in ,

Sypaadjietuine: ‘n Liefdestaak wat honger mense voed

This post is also available in: English

Ghalema Easton en Tawhid Denton, haar eggenoot, het met die aanvang van die Covid 19-inperking in 2020 ‘n sypaadjietuin in die suidelike voorstede van Kaapstad aangelê om vars groente te verskaf aan enigiemand in die buurt wat honger ly. Tisha Steyn het met Ghalema gesels.

Nie almal woon op plase nie, maar ՚n mens het nie groot stukke grond nodig om kos te verbou nie. ՚n Sypaadjie in ՚n voorstedelike woonbuurt is al ՚n begin.  Ghalema Easton en Tawhid Denton het die eerste sypaadjietuin in Dieprivier in Kaapstad begin en vandag is daar altesaam tien tuine wat liefde vir die medemens in aksie is.

 Agt van die tuine is deur inwoners op sypaadjies in die voorstede Dieprivier en Plumstead aangelê, terwyl daar nog een by St Michael’s Child and Youth Care Centre en een by die Victoria Hospitaal in Wynberg is.

 Ghalema en Tawhid maak nie van vandag af tuin nie – dit kom al ՚n lang pad. “Ons eet al die afgelope twaalf jaar groente uit ons eie tuin,” vertel die vrou met stralende lewenslus. “Ons het deurentyd familie en vriende aangemoedig om ook hulle eie kos te kweek.”

 Ghalema sê: “Ek wou al die jare vrugtebome op die sypaadjie plant, maar was bang die munisipaliteit gaan dit uithaal. Ek het op my Facebookblad, Creating Eden, video’tjies en wenke vir ՚n huistuin en die oes van saad begin om mense aan te moedig om hulle eie groente te plant in plaas daarvan om yslike grasperke te probeer onderhou. Jy weet, om selfonderhoudend te wees …

 “Toe die Covid-pandemie losbars kon ek in my kinders se oë sien dat hulle bang is vir die gebrek aan inkomste om hulle kinders mee te onderhou. Dit het ons laat besef dat baie mense hulle inkomste weens die inperking kan verloor en dat hulle nie hulle kinders sal kan voed nie.

Omdat ons al lank gekookte maaltye aan mense wat swaarkry verskaf, het die gedagte daaraan dat mense hulle tuistes kan verloor en honger ly, soos ՚n kanker aan my gevreet.

՚n Kennisgewing verklaar dat die groente gereed is om te oes.

 “Gedurende die eerste maand na die aankondiging van die inperking, het ek een aand vir Tawhid gesê ons moet dadelik begin vrugtebome plant. Toe ons die volgende oggend by die huis uitstap, het ՚n spookdorp buite op ons gewag: geen verkeer in die gewoonlik besige straat nie, geen mens in sig nie. Ons was die enigste twee buite en het gevoel as ons dan nou in hegtenis ge­neem moet word omdat ons op straat is, dan is dit ook maar reg so …

Gesonde grond lei tot gesonde groente.

“Ons het sewe vrugteboompies, met stink-afrikaners tussenin om die goggas weg te hou, geplant. Ons het onderneem om ons nuwe tuintjie ՚n maand lank kans te gee om te sien of die munisipaliteit dit verwyder voor ons dit verder uitbrei. Na ՚n maand was die tuintjie steeds daar en ons het ՚n groentebeddinkie geplant, en toe nog een, tot by die hoek …

“Tina, wat verder af in die straat woon, het een oggend voor my huis stilgehou en opgewonde gevra dat ek ook op haar sypaadjie ՚n tuin kom aanlê — en die sypaadjietuine is net daar gebore: My droom het uiteindelik vlerke gekry en ek is nederig dank­baar vir die ondersteuning van familie, vriende en bure.”

՚n Sypaadjietuin het ook ՚n afrikanerblommetjie nodig om die peste van die kosplante af weg te hou.

Toestemming

Volgens haar het ՚n mens nie toestem­ming van die Kaapstad-munisipaliteit nodig om ՚n sypaadjietuin aan te lê nie. “Ons raadslid het by ons aangesluit en gesê solank as wat ons sowat ՚n meter vir voetgangers toelaat, kan ons voortgaan met ՚n tuintjie op ՚n stuk nuttelose openbare grond. Die regering is baie bewus daarvan dat hongers­nood mense in die gesig staar en kan onmoontlik nie almal van voedsel voor­sien nie. Om die waarheid te sê, hulle moedig mense aan om kos in openbare ruimtes te plant waar almal toegang daartoe kan hê …”

՚n Sypaadjietuin langs ՚n besige straat in ՚n voorstad in Kaapstad.

Saad

Ghalema en Tawhid is albei pensioenarisse wat met oorgawe hulle dienste gratis aanbied. Die ander spanlede is twee werkers, Martin en Bedel, wat deur die eienaars van die huise wat die tuine aanlê, betaal word om te help.

“Ons verskaf plantjies en saad uit ons eie groentetuin,” vertel Ghalema. “Huiseienaars wat sypaadjietuine aan­lê, kan ook hul eie plantjies verskaf. Ons kry gewoonlik gratis perdemis van ՚n veilige hawe vir perde by Noordhoek, wat ons in die sandgrond inwerk. Ons gaan haal die mis vir bejaarde huiseie­naars wat dit nie self kan doen nie. Die onderhoud van die tuintjie is die huiseienaars se verantwoordelikheid, maar almal staan mekaar by en gee raad. Ons besoek elke twee weke al die tuine om te kyk of iemand hulp nodig het.”

So ՚n tuintjie is inderdaad die eerste tree na voedselsekerheid, al is dit op ՚n piepklein skaal.

Riglyne vir grondvoorbereiding:

  • grawe die sandgrond sowat ՚n halfmeter diep uit ; plaas ՚n dik laag perdemis in die gat; sif die sand om gras en klippe te verwyder en meng die sand met ՚n klompie ligte kompos en organiese materiaal soos vrugte- en groentereste, skille, teesakkies, koffiemoer en erdwurmmis of -tee;

• plaas die gekomposteerde sand­grond bo-op die laag perdemis en pak nog perdemis om die rand van die verhewe bedding;

• wanneer die bedding water gegee word, stel die mis, wat as deklaag dien, minerale vry om die grond te voed;

• plant die plantjies; en

• gee genoeg water.

Tawhid Denton en Ghalema Easton van Dieprivier in Kaapstad het met die aanvang van die Covid-19-pandemie begin sypaadjietuine maak.

Saad

“Ons oes al jare lank ons eie plante se saad en het altyd ՚n goeie klompie saad in voorraad om gratis uit te deel. Voor daar met ՚n nuwe sypaadjietuin begin word, plaas ons die nuwe adres op die webtuiste en dis wonderbaarlik hoe almal in die omgewing op die dag wan­neer die eerste sooi gespit word, saad of plantjies bydra.

“Soms gee mense net die saad of plantjies af, maar dikwels bly hulle om te help met die grondvoorbereiding en plantproses! Dis werklik wonderlik om te sien hoe die sypaadjietuine die gemeenskap weer saambring en hoe hulle vir mekaar omgee. Daar is ՚n verstandhouding dat elke nuwe eienaar van ՚n sypaadjietuin saad oes en aan die volgende een verskaf.”

Die huiseienaar het ՚n waterpyp vir besproeiing deur sy tuinmuur aangelê.

Water

Die gemiddelde sypaadjietuin is tussen tien en twintig meter lank en verg so­wat 100 liter water per dag gedurende die eerste maand. Die water help om die organiese materiaal in die grond af te breek. Daarna word plastiekkoeldrankbottels met gaatjies in strategies geplaas om goedkoop drupbesproeiing te verskaf.

Die koste van die water kom uit die eienaar van die sypaadjietuin se sak. “Wanneer ons ՚n potensiële nuwe tuin besoek is die eerste vraag of die huiseienaar ՚n boorgat, watertenks vir reënwater of 25 liter-kanne vir gryswa­ter het, wat gratis by munisipale punte verskaf word.”

By ՚n tuin in Dieprivier het die huiseienaar ՚n gat in die tuinmuur geboor om ՚n waterpyp aan te lê. “Ons eksperimenteer met drupbesproeiing wat water bespaar,” sê Ghalema. “Ons verfyn nog die proses, maar indien dit werk, sal ons al die eienaars help om dit in hul sypaadjietuine aan te bring.”

Hierdie huiseienaar het ՚n raamwerk van riete opgerig vir rankgroente.

Vir wie is die kos bedoel?

“Die doel van die tuine is om kos te verskaf aan enigiemand wat dit nodig het, hetsy die bure langsaan of oorkant die straat, bejaarde bure wat nie by ՚n winkel kan uitkom nie, werkers wat op pad stasie toe is om die trein werk toe te haal, sekuriteitspersoneel op hulle fietse, haweloses wat van deur tot deur bedel vir ietsie om te eet — met ander woorde, enigiemand wat by die tuin verbyloop en kos nodig het.”

Die pampoenplant stuur sy ranke tussen die beddings deur.

Klein kennisgewings op stukkies hout of klippe dui aan watter groente ger­eed is om te oes. “Ons het nog nooit enigiemand gehad wat die tuin moed­swillig verniel nie; dit verander eerder ՚n aggressiewe gemoed in ՚n dankbare siel…

“Ons is ons lewe lank mense wat vir ander omgee. Dis vir ons tweede natuur om mense te help voed met liefde. Ons sit maar net voort wat mense al eeue lank doen: plant saad, kweek kos en deel uit aan diegene wat dit nodig het — dit is so eenvoudig. As almal met ՚n omgee-hart gee, sal niemand honger ly nie — al wat nodig is, is om ‘ek’ en ‘myne’ te verander in ‘ons’ en ‘ons s’n’!”

Enigiemand wat ՚n sypaadjietuin wil aanlê, kan Ghalema kontak op die Facebook-blad @seedtofreefood Creating EDEN.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Desember 2021 – Trekkerverkope

Beperk bosvarkskade só: