in , ,

Verlies aan kapasiteit en vaardighede in katoenwaardeketting “kos” SA R20-miljard

This post is also available in: English

Ten spyte van sewe jaar se volgehoue groei word die Suid-Afrikaanse katoenbedryf bedryf steeds gekortwiek deur ‘n gebrek aan kapasiteit en vaardighede binne die waardeketting wat daartoe lei dat die bedryf nie die volle positiewe impak van plaaslike bevoordeling geniet nie.

Dit beteken dat die meeste van die land se pluiskatoen (ook bekend as katoenlint) vir verwerking uitgevoer word voordat die eindproduk weer ingevoer word.   Die resultaat is ‘n verlies aan geleenthede wat, gegrond op 2018/19 se produksie van 51 000 ton pluiskatoen, te staan kom op ‘n verlies van sowat R20.4-miljard in potensiële bevoordeling van die plaaslike katoenwaardeketting.

Suid-Afrika se katoenproduksie het sedert 2013 met bykans 800% gegroei. Dié groei is gestimuleer en volgehou danksy die totstandkoming van die South African Sustainable Cotton Cluster (SCC), ‘n liggaam wat met insetkapitaal van R200-miljoen vanaf die Departement van Handel en Nywerheid gestig is om kapasiteit in die Suider-Afrikaanse katoenwaardeketting te skep.

84% van pluiskatoen uitgevoer

Hoewel plaaslike katoenpluisers tot dusver in staat was om die styging in katoenproduksie te absorbeer, het Suid-Afrika nie die spinkapasiteit om die pluiskatoen in gare te omskep nie, wat beteken dat 84% van verlede jaar se pluiskatoen uitgevoer moes word.

Volgens Thomas Robbertse, die bestuurshoof van IQ Logistica (IQL), die landboutegnologiese maatskappy wat verantwoordelik is vir die SCC se wolkgebaseerde sigbaarheidsplatform wat die katoenwaardekettings integreer, is die oprigting van ‘n katoenspinner ‘n kapitaalintensiewe oefening, met installasie wat R1 miljard en meer kan beloop.

“Ten spyte van die aantal pluismeulenaars wat gedaal het vanaf 24 in die glorietyd van plaaslike katoenproduksie tot die huidige sewe, kan die bedryf steeds die katoen absorbeer wat tans verbou word.  Suid-Afrika het egter nie die spinkapasiteit nie, wat beteken die meeste van die pluiskatoen moet uitgevoer word vir verwerking en die vervaardiging daarvan as klerasie-items, voordat dit weer ingevoer word,” verduidelik Robbertse.

Verlore werksgeleenthede

Robbertse wys daarop dat verlede jaar se pluiskatoen Suid-Afrika verlaat het teen sowat R24/kg, terwyl die eindproduk weer ingevoer is teen sowat R500/kg. “Gegrond op die uitvoer van sowat 42 840 ton pluiskatoen en die gepaardgaande waardeverlies van R476/kg (R500/kg – R24/kg), kom skade ten opsigte van die bevoordeling van die ekonomie op sowat R20.4-miljard te staan, om nie te praat van die talle potensiële werkskeppingsgeleenthede wat in die proses vermors is nie,” sê hy.

Die skepping van plaaslike spinkapasiteit sou egter nie op sigself die probleem oplos nie.  Die bedryf ervaar steeds ‘n enorme vaardigheidstekort weens die ondergang van die klerasietekstieldryf oor die

afgelope 30 jaar wat veroorsaak is deur handelsbevryding en globale mededinging wat tot goedkoop invoerprodukte gelei het. 

“Al sou ons dus spinfasiliteite in Suid-Afrika tot stand bring, sal ons steeds vaardighede uit Asië moet invoer wat dan ook die plaaslike arbeidsmag kan help om die nodige opleiding te kry,” verduidelik Robbertse.

Daar is egter ‘n silwer randjie om die donker wolk.  “Die uitvoer van pluiskatoen genereer vir ons land deurslaggewend belangrike buitelandse valuta en help boere met die verhaling van insetkoste soos kunsmis, brandstof en toerusting wat dollar-gebaseerd is,” is Robbertse se slotsom.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Begroting skep nie hoop vir TLU SA

ISUZU helps farmers survive drought