in ,

TOYOTA COROLLA CROSS: ‘n Baanbreker in vele opsigte

Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive

Na ‘n stewige belegging van R2,6 biljoen in hul Prospecton aanleg in KZN, was Toyota na vier jaar gereed om uiteindelik die medium grootte SUV Corolla Cross reeks, ingesluit die hibriede modelle, daar te vervaardig.

Met die Corolla Cross ding Toyota nou sterk mee in die klein en medium reeks stoftrappers saam met hul gewilde RAV4, Urban Cruiser en C-HR.

Met ongeveer 31 verskillende modelle in die B- en C-segment SUV’s waaruit kopers in Suid-Afrika kan kies het Toyota dit slim gedink om die C-segment grootte Corolla Cross plaaslik teen die pryse van modelle wat in die B-segment meeding, beskikbaar te stel .

Tans is daar ‘n legio modelle waaruit kopers kan kies wat insluit die Ford EcoSport, Hyundai Creta, Haval Jolion, Kia Seltos, Renault Duster, VW T-Cross en Mazda CX3 om maar ‘n paar te noem. Die troefkaarte in die Toyota Corolla Cross modelreeks is egter die twee hibriede modelle. Afgesien daarvan dat Toyota baanbrekerswerk hier doen deurdat dit die eerste plaaslikvervaardigde hibriede voertuie in hul segment is, is die pryse waarmee die Toyota Corolla Cross Hibriede modelle die SA mark tref, beduidend goedkoper as enige ander hibriede voertuig wat tans plaaslik nuut aan kopers beskikbaar is.

Ontwerp en Voorkoms

Toyota SA het die Corolla Cross netjies tussen die kleiner moderner  C-HR  en die uiters gewilde groter RAV4 geposisioneer.  Met ‘n as-afstand van 2640mm en ‘n totale lengte van 4460mm bied die Corolla Cross ‘n ruim kajuit en groot laairuimte wat die kompetisie in hierdie segment  beskaamd laat. Uiteraard bied dit ook uitstekende beenruimte vir die insittendes.

Gebou op die nuwe TNGA platform, is die ritgehalte algeheel beter en ook stiller met boonop meer gerieflike rit- en paddinamika. Die nuweling vertoon van voor soos ‘n kleiner RAV, terwyl die agterkant se ontwerp sag op die oog val.

Die kantprofiel vertoon sportief met mooi allooiwiele wat netjies die wielboë wat met plastiek omboorsels beskerm word, vol maak. Dakrelings en silwerkleurige beskermplate voor en agter, onderstreep die Corolla Cross se avontuurgerigte DNA. Kopers kan uit 7 bakkleure kies.

Kajuit en Toerusting

Die nuwe Corolla Cross kom verbasend goed toegerus in terme van standaard toerusting met die topmodelle wat na ons mening segmentleidend is met die lang lys van nuwe generasie tegnologie wat  gerief- en veiligheidstoerusting betref. Toyota wou daarmee die behoeftes van ‘n jonger generasie koper aanspreek en stel omtrent elke gier tevrede met topmodelle wat uiters aantreklike waarde vir geld bied.

Die kajuit is baie goed en prakties ontwerp met goeie ergonomie. Die gebruik van sagte plastiek wat slim aangewend word en mooi saamvloei met die ander materiale, skep ‘n duursame voorkoms in die kajuit.  Die goedkoopste Xi model kom met materiaal bekleedsel, terwyl die XS met swart kunsleer toegerus word en die XR topmodelle die keuse van swart of (my persoonlike gunsteling) pragtige roesrooi Terra Rosa leerafwerking bied.

Enjins en verrigting

Toyota SA het die nuwe Corolla Cross plaaslik met 5 modelle beskikbaar gemaak. Geen dieselenjins is egter beskikbaar nie. Aandrywing is met die keuse van ‘n normaal-geaspireerde 1,8 liter 4-silinder VVT-i  petrolenjin wat 103kW/172Nm lewer, of ‘n hibriede petro/elektriese kragbron wat gesamentlik 90kW en 163Nm se piekkragte lewer.

Die hibriede stelsel gebruik ‘n “Atkinson”- tipe kragbron wat bestaan uit ‘n 1,8l 4 silinder petrolenjin  wat ontwerp is om 72kW/142Nm maksimum krag te lewer, plus ‘n elektriese motor wat maksimum 53kW/163Nm opwek en krag van ‘n herlaaibare batterypak ontvang. Die enjin laai die batterye wat dan die elektriese motor van krag voorsien vir aandrywing. Krag word by al die modelle na die voorwiele gestuur deur middel van ‘n CVT ratkas met 7 “gange”. Toyota se amptelike brandstofsyfer vir die 1,8L petrolmodelle word aangegee as 6,8l/100km, terwyl die Hibriede modelle slegs 4,3 L/100 km gebruik.

Verrigting en Paddinamika

Sedert die bekendstelling laat laasjaar was ons bevoorreg om verskeie  modelle van die Coralla Cross te bestuur, ingesluit die  middelvlak 1,8 XS Hybrid sowel as die topmodel 1.8 XS Hybrid.

Terwyl ons die binneruim nogal as verbasend ruim en stil ervaar het tydens ons toetsritte, was ons verbaas oor hoe gemaklik die hibriede tegnologie die Corolla Cross laat bestuur het. Selfs teen hoofwegspoed was verbysteek gemaklik. Wegtrek en ooppadspoed is sonder enige “traagheid” bereik. Inteendeel, daar was nooit ‘n situasie, selfs toe ons entoesiasties bestuur het, dat die Hybrid “lui” of “traag” gevoel het nie. As ‘n ou skool petrolkop word enige “hibriede”-tegnologie normaalweg redelik skepties begroet met ‘n goeie skeut antagonisme.

Teen my verwagting, na ek al die modelle beproef het, was die  Corolla Cross 1,8XS Hybrid my keuse as ideale gesinsvoertuig sou ek in die stad bly. Met die gemoedsrus van om nooit die “Hybrid” te hoef herlaai met ‘n kragkabel van ‘n Escom kragbron nie en boonop uitstekende brandstofverbruik wat ons eerstehands tydens ons ritte ervaar het, het ons nie veel verdere oortuiging nodig gehad nie!

Die Corolla Cross het gemaklik hanteer met uitstekende paddinamika en goeie greep deur draaie en esse toe ons bietjie kole gegooi het.

Opsomming

Die Toyota Corolla Cross 1,8 XS Hybrid is na ons mening die model wat die meeste gaan verkoop en daarmee gaan, wat ons betref, Toyota baanbrekerswerk doen om die negatiewe persepsie wat Suid-Afrikaanse motorkopers jeens hibriede tegnologie koester, die nek om te draai.

As jy enigsins twyfel oor wat ons hier sê, daag ons jou uit om die Corolla Cross Hybrid model te gaan toetsbestuur by jou naaste Toyota handelaar. Jy kan ons later bedank.

Beide die Coralla Cross en Corolla Cross Hybrid is finaliste in die SA Gilde van Motor Joernaliste se gesaghebbende SA Motor van die Jaar vir 2022 in verskillende kategorieë. My hoop en verwagting is dat die Hybrid model vanjaar met die louere sal wegstap as die 2022 Algehele SACOTY wenner.

 Pryse

Gaan besoek gerus jou naaste Toyota handelaar vir pryse van die modelreeks.

Die Toyota Corolla Cross modelreeks word verkoop met ‘n 90 000 km diensplan, ‘n 3 jaar/100 000 km waarborg,terwyl die hibriede model se batterypak vir 8 jaar/195 000 km gewaarborg word.

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Syngenta maak boere sterker met nuwe kleingraanswamdoder

UITVERKOOP: SA Kaasfeesgangers se koopkrag beïndruk na Covid-19 onderbreking