in

VW ARTEON: Meer as net ‘n visuele treffer

This post is also available in: English

Deur DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive

In Suid-Afrika glimlag VW se base breed, want die VW Golf, Polo en Polo Vivo domineer hulle onderskeie marksegmente met verkope. Die Amarok bakkie en selfs die Tiguan en Toureg  sportsnutse groei ook in  gewildheid.  Uitstekende bougehalte en meganika maak dat kopers bereid is om die pryspremie teenoor goedkoper mededingers te betaal. ‘n Verdere bonus is dat goeie inruilwaardes die VeeDub’s ook goeie waarde vir geld maak.

Juis daarom is dit vreemd  dat VW se groter sedanmotors soos die Jetta en Passat nie werklik byval onder VW kopers vind nie. Sedert die Passat se plaaslike bekendstelling byna 20 jaar gelede, het dit maar drup-drup verkoop in vergeleke met die verkope van die gewilde Duitse trio die A4 Audi, C-Klas Mercedes en BMW se uiters gewilde 3-reeks sedanmotors. Die groot teleurstelling by VW plaaslik was egter die swak verkope van die pragtige CC-model, ‘n  4-deur Passat koepee en een van ons gunsteling VW modelle tot datum.

Die nuwe Arteon, wat onlangs in SA bekendgestel is,  vervang in werklikheid die Passat en CC in Suid-Afrika, alhoewel VW se bemarkingsmense dit nie eintlik so wil stel nie. Hierdie keer hoop VW egter om ‘n ander tipe kliёnt nader te hark. Kopers wie eerder ‘n toermotor oftewel ”Grand Tourer” sal koop.

Ontwerp

Tydens die bekendstelling  het Stefan Bührmann, produk- en bemarkingsdirekteur van VW SA, verduidelik waarom die nuweling die vreemde naam “Arteon” moet dra. Volgens hom is dit afgelei van VW se vorige pogings om weeldesedans te bou, soos die groot Phaeton van ‘n paar jaar gelede (wat nie die mas kon opkom nie) en ook die VW Phideon,  VW se luukse vlagskipmodel in China. Die Arteon se eerste “Art” gedeelte in die naam sinspeel op die ontwerpfilosofie waar “arte” die emosie en harmonie in die 5 deur luikrugkoepee se stilering uitbeeld . Die eindlettergreep “eon” of  “on” in Arteon indentifiseer dit weer as ‘n weelde/luukse model. Volgens Klaus Bischoff, Volkswagen se hoofontwerper is dit “die begin van ‘n nuwe ontwerpersera” vir  produkte uit Wolfsburg. Die Arteon is gebou op ‘n weergawe van die VW groep se gewilde MQB platform, dieselfde platform wat gebruik word vir ‘n rits van VW se nuwe generasie modelle, waaronder die huidige Tiguan, Passat, Golf en Polo.

Die Arteon is egter die grootste en langste (4,8 meter!) model ooit in die VW stal wat op die MQB platvorm gebou is. Die neus is egter opsigtelik kort, grootliks danksy die enjin wat dwars gemonteer is.

Met ‘n breë plat neus wat laag oor die grond buig en LED ligte wat in die sierrooster geïntegreer is, kan die sportiwiteit in die ontwerp nie misgekyk word nie. Verder beklemtoon die baie skuins helling van die voorruit, relatiewe lae dak met ‘n gebuigde kurwe agtertoe en die agtervenster wat so skuins en ver na agter as moontlik geplaas is, die sportiewe koepee ontwerp. Ook die raamlose kantvensters en wye wielboë aksentueer die sportiewe eienskappe van die Arteon. Dit is duidelik dat die ontwerper doelbewus die Arteon se 4- deur sedanmotor beeld wou verdoesel. Die resultaat is ‘n motor wat aandag trek. Terwyl die Arteon in die segment meeding met die Audi A5 Sportback en BMW 4-reeks Gran Coupe, is dit in lengte soortgelyk aan die groter en veel duurder Audi A7 en BeeEm se 6 GT.

Kajuit en toerusting

Die nuwer generasie Audi kajuite is my gunsteling plekke om in te wees as ek kan kies, maar die Arteon speel nou in dieselfde liga. Die kajuit is luuks, ergonomies uitstekend ontwerp, weelderig toegerus en afgewerk met materiale van hoogstaande gehalte. Danksy die lang asafstand is beenruimte voor en agter klasleidend. Die sitplekke sit diep in die kajuit wat kopruimte verbasend goed maak self vir die langerate onder ons, dit ten spyte van ‘n laagswiepende koepee dakontwerp.

Toerustingvlakke word deur die afwerkingpakket van die model bepaal met ‘n keuse tussen Elegance en R-Line. Beide modelle is egter met gerieflike titaniumswart leersitplekke toegerus.

Volkswagen se jongste  “Composition Media infotainment”-stelsel is beskikbaar op ‘n 6,5 of 9,2 duim  kleur raakskerm wat middel bo in die voorpaneel gemonteer is. Alle media-, klank-, kommunikasie- en ritinligting is hierop te kry, asook die kamerabeelde wanneer geparkeer word.

Die opsionele “Discover Pro” stelsel sluit ondermeer navigasie en 360˚ kamerabeelde in. Volkswagen se digitale instrumentasie stelsel (soortgelyk aan Audi se “Digital Cockpit”) asook die kamerabeelde in die windskerm (heads-up display) is standaard ingesluit met die R-Line modelle. Die kajuit sal vyf volwasse insittendes met gemak en in heerlike weelde akkommodeer , terwyl die bagasieruim ‘n tamaai 563 liter se bagasie kan insluk.

R-Line modelle kry ook ligte wat aangaan as jy draai, ‘n sleepstang wat elektries onder die bak in- en uitvou,  masseerfunksie vir die bestuurdersitplek, ‘n  panoramiese glasdak asook aanpasbare spoedbeheer (opsioneel in Elegance afwerking). Sleutellose toegang/aanskakel  en 3-sone klimaatbeheer is standaard beskikbaar vir beide afwerkingsvlakke.

Enjins en rit

VWSA het die nuwe Arteon met slegs twee viersilinder enjin opsies beskikbaar gestel, naamlik ‘n 2,0 liter turbodiesel en ‘n 2,0 liter turbopetrol. Die diesel is ‘n verrigtingsenjin soos wat in die huidige Golf GTD model gebruik word en lewer 130 kW en 350 Nm se piek verrigting. Aandrywing op die dieselmodel is slegs na die voorwiele met behulp van ‘n 6-spoed DSG ratkas. Tydens ons bekendstellingsrit het die gladde kraglewering teen lae toere ons beїndruk en is heerlik gemaklik in stadsverkeer. Brandstofverbruik word amptelik aangegee as 5,6l/100 km.

Die 2.0 liter turbopetrol enjin is egter heelwat lewendiger. Die enjin, soortgelyk soos wat tans diens doen in die vuurwarm Golf R, lewer 206 kW en 350 Nm teen piek toere. Aandrywing is met VW se 4Motion vierwielaandrywing na al vier wiele deur middel van ‘n nuwe generasie 7-spoed DSG ratkas.

Volkswagen het egter die enjin se blikbrein ingestel op krag en gladde kraglewering eerder as die rou sportiwiteit van die Golf 7 se verrigting.

Ons het die 2.0 petrol modelin R-Line gewaad om die Zwartkops renbaan gaan looi en was verras met die uitstekende onderstel en veerstelsel. Bykans geen bakrol was te bespeur terwyl ons die groot weeldewa platvoet deur die draaie gejaag het nie. Die groot 20” wiele (opsioneel ekstra want 19”duimers is standaard op die R-Line) het uitstekend geklou met die remme wat  ook beїndruk het wanneer ons draai na draai teen volspoed hard op die remme moes gaan staan! Amptelik neem die 0-100 km lopie ‘n blitsige 5,6 sekondes met ‘n topspoed wat op 250 kpu beperk word. Glad nie sleg vir so ‘n groot wa nie!

Opsomming

Die vraag bly. Gaan die Arteon plaaslik goed verkoop? Die geskiedenis wys dat selfs Gran Coupe motors verkoop nie te waffers nie. Verder is die D-segment sedanmotors by Suid-Afrikaanse motorkopers omtrent so gewild soos Donald in Noord-Korea. Die Passat, Hyundai Sonata, Ford Fusion, Kia Optima het saam met die sonsondergang weggery. Volkswagen se ghoeroes hoop egter dat die Arteon ‘n aspirasiemodel vir huidige Volkswagen eienaars sal wees. Dat hul daarvan droom om die Golf eendag te gaan inruil vir ‘n weelderige Arteon wanneer die skippie uiteindelik kom of die Lottokaartjie se ses nommers in die kol is. Die VW Arteon is ‘n pragtige wa wat koppe laat draai, maar so ook was die CC.

Pryse

Volkswagen Arteon Reeks

2.0 TDI 130 kW Elegance DSG R 599 900
2.0 TDI 130 kW R-Line DSGR 649 900
2.0 TSI 206 kW R-Line 4MOTION DSG R 699 900
 
  • Skrywer is ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Dom Boer se (flou) lag vir die dag:

Nuwe NISSAN MICRA kry lyf