in ,

Winsgewende skaapboerdery -Deel 2: Beplan en bestuur vir hoër winste

This post is also available in: English

Veeboerdery is lankal nie meer ՚n kuns soos baie boere dink nie, maar ՚n hoogs tegnologiese en wetenskaplike sake-onderneming (Schiller, 2002).

Om maksimum wins te genereer, het veeboere geen ander keuse nie as om die beste kundiges te gebruik om op hoogte te kom van die nuutste tegnologie, asook die mees winsgewende produksiestelsels en die optimum kombinasie tussen veesoorte (byvoorbeeld skape, beeste en bokke) vir spesifieke omstandighede.

Om die hoogste produksie te behaal, is dit belangrik om die regte bestuurspraktyke toe te pas. Boere skram soms weg van die regte ding om te doen as gevolg van die koste, maar verloor dan omdat produksiedoeltreffendheid ingeboet word.

Strategiese voeding op die korrekte tyd sal altyd kostedoeltreffend wees en die winsgewendheid van die Boerdery verbeter.

Teikendoelwitte:

Australiese leierboere gebruik sleutelwinsdrywers (key profit drivers) soos kilogram vleis of wol geproduseer per hektaar, asook die koste om 1 kg daarvan te produseer, om hulle veeboerdery meer winsgewend te maak. Skaapboere word sterk aangeraai om hulle kuddes se prestasie met die beste kuddes – die wat die hoogste wins genereer – te vergelyk.

Volgens dr Buks Olivier (2000) is dit kortsigtig om onvoorwaardelik vir meerlinge te selekteer sonder om indiwiduele speenmassa in ag te neem, aangesien dit in minder gunstige omgewings tot swak oorlewing en lae speenmassa kan lei. Sy aanbeveling is dat die seleksiedoelwit moet wees om die totale massa lam gespeen per ooi gepaar per jaar te verhoog, omdat dit deur werpselgrootte, moedereienskappe, melkproduksie van die ooi en die groeipotensiaal van die lam bepaal word.

Hierdie seleksiemaatstaf is egter nie prakties vir kommersiële boere wat nie van oueridentifikasie gebruik maak nie. As alternatief kan hulle die soog- en -droogtetegniek gebruik om produktiewe teelooie te selekteer wat minstens een lam suksesvol grootmaak.

Strategiese byvoedingsprogram:

Om ՚n pryspremie te verdien, moet die uiteindelike doelwit van veeboerdery wees om maksimum vleis en wol van hoogstaande gehalte teen die laagste moontlike koste vir ՚n spesifieke omgewing per hektaar te produseer. Daar is heelwat boere, veral in sekere gebiede, wat baie skepties is oor enige vorm van byvoeding. Hulle beskou dit eerstens as ՚n onnodige uitgawe en glo tweedens dat dit sal lei tot die teel van minder geharde en swakker aangepaste skape.

Strategiese byvoeding is toelaatbaar, solank dit die boer help om meer geld te maak. In hierdie verband is dit baie belangrik dat die regte lekke op die regte tyd (byvoorbeeld prikkelvoeding laatdragtigheid en laktasie) gevoer word, want dit kan ՚n groot bydrae lewer om die winsgewendheid van veeboerdery te verbeter.

Seleksie- en telingspraktyke

Seleksie- en telingspraktyke moet enersyds daarop konsentreer om die produksie en reproduksie in die huidige, maar ook in die toekomstige, kudde te verhoog. Deel van hierdie strategie moet wees om onproduktiewe diere (die wat nie dragtig raak nie, asook die wat kalf of lam, maar nie nageslag speen nie) summier en voortdurend uit te skakel.

Volgens Tino Herselman van Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut, verkeer baie skaapboere onder die indruk dat skape met ՚n groot bouvorm ook die is wat die meeste geld genereer. Dit is egter nie noodwendig die geval nie, aangesien dit ՚n bewese feit is dat groter diere ՚n hoër voedingsbehoefte as kleiner diere het. Volgens dr Buks Olivier moet groter diere iets teruggee in die vorm van meer lammers,meer wol en vinniger markgereedheid om te vergoed vir die meer kos wat hulle vreet. Volgens hom behoort die doel eerder te wees om die mees doeltreffende diere, ongeag hulle grootte, te identifiseer en met hulle te boer.

Die voorgenoemnde praktyke – weidingsbestuurstelsel, algemene bestuurspraktyke, byvoedingsprogramme, seleksie- en telingspraktyke, finansiële bestuur – moet nie in isolasie van mekaar beskou word nie, maar eerder as ՚n eenheid.

Boere word versoek om die beste kundiges in die verband te raadpleeg om op hoogte te kom van die jongste tegnologie, asook die mees winsgewende produksiestelsels vir hulle besondere omstandighede.

ProAgri bedank ՚n legende in die landboubedryf, dr Jasper Coetzee, wat sy Handleiding vir winsgewende skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het. Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir winsgewende skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Grootste alternatiewe-energie-en-selfstandigheidekspo in die land: KragDag gaan van krag tot krag

90% kans vir ‘n La Nina-verskynsel