in ,

Tractor Warehouse dien boere met slim tegnologie

This post is also available in: English

Die KWH Holland-spuit versit grense in Suid-Afrikaanse wingerde en boorde.
Met ekstra harde werk en die voordeel van groot besparings vir die boer, het ’n jong landboumaatskappy vir homself ’n stewige vastrapplek in die landboubedryf verseker.
Tractor Warehouse se nuwe en onkonvensionele benadering strek werklik tot die voordeel van die boer. Hulle soek en versamel deurlopend nuwe tegnologieë en konsepte van regoor die wêreld om landbou in Suid- Afrika te verbeter.
“As ek daarin kan slaag om my kliënte te laat groei deur hulle kostes te verminder, dan groei ek,” sê Victer Kerslake, eienaar van hierdie ontwakende maatskappy wat in ’n baie kort tydjie takke in Vereeniging, Groblersdal, Bapsfontein en Middelburg opgemaak het.
Een van die opwindende produkte wat Tractor Warehouse in sy stal het, is die rewolusionêre KWH Hollandspuitreeks wat reeds ’n reuse vermindering in wingerd- en boordboere se lopende uitgawes meegebring het. “
’n Tradisionele boord- of wingerdspuit het ’n aksiale waaier en hoëvolume sproeikoppe wat ’n massa water van 1 000 tot 3 000 liter per hektaar gebruik. Onder hierdie groot vloedwater se momentum word die bome en lote omtrent gebad en die gif is geneig om af te loop of aan die onderpunte van die blare te versamel. Die aktiewe middel is grootliks Verdun en die gemiddelde druppelgroote is in die orde van 180 to 300 mikron. Die momentum van die water is ook geneig om die blare soos ’n muur teen mekaar vas te druk sodat die gif nie tot binne-in die bome of wingerd kan kom nie,” sê hy.
Die KWH-spuit is ’n nuwe ontwerp met ’n aansienlik groter sentrifugale waaier en in plaas van ’n aantal sproeikoppe wat rondom die waaier geplaas is, het dit ’n spesiale tuit of “visstert” met sproeikoppe wat die water in deeltjies van tussen 80 en 120 mikron afbreek om ’n fyn mis te vorm. “Wanneer die gif dan opgespuit word, kry jy ’n eweredige gifplasing omdat die blare en vrugte so min as moontlik versteur word, wat meebring dat die gif tot diep binne-in die bome en lote kan dring. Die visstertontwerp blaas ook die mis in ’n opwaartse boog, wat in ’n vertikale sikloon binnein die boord of wingerd draai tot dit uiteindelik teen ’n blaar of vrug of tros vaswaai sodat die gif sy werk kan doen,” sê Victer.
In plaas van 1 000 liter water, gebruik die KWH net 100 tot 250 liter per hektaar (op wingerd) om dieselfde werk te doen. “Dit beteken dat die spuit tot vyf keer minder volgemaak hoef te word. Die meer gekonsentreerde mengsel, tesame met die optimale druppelgrootte, lei ook tot ’n aansienlik beter bedekking. Kortweg gestel kom meer van die aktiewe bestanddeel waar jy dit wil hê. As gevolg daarvan is dit in die regte omstandighede moontlik om minder gifstof te gebruik. Die meeste konvensionele spuite moet teen 3,5 kmu voortkruie om hulle werk behoorlik te doen, maar Dawie van Rensburg, plaasbestuurder van HN Pieterseboerdery buite Groblersdal wat die KWH al twee jaar lank inspan, spuit met gemak teen 4,2 kmu in sy wingerd en teen 6 kmu in sy sitrusboorde.
“Ek en my buurman het ’n vergelykende toets gedoen waar ek in ’n skof van tien uur twaalf hektaar kon spuit, terwyl hy net 4 hektaar kon dek. Dit beteken dat ’n trekker met die KWH-spuit dieselfde werk as drie trekkers met konvensionele spuite kan doen,” sê Dawie.
“Wat my egter baie opgewonde maak, is dat ek vroeër elke druiwetros met die hand in ’n emmer groeistimulant moes doop om elke korrel behoorlik te bedek. Die KWH-spuit se penetrasievermoë is egter so goed dat ek nou die produk met die spuit tot by die middelste korrels van elke tros kan kry. Dit bespaar ’n klomp arbeid en tyd en omdat die KWH slegs 100 liter water per hektaar benodig om die groei-stimulant te dra, beïnvloed dit ook nie die vrugbaarheid van die lote nie,” sê Dawie.
KWH Holland het verder met die landbouwetenskap getoor deur ’n elektrostatiese kas aan die spuit te monteer, wat ’n lading van 22 000 Volt vanaf die trekkerbattery na die visstert oordra om die gifwaterpartikels negatief te laai. Sodra die partikels dan op die wingerd se blare beland, stoot hulle mekaar af om presies eweredig oor die blaar te versprei, wat ’n eenvormige gifverspreiding en volledige bedekking teweeg bring. Hierdie funksie bied ’n vyf tot tien present verbetering in die spuit se doeltreffendheid op lae volumes.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Stroop en strooi sonder mors met JWL se hulp

Massey bereik die Suidpool