in

Vul jou lewe met voëlgesang… in ‘n boek!

Wedstryd! Wen die boek.

This post is also available in: English

Jy hoef nie ‘n gesoute voëlkyker te wees om hierdie pragpublikasie van Briza Publikasies te geniet nie. Slim tegnologie maak dit moontlik om saam met die skitterende foto’s van Suid-Afrika se wye reeks voëlspesies ook te luister hoe hulle sing!

Die publikasie, Sappi Voëls van Suid-Afrika, saamgestel deur Saartjie Kidson en Herman van Niekerk, (ISBN 978-1-920217-32-7) se vyfde druk het onlangs verskyn en is ‘n MOET op die koffietafel van enigeen wat die land se voëllewe waardeer.

Saam met die elektroniese klankleser wat soos ‘n klein wonderwerkie elke voël se geroep uit sy foto optower, sal die boek ure se ononderbroke genot verseker.

Dit is werklik ‘n omvattende werk met volledige spesiebeskrywings en agtergrondinligting oor die wonderwêreld van voëls. Die voëls is in vier hoofgroepe verdeel:

  • Water- en vleilandvoëls
  • Bos- en boomlandskapvoëls
  • Roofvoëls en aasvreters
  • Veldlandskapvoëls

Met die maklik verstaanbare sleutelgidssimbole kan jy dadelik sien wat die spesie se habitat, broeiwyse, grootte en sosiale gedrag is.   

Naamgidse in Afrikaans, Engels en die wetenskaplike name agter in die 320-bladsy boek gaan jou help om dadelik enige voël se beskrywing te vind. Die klank- en kleurprag van die voëls word aangevul deur die raakvat Afrikaanse beskrywings en name wat op die tong rol soos baardmannetjie, rooioorlangstertjie, swaelstertbyvreter, diederikkie, koekoek, bontkiewiet en aai-aai die witborskraai.

Sappi is die hoofborg van die publikasie en Steve Binnie, die hoofuitvoerende beampte, sê in sy voorwoord dat natuurbewaring baie belangrik vir die maatskappy is. ‘n Derde van hulle eiendom is nie beplant nie en word volgens biodeversiteitbewaringsriglyne bestuur. Meer as 450 voëlspesies, insluitend ‘n aantal bedreigde spesies, is al hier waargeneem.

Kyk hieronder om te sien en hoor hoe die klankleser werk:

Die boek, saam met die klankleser, sal een van die kosbaarste geskenke wees wat jy aan jouself of ‘n spesiale persoon in jou lewe kan gee. Gebruik dit vir opvoeding, voëlkyk of sommer net ‘n skatkis vol vreugde in jou sitkamer of agterplaas.

Besoek www.briza.co.za om jou eksemplaar en klankleser te bestel teen R985.

Een gelukkige ProAgri-leser kan ook ‘n eksemplaar van die boek wen (klankleser uitgesluit). Stuur vir ons jou mooiste foto van ‘n voël wat ons kan publiseer. Net een foto per deelnemer. Foto’s moet groter as 1 mb wees en die keuse van die wenfoto sal berus by die redakteur. Inskrywings sluit op Vrydag 22 Maart en die wenner sal op 27 Maart in ProAgri se e-nuusbrief aangekondig word. Stuur jou foto na esta@proagri.co.za.  

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Hyundai H1 Bus: Staatmaker toerbus verbeter

2019 Nasionale Begroting: Geen reddingsboei vir die landbou