in ,

Wat sê die wet oor water?

This post is also available in: English

deur Hennie Schoeman, waterregkonsultant

“Dam” is ’n kort woordjie, maar BOU hom, het die oumense gesê. Maar deesdae is dit nie net die konstruksie van ’n dam wat ’n moeilike saak is nie – dit is ook die verkryging van vergunning en die wetsbepalings waaraan voldoen moet word.

’n Dam is ingevolge die Nasionale Waterwet ’n watergebruik (die opgaar van water). Dit is dus aan die bepalings van die Waterwet onderhewig en mag nie sonder die nodige magtiging gebou word nie.

Die eerste moontlike magtiging lê in die sogenaamde Algemene Vergunnings. Die jongste Algemene Vergunning is in die Staatskoerant van 2 September 2016 gepubliseer. Dit geld vir die volgende twintig jaar, dit wil sê tot September 2036.

Die Algemene Vergunning is gebiedsgebonde en geld slegs vir damme wat buite die bedding van ’n waterstroom of rivier geleë is. So ’n dam moet ook ’n uitlaat hê waarmee die dam binne 30 dae heeltemal leeggemaak kan word. Die maksimum volume wat in die Vrystaat-gebied deur die Algemene Vergunning toegelaat word, is 2 000 kubieke meter. Dit is maar bra min water (minder as helfte van ’n normale leidam), maar laat redelike groot ronde damme, soos sinkdamme, sementdamme en gronddamme toe (met deursnitte van tussen 35 meter en 40 meter vir damme met ’n diepte van 2 meter en 1,5 meter onderskeidelik).

Daar is geen onderskeid tussen damme wat met verskillende materiale gebou word nie. Die tweede moontlikheid as jy ’n dam wil bou wat groter is as waarvoor die Algemene Vergunning voorsiening maak, of ’n dam binne ’n waterstroom, dan moet aansoek om ’n lisensie gedoen word. Hierdie is ’n baie meer omvattende proses en dit word aanbeveel dat jy die naaste kantoor van die Departement van Water en Sanitasie nader vir bystand met die lisensie-aansoek.

Sou die totale opgaarvermoë van die beoogde dam groter as 50 000 kubieke meter en die wal hoër as 5 meter wees, is die dam ook onderhewig aan die regulasies vir Damveiligheid. Afhangende van die veiligheidsrisiko van die dam, word dit deur die Departement geklassifiseer as een van drie tipes risiko. Elke tipe risiko het sy eie vereistes in verband met ontwerpvereistes en inspeksies.

Weer word aanbeveel dat jy met die Departement skakel as daar enige moontlikheid van ’n oorskryding van die perke is. Om seker te maak dat aan alle wetlike vereistes voldoen word, moet ook in ag geneem word dat die bou van ’n dam, veral binne ’n waterstroom, bes moontlik ook aan sekere bepalings van Omgewingswetgewing onderhewig kan wees. Die Departement van Water en Sanitasie sal jou hieroor kan raad gee.

Die eerste stap met die bou van ’n nuwe dam is om die nodige magtiging te kry.

Mag ek ’n dam gebruik vir besproeiing?

Ja, jy mag ’n dam gebruik om uit te besproei, MAAR, onthou dat besproeiing (die neem van water) ’n afsonderlike watergebruik is! Daarvoor moet daar ook ’n magtiging verkry word. Soos in die geval van opgaar, geld hier ook ’n Algemene Magtiging wat besproeiing van 2 000 kubieke meter water per jaar toelaat.

As jy reeds bestaande wettige besproeiing het, mag jy die dam gebruik om daardie volume water wat reeds as bestaande wettige gebruik verklaar is, uit die dam te besproei. As dit ’n nuwe gebruik vir besproeiing is en die volume groter as 2 000 kubieke meter per jaar is, moet om ’n lisensie daarvoor aansoek gedoen word by die Departement van Water en Sanitasie.

Damme mag gebruik word vir besproeiing, mits die nodige permitte daarvoor gereël is.

Mag ek ’n dam wat gebreek het, herstel?

Ja, ’n gebreekte dam mag herstel word. Die voorwaarde is egter dat die kapasiteit van die dam nie vergroot mag word nie. Die voetspoor van die konstruksiewerk mag ook nie die oorspronklike voetspoor oorskry nie. Sou dit nodig wees om die voetspoor te verander (byvoorbeeld die wal wyer te maak of om nuwe flankmure te bou), is toestemming van Omgewingsake normaalweg nodig.

Hoe groot moet ek ’n dam bou?

Hierdie is ’n baie belangrike vraag. Wat help dit ’n mens jy bou ’n dam, maar die afloop na daardie dam is nie voldoende om genoeg water vir jou besproeiing te lewer nie?

Die afloop na ’n dam hang af van die grootte van die opvanggebied wat tot by die dam dreineer. Die hoeveelheid water wat afl oop, hang ook baie nou saam met die reënval oor die opvanggebied. As ’n breë riglyn kan aanvaar word dat ongeveer 25 ha opvanggebied nodig is vir elke hektaar wat jy uit die dam wil besproei. Sou ’n mens dus sowat 8 ha uit die dam wil besproei, moet die dam ’n opvanggebied van ongeveer 200 ha hê.

Die kapasiteit van die dam moet so ongeveer 25% groter wees as die afloop uit die opvanggebied. In ons voorbeeld van 8 ha besproeiing en ’n 200 ha opvanggebied, is die besproeiing wat nodig is, ongeveer 32 000 kubieke meter per jaar. Hiervoor moet die dam dus ongeveer 40 000 kubieke meter water kan hou.

Dit is baie belangrik dat, wanneer ’n boer ’n dam wil bou, behoorlike magtiging daarvoor gekry moet word. Die eerste wegspring is altyd die Departement van Water en Sanitasie. Die Departement is goed toegerus om behoorlike leiding in hierdie verband te gee. Vir kontakinligting, kyk op die webwerf www.dwa.gov.za/contactRegions.aspx.

In sommige gevalle mag dit nodig wees dat u van kundige advies en leiding gebruik moet maak. ’n Dam is ’n duur ding. Onthou dat die geld wat u aan ’n kundige betaal, die goedkoopste deel van die koste van die dam is. Sonder kundige insette mag u dalk eindig met ’n ondoeltreff ende dam wat boonop onwettig mag wees!

Skakel Hennie gerus as u enige verdere navrae het by hennie@landuse.co.za, of besoek die webwerf www.landuse.co.za. Hennie Schoeman is ’n afgetrede ingenieur wat spesialiseer in waterregte. Hy bied graag sy kundigheid aan boere om te help met die aansoekproses om die nodige permitte.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

reinke

Reinke doen wat geen ander spilpunt kan nie

Die MPO se 2020-visie