in , ,

TLU SA dien steeds die boer

TLU

This post is also available in: English

Te midde van ’n groeiende en baie ontstuimige landbouklimaat het die 121ste TLU SA-kongres vanjaar besondere belangstelling getrek. Daar is in baie duidelike terme oor die probleme in Suid-Afrikaanse landbou gepraat.

Internasionale media en verskeie verteenwoordigers van ambassades was ook daar om te hoor wat TLU SA se standpunte en strategie is.

Louis Meintjies

Louis Meintjes is weer as president van TLU SA verkies en tydens sy presidentsrede het hy die gevare van onteiening sonder vergoeding duidelik uitgestippel. Die onbedoelde gevolge van OSV is ook onder die loep geneem. “Kinders wat nie voldoende kos inneem wat op ’n doeltreffende, kommersiële manier geproduseer word nie, sal nie voldoende groei toon nie,” sê hy.

Oor die ware redes vir OSV het hy ook verklaar dat dit baie duidelik is dat die ANC die grondkwessie opbring om verlore steun te probeer herwin.

Hy het die regering ook gemaan om ’n draai deur die onlangse verlede te maak deur te sê: “TLU SA se lede het nie grond gesteel nie en tydens 1993 se onderhandelinge is daar duidelike skikkings oor grondeienaarskap bereik. Daar kan nie nou aan die grondwet gekarring word en aangevoer word dat grond gesteel is nie.”

Louis Meintjes het ook gesê dat kommersiële boere reeds miljoene aan die ophef van swart boere spandeer het, maar dit het nie die welwillendheid van die ANC gekoop nie.

Theo de Jager

Theo de Jager, president van die Wêreldlandbou-unie het TLU SA gelukgewens met die manier hoe hulle strukture binne en buite landbou betrek om boere se saak te ondersteun.

Adv Roelof du Plessis SC van die Brooklyn Advokatekamers het verligting vir die bekommerde boere gebring deur diep te delf in die wetlike aspekte van grondhervorming. Hy het die meganismes bespreek om onteiening sonder vergoeding met behulp van wetgewing te beveg.

Dr Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder, vorige leier van die Vryheidsfront Plus, sê dat die regering die “sondebokresep” gebruik om verlore steun te probeer terugkry. “Dit is wanneer jy mites skep en die verlede verdraai om dade in die hede te regverdig,” sê hy. Slim planne help nie as jy met die regering onderhandel nie. Jy moet ook iets hê om mee te beding. Boere kan ook die voedselsekerheid-, grondwet-, parlementêre en buiteparlementêre ondersteuningsroetes volg, sê hy.

Gareth van Onselen is ’n politieke kommentator, rubriekskrywer en betrokke by die Instituut vir Rasseverhoudinge. Hy het ’n baie onstellende prentjie oor die koste van anargie in Suid-Afrika geskets. “Die agterstand op die onderhoud van ons paaie is oor die triljoen rand en dit groei eksponensieel. Ons sal dit nooit weer kan inhaal nie,” sê hy.

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Bonnox se Ringlock® loop oor berge en dale

yara

Beeste presteer op selfgemengde lek en voer