in ,

Voorkom en beheer veldbrande – Deel 3: Brandstroke

This post is also available in: English

Ordentlike brandstroke kan as beskerming dien om die boer uit diep moeilikheid te hou.

Hoofstuk 4 van die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande, 101 van 1998, bepaal dat elke eienaar op wie se grond ՚n veldbrand kan ontstaan of van wie se grond dit kan versprei, ՚n brandstrook moet maak en in stand hou aan sy kant van die grens tussen sy grond en enige aangrensende grond. Dit is belangrik om in hierdie verband die Wet se omskrywing van “eienaar” in gedagte te hou – dit sluit ook huurders en enige owerheidsinstansie in.

Iemand wat versuim om aan hierdie bepaling te voldoen is skuldig aan ՚n misdryf en kan by skuldigbevinding gevonnis word tot ‘n boete of gevangenisstraf van 1 jaar of tot ՚n boete en gevangenisstraf. Die Wet bepaal dat, indien ՚n eienaar van voorneme is om ՚n brandstrook te maak deur te brand, moet hy ՚n onderling aanvaarbare datum met die eienaars van aangrensende grond reël en die brandbeskermingsvereniging vir die gebied daarvan in kennis stel. As ՚n ooreenkoms nie bereik kan word nie, moet die eienaar aan die eienaars van aangrensende grond en die brandbeskermingsvereniging minstens 14 dae skriftelike kennis gee van die datum waarop hy beoog om brandstroke te brand.

՚n Eienaar van aanliggende grond met wie ՚n dag ooreengekom is of wat ՚n kennisgewing ontvang, moet sy brandstrook op die grens op dieselfde dag brand, of hy moet teenwoordig wees by die brand en verseker dat ՚n voldoende aantal persone aan sy kant van die grens teenwoordig is om te voorkom dat die vuur versprei wanneer die brandstrook gebrand word. ՚n Eienaar mag nie ՚n brandstrook brand indien die brandbeskermingsvereniging teen die voorgestelde brand beswaar maak of ՚n waarskuwing gepubliseer is dat die brandgevaar van die streek hoog is of die toestande nie bevorderlik vir die brand van brandstroke is nie.

Indien ՚n eienaar van voorneme is om vir ՚n tydperk van langer as 14 dae afwesig te wees gedurende die tydperk wanneer daar normaalweg gebrand word, moet hy al die eienaars van aangrensende grond voorsien van ՚n adres en telefoonnommer waar daar met hom kontak gemaak kan word. Indien ՚n eienaar van aangrensende grond nie teenwoordig is op die datum waarop daar ooreengekom is of waarvan kennis aan hom gegee is nie, of nie ՚n adres en telefoonnommer voorsien het nie, mag daar voortgegaan word om in sy afwesigheid te brand.

Eienaars van aangrensende grond kan daartoe instem om ՚n gemeenskaplike brandstrook weg van die grens tussen hulle eiendomme te maak. ՚n Brandbeskermingsvereniging kan ook reëls maak wat verskil van sekere reëls soos voorgeskryf deur die Wet op voorwaarde dat die nuwe reëls deur die minister goedgekeur is. Die lede van die brandbeskermingsvereniging word dan gebind deur die nuwe reëls en word vrygestel van die betrokke reëls soos deur die Wet voorgeskryf.

Drie vereistes word vir brandstroke voorgeskryf. Dit moet, met behoorlike inagneming van die weer, klimaat, terrein en plantegroei van die gebied:

• breed genoeg en lank genoeg wees om ՚n redelike kans te hê om te voorkom dat ՚n veldbrand na of van naburige grond versprei;

• nie gronderosie veroorsaak nie;

• redelik vry wees van brandbare materiaal wat ‘n veldbrand oor die brandstrook kan laat beweeg.

՚n Eienaar wie se grond aan ՚n risiko van veldbrand onderworpe is en waarvan enige deel van sy grond saamval met die grens van die Republiek, moet ՚n brandstrook op sy grond so na moontlik aan daardie grens maak en in stand hou.

Slegs die minister kan enige eienaar of groep eienaars om goeie redes vrystel van die plig om ՚n brandstrook of brandstroke te maak en in stand te hou. Die vrystelling kan aan voorwaardes onderworpe wees en die minister moet die brandbeskermingsvereniging van die gebied raadpleeg alvorens hy enige vrystelling verleen.

Die reg of plig om ingevolge die Wet ՚n brandstrook te maak en in stand te hou geniet voorrang bo enige verbod soos vervat in enige ander Wet wat betref die afkap, versteuring, beskadiging, vernietiging of verwydering van enige plant of boom, behalwe dat die eienaar:

• waar moontlik, enige plant wat ingevolge enige Wet beskerm word, moet oorplant; of

• waar dit veilig en doenlik is om dit te doen, die brandstrook so plaas dat sodanige plant of boom vermy word.

Kommentaar:

In siviele hofverrigtinge beteken die feit dat ՚n eienaar nalaat om ՚n brandstrook te maak nie sonder meer dat hy aanspreeklik is indien ՚n brand van sy grond versprei na aanliggende eiendom en skade veroorsaak nie. ՚n Kousale verband tussen die versuim om ՚n brandstrook te maak en die aanliggende eienaar se skade moet steeds bewys word. Dit beteken dat dit steeds bewys sal moet word dat, indien ՚n brandstrook in plek was, die brand nie sou versprei het nie. Dit is algemeen bekend dat in winderige toestande ՚n brand oor selfs ՚n breë brandstrook kan “spring”.

Dit word algemeen deur branddeskundiges aanvaar dat ՚n brandstrook dikwels slegs ՚n geleentheid bied om ՚n brand te bestry en weinig bydra om die verspreiding van ՚n brand te voorkom. ՚n Brandstrook hoef natuurlik nie slegs gemaak te word deur te brand nie, maar kan ook op ander wyses gemaak word, byvoorbeeld ploeg, ghrop, sny van gras en chemiese middels.

Indien ՚n eienaar egter besluit om brandstroke te maak deur te brand, moet die inherente gevaar van vuur deurentyd in gedagte gehou word. In die saak, Dews en ՚n ander v Simonstad Munisipaliteit 1991(4) SA 479 (KPA), het regter JG Foxcroft gemeld dat dit algemeen aanvaar word dat die gevaar van vuur so vanselfsprekend is dat dit uiterste versigtigheid verg van diegene wat daarby betrokke is. Dit is algemeen bekend dat persone betrokke by die brand van brandstroke, sodanige voorsorgmaatreëls moet tref dat die risiko dat die vuur buite beheer raak uitgeskakel of tot die absolute minimum beperk word.

In die volgende artikel handel ons met hoofstuk 4 van die Wet, naamlik brandbestryding. Die hele reeks is beskikbaar op www.proagri.co.za.

Artikel verskaf deur Christo Potgieter en John Smit, direkteure, Versekeringsreg en Regsaanspreeklikheid, BDP Prokureurs, Kaapstad. Hierdie artikel het ten doel om inligting te verskaf en nie regsadvies nie. Vir regsadvies, kontak u regsadviseur.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Herkonsolideer jou grond: LEMKEN verseker ‘n ferm saadbed

Familieboerderye kraai koning in TLU SA Jongboer van die Jaar 2021