in ,

Valtrac: Baal beter met die nuwe Kuhn LSB 1270 DX-grootpakbaler

Kuhn

This post is also available in: English

Wanneer jy ‘n groot platbak het om vinnig vol bale te pak, het jy ‘n grootpakbaler nodig wat sy baalwerk ken. Hendrie Hills van Brits se Kuhn LSB 1270 DX, wat hy by Valtrac aangekoop het, het sy voermaakonderneming na ‘n nuwe vlak geneem. “Die vervoer van die bale is nou baie meer ekonomies, want hulle word teen hoë digtheid verpak. Dit beteken meer gewig en meer voer per vierkante meter,” sê hy.

Van sy bale word tot so ver as Stilbaai vervoer en nie net word die vragruim nou ekonomies benut nie, maar die bale kom ook netjies en heel anderkant aan.

Baalmaak is ‘n fyn wetenskap op die Hills-plaas en die Kuhn-grootpakbaler is die gereedskap wat dit moontlik maak. Hendrie sê alles geskied meganies en met twee manne vir die laai- en rywerk kan hy sommer baie hektare op ‘n dag deurdraf. “Die baler VAT ‘n windry,” sê hy.

Natuurlik het die pak van die windry en die voggehalte van die materiaal ‘n groot invloed op die werkspoed, maar jy weet presies hoe vinnig om te ry, want die baler sê vir jou! Op die gebruikersvriendelike beheerskerm in die trekker se kajuit kan jy presies sien wat gaan aan.

Hendrie verduidelik dit so: “Daar is ‘n voorkamer met ‘n meter wat bepaal of daar genoeg materiaal opgetel is om die baalkamer te vul. As daar nie is nie, vat hy nog ‘n keer en as jy sien hy moet drie keer inkrap vir een baal, moet jy bietjie aanstoot. Die ideaal is een-op-een, dan is jou werkspoed net reg.”

Die masjien vertel vir jou terwyl jy werk presies hoeveel elke baal weeg en Hendrie het ook die opsie gekies vir ‘n vogmeter. Die vogmeter meet wel net aan die kant van die baal en nie tot in die middel nie, maar jy kan gou sien wanneer die vogvlakke wissel en die materiaal te nat is.

Hendrie sê soos met enige baler kan daar soms ‘n knopie vashaak of ‘n probleem met die baaltou ontstaan, maar daar is ‘n alarmpie wat jou waarsku en dit hang van die operateur af of die probleem opgelos word of groter word. Die alarm waarsku jou ook as daar te veel materiaal in die keel sit wat verstoppings kan veroorsaak.

“Ek het een keer ‘n verstopping gehad wat my opgehou het, maar toe het ek al twee-uur in die oggend begin baal en ek was nie so op en wakker as wat ek moes wees nie,” vertel hy.

Verstoppings gebeur nie gereeld nie, maar dit kan gebeur, veral as die materiaal te nat is. Die baler het ‘n valklap onder wat oopgemaak kan word in geval van ‘n ernstige verstopping, sodat jy gou weer kan voortgaan met jou werk.

Enige gewas se baas

Hendrie plant spesifiek hawer en lusern om gebaal te word, maar hy het al die masjien getoets met sojaboonreste en mieliereste. Koringreste word in die grond ingewerk, maar as dit moet, sal hy dit ook kan baal.

Die Kuhn LSB 1270 DX het geen probleem om enige materiaal netjies op te tel en styf te verpak nie. Die optelhoogte kan verstel word afhangende van die terrein en die materiaal.

Kuhn se Integral Rotor is die tegnologie wat gebruik word om die materiaal probleemvry in te voer. Dit beteken dat die awegare wat die materiaal na die bek van die baler voer regstreeks aan die voerrotor gemonteer is en deel daarvan vorm. Hierdie patent is eenvoudiger, doeltreffender, betroubaarder, onderhoudvry en sorg dat enige soort materiaal gladweg en onstuitbaar die kortste pad na die baler volg. Dit laat jou ook toe om vinniger te ry en gouer klaar te baal voordat die reën kom.

Nokkoppelaars beskerm al die invoerfunksies om doeltreffendheid te verhoog en skade te voorkom.

‘n Goedgepakte windry met genoeg materiaal is die beste manier om te verseker dat die grootpakbaler op sy beste werk. Hendrie het ook Pottinger-kragharke en –deurlugters by Valtrac bekom om die beste moontlike windrye en flink uitdroging van nat materiaal te verseker.

valtrac
Hendrie Hills en sy seun, Johannes, kan met reg trots wees op die netjiese, ferm lusernbale wat hulle Kuhn-grootpakbaler van Valtrac lewer.

Stewig, vars en netjies

Hendrie sê die eerste baal van die dag is nie heeltemal so stewig soos die ander nie en dit is verstaanbaar, want die bale druk opeenvolgend teen mekaar vir die hoëdigtheidverpakking. Die LSB 1270 DX se bale is tot 10% digter as dié van vorige modelle of vergelykbare balers. Hy sê die eerste baal land gewoonlik op die bakkie vir die naweekbesoek aan die wild op die Bosveldplaas, so dit pas hom!

Op sy baler is ‘n toediener aangebring waarmee hy bale met ‘n hoë voginhoud chemies kan behandel sodra dit uit die kamer gestoot word, sodat die voer vars bly. Dit werk soos ‘n preserveermiddel en dit verseker tevrede kliënte.

‘n Dubbelknoopstelsel sorg dat die bale netjies gebind word en daar is geen vermorsing van baaltou nie. Hendrie het uitgewerk dat hy so 32 bale per tol kan maak.

Nog ‘n groot voordeel is dat daar ‘n waaier is wat heeltyd ‘n stroom lug bo-oor die knoopmasjien uitblaas om dit stofvry en dus probleemvry te hou.

Kuhn se integrale rotor bewys dat die reguit pad altyd die regte pad is – ook met die voer van materiaal na ‘n baler se bek.

Koste, hantering en dienslewering

Die Kuhn LSB 1270 DX is ‘n groot masjien en Hendrie glo sy 126,7 kW-trekker is ‘n goeie pasmaat. Hy het nog nie die brandstofverbruik per hektaar vergelyk met sy vorige kleiner baler nie, maar omdat die masjien vinniger en meer doeltreffend werk, hoef daar minder heen en weer gery te word.

Vir die doeleindes van kontrakwerk werk hy op ‘n halwe liter brandstof per baal, maar dit hang ook af van die materiaal wat gebaal moet word.

In die land het hy ‘n man in ‘n trekker met ‘n aangepaste baalvurk wat drie bale kan stapel en op die wa laai om dadelik uitgery te word. Hendrie sê wanneer hy met die baler by die skuur aankom, is die meeste bale klaar daar en sy twee manne is op pad terug uit die land uit.

Hy het onlangs vieruur die middag by ‘n buurman begin baal en halfnege die aand was die 178 bale gepak en hy op pad huis toe.

‘n Eienskap wat hy ook verwelkom is dat die agteras van die masjien onafhanklik kan draai. Dit maak kleiner draaisirkels op die wenakker moontlik en veral met ‘n gewas soos lusern is daar minder skade vir die volgende snit. ‘n Baler met ‘n soliede as agter se wiele sleep dikwels polle uit die grond uit. Met die Kuhn gebeur dit nie.

Hendrie sê hy loop al ‘n lang pad met oom Wynn Dedwith en sy mense van Valtrac en hy is deeglik bewus van hulle legendariese dienslewering. Hulle het hom kom help om die masjien mooi in te stel en na sy eerste groot lopie van 504 bale het hulle weer ‘n draai op die plaas gemaak om seker te maak alles is reg. Hulp is altyd net ‘n oproep ver en as die probleem nie nog dieselfde aand opgelos kan word nie, gebeur dit vroeg die volgende dag.

Hy het nog nie tyd gehad om al die funksies op die ISOBUS-paneel te ondersoek en gebruik nie, maar volledige redkordhouding van elke kilogram voer wat op die plaas gebaal word, het skielik sommer baie makliker geword.

“Ek sal verseker die masjien aanbeveel vir boere vir wie werkspoed, gehalte en digtheid van bale belangrik is en veral vir kontrakteurs. Die baler is gebou om te hou,” sê Hendrie.

Bestel jou Kuhn-baler by Valtrac. Kontak Attie de Villiers by 083-261-9863 of 056-817-7308 of attiedev@valtrac.co.za. Besoek ook www.valtrac.co.za vir meer inligting.

Hendrie het sy baler gestel vir ‘n baallengte van een meter, want dan pas dit die beste op ‘n platbakvragmotor vir vervoer en in die skuur.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

ProAgri 224

Aerobotics vat voor in gewasmonitering