste wins genereer en waaraan hulle iets kan doen. Hulle ignoreer dit waaraan hulle niks kan doen nie.

Hier is die winsdrywers:

  • Bestee gemiddeld 21% van hulle bruto inkomste uit skaapboerdery aan voer.
  • Voeruitgawes beloop gemiddeld 66% van die totale uitgawes.
  • Uitgawes is gemiddeld 33% en die winsmarge 67% van die bruto inkomste.
  • Hulle genereer gemiddeld tot 78% van hulle wolskaapvertakking se inkomste uit vleis en 22% uit wol.
  • Hulle gebruik ՚n doeltreffende weiding- of veldbestuurstelsel. Die belangrikste element van veldbestuur is ՚n konserwatiewe veelading. ՚n Konserwatiewe veelading verseker goeie plantproduksie en volhoubare skaapproduksie.
  • ՚n Ander belangrike element van veldbestuur is die toepassing van ՚n volle groeiseisoenrus.
  • ՚n Groeiseisoenrus verseker die opbou van koolhidraatreserwes in die plantwortels en bevorder groeikrag en veldproduksie na die rusperiode.
  • Die norm is dat nie meer as 3% van volwasse ooie per jaar en 5% van speenooilammers tot eerste paring mag vrek nie. Die strewe is dat die syfer onderskeidelik minder as 1% en 3% behoort te wees. In top kuddes is die syfer onderskeidelik 0,2% en 1,1%.
  • Volledige rekordhouding, dataverwerking en die evaluering daarvan word met behulp van rekenaarprogramme gedoen.
  • Teelramme word aangekoop van telers wat dieselfde teeldoelwitte as die koper het.
  • Ramme word ongeveer vier tot ses weke voor die paarseisoen vir vrugbaarheid, geslagsiektes en dekbehendigheid getoets.
  • Teelramme word vanaf twee maande voor paring geoefen deur hulle twee keer per dag, gedurende die koelste tyd van die dag, vir minstens ՚n halfuur vinnig te laat stap. Terselfdertyd word prikkelvoer teen 500 tot 1 500g/ram/dag gevoer om testesgrootte en spermproduksie te maksimeer.
  • Teelooie word vier tot ses weke voor paring met Multimin gespuit asook met vitamien A en E gedoseer.
  • Poog om teelooie regdeur die jaar in ՚n goeie kondisie te hou.
  • Teelooie word vir nege dae voor paring met koggelramme met ՚n baie hoë libido gekoggel.
  • Jongooie word verkieslik in aparte troppe met ervare ramme gepaar.
  • Ooie word 35 tot 42 dae na die ramme uitgehaal is, afgetas.
  • Sowel strategiese voeding (soos prikkelvoeding, en byvoeding gedurende laatdragtigheid en laktasie) as differensiële voeding (dit is voeding volgens behoefte) word toegepas om maksimum winsgewendheid te verseker.
  • Enige faktore soos hantering, dosering, inenting, skeer, mikskeer, dip, onnodige aanjaag en dies meer wat spanning kan veroorsaak, word gedurende paartyd en die eerste maand nadat die ramme uitgehaal is, vermy.
  • Fetale verliese word bereken as die verskil tussen die getal lammers afgetas in die ooikudde en die werklike getal lammers gebore. Fetale verliese moet minder as 2% en verkieslik minder as 0,5% wees.
  • Hoëdeurvloeiproteienlekke word vanaf vier of ses weke voor lam tot minstens agt weke na lam gevoer.
  • Lekke word teen so peil gevoer dat ooie, afhangend van hulle massa, ouderdom en aantal fetusse 5 tot 15 kg in massa toeneem gedurende laatdragtigheid. Na lam word die voeding so aangepas dat jongooie nie meer as 3% en volwasse ooie nie meer as 7% in massa verloor nie.
  • Hoe beter die voedingspeil gedurende die eerste twee maande van laktasie, hoe hoër is die lampersentasie die daaropvolgende lamseisoen. Lampersentasie kan hierdeur met 25 tot 51 persentasie-eenhede verhoog word. ՚n Hoë voedingspeil gedurende laktasie stimuleer ook melkproduksie wat hoë lamgroei en gevolglik hoë speenmassas tot gevolg het.
  • Lammers word minstens twee, maar verkieslik drie maande, voor die volgende paring gespeen.
  • Daar word toegesien dat speenooilammers vanaf geboorte tot eerste paring nooit massa verloor nie.
  • Boere wat hulle speenooi-lammers vanaf speen tot 30 dae na eerste paring byvoeding gee, behaal die hoogste lampersentasie (Fourie, 2007).
  • Om ՚n hoë lampersentasie te verseker, sorg hulle dat jongooie ook nie tussen ses en vier maande voor paring massa verloor nie en dat hulle ՚n kritieke liggaamsmassa van minstens 80% op 10 tot 12 maande en 90% van volwasse massa met eerste paring op 15 tot 18 maande bereik.
  • Met seleksie van vervangingsooie speel sentiment hoegenaamd nie ՚n rol nie.
  • Met speen word plus-minus 15 tot 20% van die kleinste en swakste lammers geprul en soveel ooilammers as moontlik word vir paring gehou.
  • Voor eerste paring word slegs die jongooie met ernstige prulfoute uitgeskot. Soveel jongooie as moontlik word dus gepaar en dan 42 dae na die dekseisoen afgetas. Alle jongooie wat oorslaan, asook almal wat gelam het, maar geen lammers speen nie, word summier uitgeskot en nie vir verdere teling gebruik nie.
  • Indien alles moontlik gedoen is om die lampersentasie te verhoog en dit nog steeds te laag is, moet daar van die bloedlyn (ramteler) verander word. (Vizard, 2002).

ProAgri bedank ՚n legende in die landboubedryf, dr Jasper Coetzee, wat sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het. Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Voet in die hoek met die nuwe Nissan Navara L

Toyota SA/Agri SA se Jongboer van die Jaar-wenner