in ,

Wildboere: Boer vir die toekoms

This post is also available in: English

deur dr Gerhard H Verdoorn

Daar is vandag meer wild in Suid-Afrika as 100 jaar gelede. Dít word grotendeels aan goeie bewaringspraktyke, wat SANParke, provinsiale bewaringsowerhede en private grondeienaars oor baie jare heen toegepas het, toegeskryf.

’n Beduidende deel van die land se wild word op private wildreservate, wildplase of gemengdeboerderyplase gehuisves en hoewel daardie wild vrylopend is, is daar uitdagings as gevolg van hulle inperking binne bepaalde grense. Een van die grootste uitdagings is die handhawing van ’n gebalanseerde ekologie in ’n klein gebied waar die uitwerking van weersomstandighede, beweiding en menslike bedrywighede baie meer prominent as in ’n wildernisgebied is.

Voedsel, water, skuilplek, rusplek, teelplek en ontvlugtingsgebiede is vir alle wilde diere van belang om gesonde bevolkings te handhaaf. Kos kan op die oog af genoegsaam en baie goed lyk, maar op mikroskopiese en mineraalvlak mag dit heeltemal ontoereikend vir die wild wees. Vir ‘n ernstige wildboer is dit die moeite werd om sy grond en plantegroei chemies te laat ontleed om vas te stel of die minerale en die voedingswaarde van plante voldoende is om gesonde wildkuddes te handhaaf.

Veeboere verskaf meestal byvoeding vir hulle vee en daar is dus ’n parallelle situasie vir wildeienaars wat ernstig is oor die gesondheid van hulle wild. Verskeie voermaatskappye het spesiale lekblokke vir wild wat saam met gewone sout as byvoeding aangebied kan word. Dit mag miskien ook nodig wees om minerale aan te vul, afhangende van wat die chemiese ontledings van grond en water aandui. Sommige elemente en minerale soos koper, fosfaat, kalsium, chroom, magnesium en fluoor mag òf genoegsaam, òf te min, òf selfs in oormaat beskikbaar wees, afhangende van die grond, en dít kan dramatiese uitwerkings op die gesondheid van diere hê. Mineraal- en elementwanbalanse kan met byvoedings reggestel word vir meer gesonde en produktiewe wildkuddes.

’n Wildeienaar se ergste vrees is die  periodieke droogtes wat alle dele van Suid-Afrika gereeld lamlê; dit kan ’n vernietigende uitwerking op die wildstapel hê. Daar is dan groot mededinging vir beskikbare droëvoer en dit kos meestal ’n klein fortuin om wild te voer.

Grasse soos tef en buffelgras wat as droëvoer aangebied word, kan die wild deur die droogte dra, maar byvoeding is nodig – dit mag selfs nodig wees om die droëvoer chemies te behandel om dit meer verteerbaar vir wild te maak. Boere moet in sulke tye versigtig met byvoedings en lekke omgaan, omdat te veel daarvan die wild se rumens mag benadeel. Vra by die voermaatskappye raad oor die beste gebalanseerde voedingsprogram.

Waar die tannienvlakke in sommige boomsoorte die plante se benutbaarheid so te sê kanselleer, kan ’n produk soos BrowsePlus by drinkwater gevoeg word om wild te help om die tannien teen te werk en die plante se beskikbare voedingstowwe te kan benut. Tannienbestuur raak veral belangrik wanneer die veld verdroog en plante begin gespanne raak.

Op plase waar oorbeweiding in die ou dae die plantgemeenskap versteur het, kan die veld weer met die korrekte benadering herstel word. Daar is gelukkig maatskappye wat saadmengsels van inheemse grassoorte vir verskillende habitats kan saamstel. Dit word dan gesaai om die veld te herstel. Hoewel die aanvanklike insetkoste hoog mag wees, is die waarde van sulke grasse wat as natuurlike kos vir wild dien, onberekenbaar.

Dit sal desnoods vereis dat sulke hervestigingsgebiede toegekamp word om die gras kans te gee om goed gevestig te raak. Miskien is die heel beste vertrekpunt vir gesonde wildvoeding om die ekologie volhoubaar te bestuur. Moenie die plaas met wild oorlaai nie; effens onder die drakrag is beter as om meer as die drakrag te benut. As die tekens van droogte begin dreig, verminder die wildgetalle, sodat hulle nie hulleself uit die plaas uit vreet nie.

Vermy ook die aanhou van spesies wat nie natuurlik in die ekostreek voorkom nie, want hulle gaan gewoonlik die meeste onderhoud verg. Hou jou oog op indringers soos sekelbos, swarthaak, wilderosyntjiebos, taaibos en driedoring, wat veld onbenutbaar vir wild en vee mag maak. Dun uit waar dit nodig mag raak en gebruik onkruiddoders met groot omsigtigheid en volgens die voorskrifte op die etiket, sodat die plantgemeenskap voordeel daaruit trek en nie benadeel word as gevolg van lang nawerking nie.

Oor teel en seleksie kan ’n mens baie kwytraak en maklik op tone trap. My persoonlike filosofie is om nie met seleksie en teel in te meng nie en die natuur sy gang te laat gaan. Daar is deesdae soveel kleurvariasies in wildsbokke dat geen mens kan uitmaak wie is wat nie. Kleurvariasies kom wel in die natuur voor, soos swart springbokke, maar dit is ’n bitter klein persentasie van die bevolking. As daar dan met die kleurvariasie geteel word, word die genepoel verklein en staan sulke diere ’n baie groter kans om onder omgewingsdruk soos droogtes, koue, parasiete en siektes te ly.

Vir die wildboer wat ’n gemaklike wildboerdery met die minimum insette en moeite wil bedryf, is ’n wildkudde met diverse gene ’n voorvereiste. Dit beteken dat die genepoel gereeld met ander diere aangevul moet word. Genetiese diversiteit kan maklik  vasgestel word deur monsters van diere wat gejag word, te neem en dit te laat ontleed. Laboratoriums kan deesdae baie vinnig vir ’n boer aandui  wat die inteelindeks in ’n spesie is en sodoende aanbeveel of dit wel nodig is om ander diere in te bring om die diversiteit uit te brei.

’n Troppie rooibokke wat blinkboud in die son staan, is ’n estetiese en geldelike aanwins vir die boer. Dié droom kan vir elke wildboer waar word as die habitat korrek bestuur word, die wild gebalanseerde kos met die nodige aanvullings kry en die genetiese diversiteit so ver as moontlik gehandhaaf word.

Vir meer inligting, skakel dr Gerhard H Verdoorn van die Griffon Gifinligtingsentrum en CropLife Suid-Afrika by 082-446-8946 of stuur ’n e-posna nesher@tiscali.co.za.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Bloubessieboerdery groei sterk in SA

mielies

NWK en produsente takel honger tydens inperking