in

Veeboer van die jaar is lief vir sy skape

This post is also available in: English

“Skaapboerdery is die enigste boerdery waar jy uit niks uit kan opstaan en begin boer.” So sȇ Frans Wiid, Voermol Veeboer van die Jaar vir 2017, by sy Skaapboeredag in Hopetown op sy plaas, Aan-die-Lande. Frans is defnitief ‘n boer wat daarin glo om vorentoe te boer.

Hy boer kommersieel met Dohne-Merino en het ook Dorper teelooie. Frans sȇ boerdery is sy stokperdjie en hy het ‘n liefde vir ‘n skaap, want ‘n skaap kan nie terugpraat nie.

“Die voorreg wat ‘n ou het om te boer is genoeg en alles wat ek het is genade. 90% van die tyd weet ek nie wat die uitkoms is nie, maar ek weet my Vader is by my.”

Frans se pa het ook die boeredag bygewoon. “Dit is veral vir my ‘n groot voorreg dat my pa vandag hier is,” het hy gesȇ. Hy het ook al sy familie en werkers elkeen persoonlik op die naam bedank vir hulle bydrae tot die boerdery. “Die plaaswerkers en bestuurders wat die grondwerk doen hou die dinge op die plaas bymekaar,” sȇ hy.

Boerdery is ook nie altyd maklik nie. “Elke keer as dit met jou swaar gaan, ry net na ‘n ander boer toe. En as jy raad vra, vra raad vir iemand wat geld maak in daardie bedryf,” voeg hy by.

Frans sȇ ook boere moet hulle nie aan die politiek steur nie, dis baie nadelig. “Die prosopisse in die Karoo sal meer grond vat as wat die regering sonder vergoeding kan vat.”

Oor skaapboerdery

Frans sȇ voerkrale is ‘n goeie bedryf om in te wees, maar die voer moet reg wees. “Skaapboerdery kort aandag, anders kan dit vinnig ‘n probleem kry,” sȇ hy.

Frans sȇ almal kan nie sy stelsel gebruik nie, want plase verskil en hy wil niks bemark aan ander boere nie. “Ek voer nou al 15 jaar skaap, maar ek bly gereed om veranderings aan te bring as dit nodig is, want tegnologie en omstandighede verander.

“Onthou net, as jy jou skape skuif moet hulle aanpas. Indien jy dus veranderinge aan jou stelsel bring, doen dit op kleinskaal en bou op.”

Hy het geen sentiment aan ‘n spesifieke dier of ras nie en sê sukses hang eerder af van bestuur as van ras. Waar jy boer speel ‘n groot rol.

Hy het ook al baie skoolgeld betaal. Van sy eerste 80 ramme wat hy getoets het was daar 76 met Brucella ovis besmet.

“Die dae is verby dat ons ‘n skaap van enige ras koop sonder die presisiesyfers van die skaap. Baie telers besef nie hulle het ongetoetse ramme nie. Ek wil ‘n beroep doen op telersgenootskappe om hulle ramme te toets voor hulle dit aan boere verkoop,” sȇ Frans.

Die verskil tussen ‘n goeie en slegte skaapboer volgens hom is ‘n deurvloeiproteїenbron. “Gebruik die regte deurvloeiproteїenbron, want dit maak dat jou diere produseer.”

Diere moet ook weerstand opbou om swak omstandighede te hanteer. Hy sê: “Dit is nie normaal vir ‘n lam om te vrek in ryp nie. Ons gee nooit nie lek nie, behalwe as dit reёn.”

Skaapboerdery en die ongediertes

Frans sȇ dat die ongediertes soos jakkalse en rooikatte hom morbied gemaak het, al het hy elektroniese omheinings.

“Ongediertes haal boere van hulle plase af. Jy moet jou ongediertes onder beheer kry as jy ekstensief wil boer. As jy nie self ‘n spoor kan soek van die ongedierte nie, is dit nou tyd om te leer. Doen self iets om die probleem op te los.”

Sy wenke vir ongediertes:

  • Jy moet ‘n kombinasie van alles gebruik soos slagysters en hokke. Jy stel nie ‘n hok waar jy elke tweede dag of een keer ‘n week verbygaan nie.
  • Elke plaas het een stoetkat. As jy hom doodmaak boer jy vir ses maande baie lekker. Maar dis ‘n gesukkel om hom te vang.
  • Elektriese omheinings se kragbronne moet elke 2de jaar nagegaan word.
  • Halsbande kan ongelooflik goed werk. Jy weet as die vee rondgejaag word.

Verskeie sprekers het ook op die boeredag gepraat, soos Dawie Maree oor volhoubare wol- en vleisproduksie in SA; Pierre Vlok oor die balans in diereteling; Ulrich Müller oor voerkraalafronding van lammers en Hendrik van Pletzen oor voeding- en bestuurspraktyke om winsgewendheid van skaapboerdery te verhoog.

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 3

Upvotes: 2

Upvotes percentage: 66.666667%

Downvotes: 1

Downvotes percentage: 33.333333%

‘n Selfoon-toepassing vir plaasaanvalle

Bedrag vir beloning van lojale NWK-klante bekend