in , ,

Voermaak is ‘n plesier met Rumax

This post is also available in: English

’n Soetlupiensaadjie is vol heilsame voedingstowwe wat ontsluit kan word wanneer dit in ’n voermengsel ingeroer en verpil word. Maar daarvoor moet die ronde glipperige pitjie vasgevat en oopgebreek kan word.

Die meeste hamermeulens word gebou met ruwe hoekige materiaal in gedagte en dikwels word baie van die kosbare lupiensaadjies net in die rondte gestoot sonder om ooit fyngekap te word. ’n Rumax-hamermeule word egter so slim gebou dat selfs dié klein ronde pitjies nie ’n kat se kans het om deur te glip nie.

“Ek wil nie Jaco Pieters van Rumax se ontwerpgeheime uitlap nie, maar ek kan vir jou sê dat ons boere hier in die Wes-Kaap wat kos soos lupien vir ons diere plant groot waardering het vir ’’n hamermeule wat die werk kan doen,” sê Dickie Hewett van Boesmansfontein tussen die Paarl en Malmesbury.

Op Boesmansfontein is voermaak ’n baie groot deel van die boerdery met ’n melkery, vleisbeeskomponent en skape wat almal kos moet kry en waarvoor daar nie net ernstig hooi en kuilvoer gemaak word nie, maar pille ook. Deur die maak van pille is die eindproduk meer hanteerbaar, neem minder plek in beslag en hou langer as ander voerprodukte. Die melkkoeie en die kalwers kry almal pille om hulle deur die voedselskaarstyd van die jaar te dra.

Om die voermaakprosesse aan die gang te hou het Dickie ’n elektriese voermenger, drie pilmasjiene en vyf hamermeulens… almal van Rumax. “Dit is waarde vir geld, want Jaco vra nie ’n plaas se prys vir sy toerusting nie,” sê Dickie, “daarby is die onderhoud en slytasie minimaal en as ek ’n laer of iets moet vervang kan ek een by die koöperasie kry, want dit is standaard, nie soos sommige van hierdie ingevoerde goed nie.”

Hy sê sy voermenger kry so ’n ton op ’n slag om te hanteer en werk vyf dae van die week vir nege uur elke dag. Al wat hy na twee jaar se gebruik moes vervang, was die kettings. “Nog ’n voordeel van die plaaslik vervaardigde toerusting is dat Jaco bereid is om saam met ’n mens te werk en te luister na voorstelle vir moontlike verbetering,” sê Dickie.

Sy hamermeulens word elkeen vir ’n ander produk gebruik om die produksieproses makliker te maak en Dickie sê met Eskom se onvoorspelbaarheid moet ’n mens ook maar maal wanneer jy kan.

Hy is baie tevrede met die uitset van al die toerusting, die kalibrasie en verstellings is eenvoudig, maar die beste van alles is dat daar feitlik nooit staantyd met ’n Rumax is nie. “As iets breek, het Rumax altyd voorraad beskikbaar en alles word in ’n kits reggemaak.”
Die pilmaakproses begin met ’n behoorlike mengsel in dié elektriese menger wat vir vyf dae van die week elke dag nege uur lank werk.

Kontak Jaco Pieters van Rumax by 082-335-3970, 023-342-6070 of jaco@rumax.co.za om van voermaak ’n plesier te maak.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Skep die snoesigste saadbed…Met die kragdadige Tatu~skotteleg

Sien is glo … en Monsanto wys