in , , ,

Syferfontein Bonsmaras – In ons strewe na perfeksie

Syferfontein Bonsmaras het sy ontstaan gehad amper ses-en-twintig jaar gelede, en wat amper ‘n onbereikbare droom was het stadig maar seker ‘n realiteit begin word.

Nico Pieterse, welbekende Bonsmara-teler en eienaar van Syferfontein Bonsmara’s sê: “Al wat ek nog my lewe lank wou doen was om te boer!  Ons het as kinders grootgeword op ‘n melk- en ‘n saaiplaas en daar baie geleer van wat dit vat om ‘n suksesvolle en volhoubare beesboer te wees.”

Nico vertel ons meer: “Groot was my teleurstelling toe my pa in 1995 die melkery verkoop en my meedeel dat die melkbedryf nie meer winsgewend is nie. Hy het wel gesê dat ons met die geld wat ons uit die veiling genereer vir ons vleisbeeste kon koop. Ons was dit eens dat dit rooi beeste moes wees en met die liefde wat hy as student vir Oom Jan Bonsma ontwikkel het, sou dit dan ook niks anders as Bonsmaras wees nie.

In 1996 koop ons toe ook ons eerste 150 kommersiële Bonsmara koeitjies wat voorheen geregistreer was en toe gederegistreer is.  Ons het ons eerste bulle by Oom Arthur de Villiers gekoop en ek onthou nog goed dat dit ons eerste bul sy Lot 1 was, want Oom Arthur het gesê ‘n Lot 1 is altyd waarde vir geld!

Ongelukkig kom my pa in 1997 tot sterwe en ek is op daardie stadium nog besig met my landbou graad.  My ma het op toe nog gepraktiseer as ‘n veearts en aangebied om na die boerdery om te sien terwyl ek my studies voltooi.  In 1998 het my ma met die voorstel gekom dat ons ‘n stoet kudde registreer, omdat ons grond nie groot was nie sou dit die lewensvatbaarheid van die beesboerdery  bevorder deur die kudde te registreer en met hoër waarde diere te boer op ‘n kleiner area.

Oom Hennie Snyman het in 1998 ons eerste aanvaardings-keuring kom doen en van ‘n 150 koeitjies wat ons aangebied het is ‘n 130 goedgekeur.  Dit was vir ons ‘n groot dag en die begin van groot dinge, min het ons op daai stadium geweet hoeveel vreugde en genot die rooi beeste vir ons sou bring.

Ons het nog altyd die waarde van goeie genetika en kundige advies besef en met Ons Vader se genade het ons op daai stadium vir Arthur Jnr as kuddementor gekry en het ons probeer om die regte bulle te koop.  Ons het op daardie stadium bulle gekoop by Arthur de Villiers,  Dr Wesson van Rensburg en Oom Laurence Rafe.  Ons het altyd probeer om die beste bulle te koop wat ons kon bekostig.

SYF15-102 (Besondere dogter van SYF12-090) met Syferfontein se eerste LAR14-173 bulkalf wat aangebied was tydens Bonsmara SA se Nasionale veiling in 2019.

Ek en oorlede Oom Arthur de Villiers het goeie vriende geword en hy het dit sy missie gemaak om ons voor te stel aan die groter Bonsmara familie. Daarvoor sal ek hom ewig dankbaar wees.

In 2000 verkoop ons, ons eerste bulle op die Bonsmara Hoëveld veiling saam Dr Wynand Basson en Oom Gawie Pretorius op Standerton by die veilingskrale. Ons kry ‘n gemiddeld van R9 250.00 oor ons drie bulle en ons was so opgewonde en dankbaar.  Ek kon nie glo dat iemand bereid is om uit die jong Syferfontein Bonsmara kudde bulle te koop nie.

In 2003 het ons ‘n “Joint Venture” met Oom Arthur de Villiers Snr begin en van daar het ons nooit weer terug gekyk nie. Dit was die geleentheid waarna ons opsoek was.  Alhoewel die Syferfontein kudde goed op dreef was, was die ‘n enorme genetiese inspuiting.  Oom Arthur was nie net ‘n “cattlemen” in murg en been nie maar hy het ook ‘n groot liefde en belangstelling in mense gehad.

Nico lig ‘n paar punte uit: “As ek terugkyk oor die afgelope 25 jaar is daar ‘n paar goed wat ek geleer het wat my gehelp het om suksesvol met vleisbeeste te kon boer:”

  • Genetika – dit is die “blue print” van jou kudde.  Probeer altyd om die beste, beproefde genetika te bekom.  ERFDWANG sal ‘n groot rol speel in die sukses van jou kudde.
  • Mentorskap – dit is belangrik dat daar iemand is wat jy absoluut vertrou om die pad saam jou te stap en potensiële struikelblokke te vermy en geleenthede te kan raaksien.
  • Moenie die wiel herontwerp nie – daar is soveel navorsing oor jare gedoen dat mens nie nodig het om van voor te begin nie. Gebruik die inligting en tegnologie wat beskikbaar en bou daarop voort.
  • Teelbeleid – dit is belangrik om reeds vroeg in jou kudde se bestaan ‘n teelbeleid vir jouself te formuleer.  Maak 100% seker met watter tipe bees jy mee wil boer en watter eienskappe is vir jou belangrik.  As jy elke nou en dan jou teelbeleid verander sal jy nooit by die doellyn uitkom nie.
  • Seleksies – so belangrik goeie genetika is, so belangrik is seleksies. As mens nie die kudde selekteer en vorm nie sal jou kudde nie in die rigting ontwikkel wat jy graag wil hê nie.  Raak oor tyd van die diere ontslae wat nie aan jou vereistes voldoen nie.
  • Sentiment – wees eerlik met jouself en boer eerder met Blommetjie se kalf as met Blommetjie.
  • Holistiese en volhoubare benadering – omgewings verskil drasties, so maak seker jy boer met ‘n bees wat aangepas is in jou omgewing en wat tot sy reg sal kom.  Neem ook die behoeftes van jou kommersiële telers in ag.
  • Mense verhoudinge – as stoetteler moet jy goeie verhoudinge met jou mede telers koester. Die heel lekkerste van stoet teling is dikwels die interaksie met mede telers. “If you want to go fast, go alone, if you want to go far, go together.”
  • Integriteit en eerlikheid – tree altyd met integriteit en eerlikheid teenoor jouself en mede telers op.

  • Bereidwilligheid om te luister en te leer – moet nooit die wil en die vermoë verleer om te luister en te leer nie. Met elke keuring en elke telers besoek leer ek nog en dink ek dit is ontsettend belangrik om by te bly by ‘n kompeterende en konstant veranderende bedryf.

  • BOER MET PASSIE EN OORGAWE en berus by dinge waaraan jy niks kan verander nie.

Syferfontein Bonsmara’s nooi julle hiermee uit na hulle 23ste Produksieveiling, die 14 Julie 2022.

Op aanbod:

  • 70 Bulle
  • 70 Vroulike diere

Kontak vir Nico Pieterse 082 853 1525 of Abraham Manser 082 441 0465 vir navrae of vir vooraf besigtiging van die diere.

Facebook skakel: https://www.facebook.com/syferfontein/

Webwerf skakel: http://www.syferfonteinbonsmara.com/

Instagram skakel: https://www.instagram.com/syferfontein_bonsmaras/

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Corteva Agrisciene™ – meer as net chemie

Syferfontein Bonsmara’s 23ste Produksieveiling, 14 Julie 2022