in

Voorkom en beheer veldbrande 1: Wat sê die Wet?

This post is also available in: English

Veldbrande teister elke jaar groot dele van ons land. Massiewe skade word aangerig en veral boere word geraak. Talle hofsake is al gevoer as gevolg van skade veroorsaak deur veldbrande. Goeie buurmanskap is ook al as gevolg hiervan vertroebel.

Die ontstaan en verspreiding van baie veldbrande kon verhoed gewees het. Baie weghol veldbrande ontstaan trouens deurdat beheerde brande buite beheer raak of nie behoorlik geblus word nie. Vuur is inherent gevaarlik en ‘n grondeienaar wat enigiets op sy plaas brand, moet in gedagte hou dat daar ‘n swaar verpligting op hom rus om te verseker dat omliggende grondeienaars nie skade ly as gevolg daarvan nie.

In die saak, Van Wyk v Hermanus Munisipaliteit 1963(4) SA 285(KPA), het die Hooggeregshof by monde van regter CJ Watermeyer, beklemtoon dat daar ‘n swaar verpligting op ‘n persoon rus om te verhoed dat ‘n vuur wat hy self aangesteek het, versprei. Wanneer ‘n persoon ‘n gevaarlike taak onderneem, soos om ‘n vuur aan te steek, is hy nalatig tensy hy oor die nodige kundigheid en toerusting beskik om dit te beheer.

Dertig jaar later het die Appèlhof in die saak, Simonstad Munisipaliteit v Dews en ‘n ander 1993(1) SA 191 (A), by monde van oud-hoofregter MM Corbett gewaarsku dat enigiemand wat ‘n vuur in die oop veld aansteek verplig is om alle redelike voorsorgmaatreëls te tref ten einde dit te beheer en te verhoed dat dit verder as wat beplan is versprei.

Weens die inherent gevaarlike aard van vuur, word ‘n hoë standaard van sorg en versigtigheid gestel en die persoon betrokke moet oor die nodige kundigheid en toerusting beskik om die vuur te beheer. Veral wind is ‘n gevaar wanneer veld gebrand word omdat dit kan veroorsaak dat ‘n brand maklik en vinnig versprei en buite beheer raak. Enige redelike mens moet hiervan bewus wees, veral mense belas met die taak om die verspreiding van veldbrande te voorkom, onder meer, deur brandstroke te brand.

Die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande, No 101 van 1998, spel almal se verpligtinge duidelik uit.

Christo Potgieter en John Smit, direkteure, Versekeringsreg en Regsaanspreeklikheid, BDP Prokureurs, Kaapstad, lig grondeienaars in hierdie reeks artikels in oor die belangrikste bepalings van hierdie Wet en sekere ander regsaspekte rakende veldbrande.

Antwoorde word verskaf op onder meer die volgende algemene vrae:

  • Wat is die doel van die Wet?
  • Wie is almal “eienaars” in terme van die Wet?
  • Wat is ‘n brandbeskermingsvereniging?
  • Is lidmaatskap van ‘n brandbeskermingsvereniging verpligtend?
  • Wat is die pligte van ‘n brandbeskermingsvereniging?
  • In watter gebiede kan brandbeskermingsverenigings ontstaan of gestig word?
  • Wie staan in beheer van ‘n brandbeskermingsvereniging?
  • Wat is die voordele daaraan verbonde om aan ‘n brandbeskermingsvereniging te behoort?
  • Wie moet ‘n brandstrook maak?
  • Hoe moet ‘n brandstrook lyk?
  • Waar moet ‘n brandstrook gemaak word?
  • Wat van omgewingsbewaring en brandstroke?
  • Kan ‘n eienaar vrygestel word van die verpligting om brandstroke te maak?
  • Watse toerusting moet eienaars hê om brande te bestry?
  • Moet alle eienaars toerusting hê vir brandbestryding?
  • Wat word bedoel met “beskermende klere” waarna die Wet verwys?
  • Moet ‘n grondeienaar ‘n sekere aantal werkers stuur om ‘n brand te bestry?
  • Wat moet jy doen as ‘n brand ontdek word wat gevaar kan inhou?
  • As daar ‘n brand is, mag jy private grond betree?
  • Wat sê die Wet oor die aansteek van vure?
  • Kan strafregtelike vervolging voortspruit uit die oortreding of nie-nakoming van ‘n bepaling van die Wet?
  • Wat beteken die vermoede van nalatigheid geskep deur Artikel 34 van die Wet?

Die Wet bestaan uit 38 artikels en is opgedeel in 9 hoofstukke. Dit is nie net van toepassing op die eienaars van grond nie, maar, aldus die woordomskrywing van “eienaar” in Artikel 1 van die Wet, ook op:

  • ‘n huurder of ander persoon wat grond beheer ingevolge ‘n kontrak, testamentêre dokument, wet of bevel van ‘n Hoë Hof;
  • die uitvoerende liggaam van die gemeenskap in die geval van grond wat deur ‘n gemeenskap beheer word;
  • die hoof-uitvoerende beampte van die plaaslike owerheid.

Die doel van die Wet is om veld-, bos- en bergbrande te voorkom en te bestry. Hierdie doel moet deurgaans in gedagte gehou word wanneer enige bepaling van die Wet vertolk word.

In die volgende artikel handel ons met hoofstuk 2 van die Wet, naamlik brandbeskermingsverenigings. Die hele reeks is beskikbaar op www.proagri.co.za

Artikel verskaf deur Christo Potgieter en John Smit, direkteure, Versekeringsreg en Regsaanspreeklikheid, BDP Prokureurs, Kaapstad. Hierdie artikel het ten doel om inligting te verskaf en nie regsadvies nie. Vir regsadvies, kontak u regsadviseur.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Reinke-spilpunt bly betroubaar na bykans 40 jaar

Agrico omskep water in wins