in ,

Veldblomme lok bye uit saadlande

Die Klein-Karoo se bye het vanjaar veldblomme bo uieblomme verkies, wat daartoe gelei het dat bestuiwing van groentesaadlande nie na wense was nie. (Foto: Onbekend)

Deur Tisha Steyn

Veld wat goed herstel het na goeie reëns in die droogtegeteisterde Klein Karoo het ‘n onverwagte nadeel vir groentesaadboere ingehou. Bye wat die plate veldblomme bo groentesaadlande verkies het, het tot groot verliese gelei.

Lede van SKBBV tydens ‘n velddag. Hulle is Daniel Bridger, Jeremy Laurie, Lourens Trichaardt, Man Horne, André de Jager (ondervoorsitter) en Charles Solomon (genooide spreker).

“Swak bestuiwing was ‘n redelike groot probleem,” sê Charles Salmon van die Wes-Kaap Departement van Landbou en self ‘n byeboer. “Ek het gehoor van bedrae van tussen R150-miljoen en R200-miljoen, en die probleem was groter as 2012 s’n.”

Byvoeding

Nico Langenhoven, erelid van SKBBV, gesels met byeboere tydens ‘n velddag.

Die onderwerp was een van die besprekingspunte by die Suid-Kaap Byebedryfvereniging (SKBBV) se velddag op 28 April op Groot-Brakrivier, en dit het aangesluit by Charles, die gasspreker, se onderwerp, naamlik die byvoeding van bye.

“Bye voed op stuifmeel (proteïen) en nektar (koolhidrate) in blomme, en om hulle dieet gebalanseerd te hou, moet hulle voeding van verskillende blomplante kry,” sê Charles.

Die bye berg die stuifmeel en nektar in die korf, waar hulle ‘n konstante temperatuur van 34°C handhaaf, vir gebruik dwarsdeur die jaar. Wanneer hulle voedselbronne skaars raak, is dit nodig om byvoeding te gee om die bye te help oorleef tot die volgende seisoen van oorvloed.

‘n Werkerby versamel nektar op ‘n veldblom (Bron: Pixabay)

“Wanneer die kos min raak, is bye se natuurlike instink om te trek om elders te gaan kos soek. Om die neiging teen te werk, word byvoeding gegee om die korf sterk te hou sodat dit kan aanhou funksioneer,” sê Charles.  

Kommersiële byvoeding is beskikbaar in die vorm van ‘n mengsel van stuifmeel en nektar. Byebrood, ook bekend as ambrosyn (Engels ambrosia), bestaan uit stuifmeel en heuning. Dit is die ware Jakob wat in ‘n korf gevind word en navorsing het bevind dat dit tot 188 soorte fungi en 29 bakterieë bevat.

Aan die begin van die seisoen was daar goeie heuningvloei, maar namate die seisoen aangestap het, het die heuning al minder geraak. (Bron: Pixabay)

Navorsers het deur die jare verskillende natuurlike bestanddele gebruik vir die vervaardiging van ‘n geskikte voeding wat stuifmeel kan vervang, insluitend proteïenbronne soos sojameel en ander peulplante, broodgis, koringgluten, afgeroomde melkpoeier en selfs vismeel, om maar enkeles te noem, maar die ideale resep ontwyk hulle steeds.

“Die gebruik van byvoeding kan duur raak, en sonder om die bye te snoep, moet jy seker maak jy voer nie te veel nie. Die ekstra voeding, veral suiker stroop word in die supers, selletjies en onder in die korf geberg as heuning, maar dit kan daartoe lei dat die korf naderhand oorloop van heuning. Dit beteken dat daar te veel rame met heuning onder in die broeikas is en die koningin het dan nie plek om te broei nie,” verduidelik Charles.

‘n By versamel nektar en stuifmeel op ‘n sonneblom, maar bye kan nie net op een soort blom oorleef nie, hulle het ‘n verskeidenheid nodig vir ‘n gebalanseerde dieet. (Bron: Pixabay)

Uitdagings

Kobus Vos, SKBBV se voorsitter, staar verskillende uitdagings die byebedryf in die Wes-Kaap in die gesig.

“Buiten Covid, wat verskuiwing van korwe aan bande gelê het, sit ons nou met stygende koste van brandstof en elektrisiteit. Dit raak almal in die bedryf, die heuningboer sowel as die bestuiwingsboer, die korfvervaardiger en die botteleerder. Dan is daar ook nog ‘n tekort aan geskikte weiding, lae bestuiwingspryse en die voortdurende voorkoms van diefstal en vandalisme.”

‘n By is swaar gelaai met stuifmeel, wat proteien verskaf. (Bron: Pixabay) 

Wat genoegsame voeding betref, sê Kobus: “Ons het verlede jaar ‘n relatiewe goeie byeseisoen gehad met goeie reën wat oor die meeste dele van die Wes-Kaap geval het. Die kanola op die meeste plase het mooi geblom en ons kon gesonde, sterk swerms voorberei vir die bestuiwingseisoen.

“Vir die meeste byeboere het die heuningseisoen aanvanklik baie goed begin, maar op ‘n antiklimaks geëindig. Veral die bloekoms en die fynbos het in die meeste areas ondergemiddeld presteer sodat die heuningvloei oor die algemeen swakker was as wat ons verwag het.”

Veldblomme is ‘n ryk bron van nektar en stuifmeel. (Bron: Pixabay)

Die bestuiwingseisoen het goed verloop met die vraag na bye wat in daardie stadium darem nog nie die aanbod oorskry het nie. “Na wat ek verneem, kan die bessie- en ander vrugteprodusente heel tevrede voel met die goeie oeste wat in die meeste gebiede in die Wes-Kaap behaal is, maar die groentesaadprodusente in die Karoo en Oos-Kaap is nie so gelukkig nie.”

Hy verduidelik: “Met die goeie reën wat oor groot dele van die droogtegeteisterde Karoo uitgesak het, het die veld baie vinnig in ‘n byehemel ontaard. Die gevolg was dat min tot geen bye in veral die uielande was nie omdat die meeste bye in die veld gewerk het.

“Die gevolg was supers vol heuning en ‘n mislukte saadoes vir baie saadboere.  Uit nood het baie saadboere ‘n verskeidenheid kure probeer, maar ongelukkig was die uitkoms reeds bepaal toe die bye die saadlande vir die magdom blomme in die veld verruil het.”

Kommersiele byeboere doen moeite tydens bestuiwingstyd om seker te maak hulle lewer sterk, gesonde swerms vir die taak.

Volgens Kobus het baie bye afgeswerm en daar was baie vangkiste in die veld. “Daar was nie ‘n tekort aan bye vir die bestuiwingseisoen nie, wat gelei het tot ‘n ooraanbod van bestuiwingseenhede. Byeboere moes meeding om bestuiwingskontrakte en moes hulle diens teen laer pryse beskikbaar stel.

“Daar was ook ‘n ontploffing  van nuwe, onervare byeboere wat die mark betree het, soms sonder om ‘n behoorlike kosteberekening te doen. Die goedkoper diens wat party van hulle aangebied het, het tot laer pryse vir gevestigde bestuiwingsboere gelei.”

Bye is noodsaaklik vir bestuiwing van vrugteboorde en ‘n betroubare bestuiwingsdiens dra by tot die sukses van die oes. (Bron: Pixabay)

Charles se mening hieroor is: “Wetgewing vereis dat alle byeboere by die nasionale Departement van Landbou moet registreer. Baie maatskappye dring daarop aan dat hulle lede van geregistreerde byeboere gebruik maak. Byeverenigings in die Wes en Suid-Kaap, wat vrywillige organisasies is, is ‘n voorstander daarvan omdat dit die bedryf beskerm en ‘n goeie bestuiwingsdiens verseker.

“Maar baie byeboere wil nie registreer nie; hulle vlieg eerder onder die radar, en daar is niemand wat die wet toepas nie. Dit is nie moontlik om te sê hoeveel byeboere ongeregistreerd is en watter invloed hulle op die bestuiwingsbedryf het nie.”

Hy meen dis nie net onervare en ongeregistreerde byeboere wat die pryse afdwing nie, maar selfs geregistreerde byeboere wat die prys manipuleer.

Stuifmeel sit vas aan die hare op die werkerby se lyf. (Bron: Pixabay)

“Al wat ek kan sê is dat as jy toelaat dat substandaard korwe geplaas word sodat jy die helfte van die pryse kan betaal, moet jy maar tevrede te wees met die gebrekkige diens wat gelewer word – jy kry waarvoor jy betaal.”

Die volgende velddae vind op 30 Julie en 19 November plaas. Meer besonderhede hieroor, asook oor aanlynwerkswinkels, sal later bekendgemaak word.

Kontakbesonderhede

Kontak Kobus Vos by 082 904 2337, John Stoltz by 072 278 4590 vir verwydering van bye, of Daniel Bridger by 082 698 9088 oor velddae en werksessies.

Aan die begin van die seisoen was die korwe sterk en talle bye het afgeswerm. (Bron: Pixabay)

Charles Salmon kan ook gekontak word by 082-651-7466 of CharlesS@elsenburg.com

Verwysings

Byebrood (2010). Wikipedia. https://af.wikipedia.org/wiki/Byebrood

Louw, M. (2022) Beekeeping in South Africa: The feeding of honeybees. Southafrica.co.za beskikbaar by: https://southafrica.co.za/af/die-voeding-van-heuningbye.html

Paray, B. A., Kumari, I., et al (2021) Honeybee nutrition and pollen substitutes: A review. Saudi Journal of Biological Sciences, Volume 28, Issue 1, January 2021, Pages 1167-1176.

https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S1319562X20306185

https://doi.org/10.1016/j.sjbs.2020.11.053

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

UB Leisure: Jou eenstopwinkel wat drome waar maak

Vennootskap van Blaauwklippen en Van Loveren goed vir SA wynbedryf