in

Waarom kuilvoer ‘n saak van erns moet wees

This post is also available in: English

Deur Gerhard Diedericks, Hoof: Santam Landbou

Wêreldwyd raak ons toenemend bewus van wat ons eet. Ons bepleit dat plaasdiere eties geteel en natuurlik gevoer moet word. Kuilvoerproduksie – ‘n baie ou landboupraktyk – is nie net die mees kostedoeltreffende manier vir boere, in veral gebiede met seisoensreënval, om te verseker dat hulle diere die hele jaar deur hoë-energie-, voedsame voer het nie, maar dit het ook ‘n kritieke komponent van die landboubedryf geword.

Die belangrikheid daarvan het aanleiding gegee tot die jaarlikse Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie.

Die kompetisie, wat nou vir die sesde keer aangebied word, dien as maatstaf vir die bedryf en bevorder voer van beter gehalte – én melk- en vleisproduksie – wat tot voordeel van die hele landbouwaardeketting is.

As Santam – Suid-Afrika se grootste algemene versekeraar – is ons trots om die hoofborg te wees van die kompetisie waarin boere om die titel van topkuilvoerprodusent meeding. Dit is belangrik om daarop te let dat die data wat versamel word ‘n metingstandaard vir boere stel en noodsaaklike insig bied in hoe om produksie te verbeter.

Deur die doeltreffendheid van die jaarlikse geraamde kuilvoerproduksie van 9 miljoen ton met net 3% te verbeter, sit ons ongeveer R130-miljoen in verbeterde melk- en vleisproduksie in boere se sakke, teen dieselfde produksiekoste. Die landbouwaardeketting in die geheel trek voordeel hieruit deur hoër verkope.

Dit is tot voordeel van alle Suid-Afrikaners, omdat hoe meer kostedoeltreffend boere kan boer, hoe meer volhoubaar en mededingend word hul produkte.

In ‘n neutedop is kuilvoerproduksie ‘n omgewingsvolhoubare praktyk wat die fermentasie van voergewasse behels. Dit is vir die eerste keer in ongeveer 10 000 v.C. gedokumenteer. Dit is die proses waardeur gewasse soos mielies, hawer of sorghum geoes word wanneer dit nog groen is, in ‘n sak of bunker geplaas word, saamgepers en die suurstof verwyder word, en dan bedek word sodat fermentasie kan plaasvind. Die idee is om in tye van volop reën te oes, en dan gedurende die res van die jaar en in tye van droogte voerreserwes te hê aangesien kuilvoer vir tot 10 jaar of langer geberg kan word.

Beheer oor die hoeveelheid en die gehalte van kuilvoer bied boere ‘n manier om te verseker dat herkouende diere optimale kuilvoer het. ‘n Herkouer is ‘n dier soos ‘n koei of skaap wat ‘n spesiale maag het om voedingstowwe, deur fermentasie, uit plantgebaseerde voer te ekstraheer. Vir herkouers is kuilvoer baie lekker en hulle is geneig om dit bo hooi te verkies.

Die drie soorte kuilvoer wat in die kompetisie beoordeel word – mielie-, voersorghum- en hawerkuilvoer – het verskillende funksies. Mielies is die belangrikste kuilvoergewas in Suid-Afrika en baie ander lande en het die hoogste gehalte en opbrengs. Voersorghum is droogtebestand, dus is die gevaar van oesmislukking minder, maar die energiewaarde daarvan is laer. Hawer is goed vir ‘n winterreënvalstreek soos die Wes-Kaap van Suid-Afrika, waar boere reënvalpatrone volg.


Hierdie soorte kuilvoer is ook geskik vir verskillende diere. Koeie wat melk van ‘n hoë gehalte produseer, het byvoorbeeld hoë-energiekuilvoer nodig, omdat ‘n gewas met ‘n hoër veselinhoud wat minder verteerbaar is, minder proteïen en/of minder energie bevat haar melkproduksievlakke sal verlaag. Alhoewel kuilvoer maar net een deel van ‘n dier se dieet uitmaak, is dit ‘n baie belangrike deel.

Die beoordelaars van die kompetisie het gevind dat kuilvoer sommige boere gehelp het om uiters moeilike finansiële jare te oorleef. Deur kuilvoer van goeie gehalte te produseer, bespaar boere onkoste omdat hulle self die voedingstowwe kweek wat nodig is om hul diere te voer. Dit het ‘n impak op die winsgewendheid van die plaas omdat boere nie soveel voer – wat ook van ‘n swakker gehalte as kuilvoer kan wees – hoef te koop nie.

Afgesien van finansiële volhoubaarheid is kuilvoerproduksie ook omgewingsvolhoubaar – iets waarvan verbruikers toenemend bewus word namate bewustheid van klimaatsverandering toeneem. Dink aan boere met weivelde in die Oos-Kaap wat oortollige gras gebruik om kuilvoer te maak. Dit is ‘n baie natuurlike en ou proses, waar jy niks tot die voer hoef toe te voeg nie behalwe melksuurbakterieë, wat 100% natuurlik is.

Ten slotte is kuilvoer ‘n manier waarop boere beheer oor hul eie risikobestuur oorneem, vir jare met laer reënval beplan, en verseker dat hul diere die beste moontlike dieet het. Hierdie kompetisie gaan oor die skep van groter bewustheid van die belangrikheid van hierdie baie ou kuns, veral vir Suid-Afrikaners wat toenemend bewus word van waar hulle voedsel vandaan kom.

Bron: Santam

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Trekkerverkope daal met 22% in 2019

isuzu

Bold Isuzu D-Max X-Rider Black steps out of the shadows