in ,

Stygende insetkoste knou boere regoor Suid-Afrika

Immer stygende insetkoste vir boere wek kommer by boere, landbouorganisasies en ekonome. Die afgelope maande het die prys van verskeie noodsaaklikhede boerderye oral in die land geknou.

“Die prys van kunsmis, onkruiddoder, verpakking, diesel, elektrisiteit en arbeid, om net ՚n paar te noem, styg drasties en maak dit byna onmoontlik vir talle boere om kos op ՚n volhoubare wyse te produseer,” het Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, onlangs in ՚n mediaverklaring gesê.

Dawie Maree, FNB se hoof van landbou-inligting en -bemarking, sê die hoofrede vir dié stygings is globale faktore. “Die styging in die internasionale olieprys het gelei tot die styging van ons brandstofpryse. Dit het ook gelei tot die styging in pryse van kunsmis en ander chemikalieë, omdat dit byprodukte is.

“Tweedens het die aanvraag na kunsmis op internasionale vlak toegeneem, veral in Sjina. Derdens was daar ՚n massiewe toename in verskepingskoste, wat ook gehelp het om pryse te laat styg.”

Agri SA het ՚n beroep op alle belanghebbendes, insluitende die regering, gedoen om in te gryp om die koste van noodsaaklike insette te verminder om ՚n dreigende krisis ten opsigte van volhoubare voedselproduksie en eindelik ook voedselsekuriteit te voorkom.

Dr Theo de Jager, direksievoorsitter van die organisasie, Saai, sê die stygende insetkoste gaan verskeie gevolge hê, waaronder hoër kospryse. Verbruikers sal volgende jaar ՚n deel van die rekening van duurder kunsmis, spuitstof, diesel en arbeid moet betaal.

Hy sê: “Die groot vraag is tot watter mate die stygende insetkoste deurgegee gaan word aan die verbruiker, of verbruikers bereid gaan wees om die volle koste daarvan te betaal en of dit boere se winsgewendheid gaan beïnvloed. Dit is waarskynlik dat daar ՚n afname in boere se winsgewendheid gaan wees, wat maak dat boere onseker is oor of dit die moeite werd is om vanjaar sekere lande en boorde te plant en te versorg.”

Volgens hom is daar aan die een kant ՚n vooruitskatting vir ՚n laer aanbod van basiese voedselsoorte in 2022, wat tot hoër pryse sal lei. Aan die ander kant is dit in die huidige plantseisoen moeilik om finansiering te kry weens probleme met die Landbank en ontoeganklikheid van ander bronne vir kommersiële boere.

Theo sê dié onsekerheid veroorsaak reeds dat boere nie dieselfde aantal hektare bewerk as wat voorheen die geval was nie.

Op die vraag oor watter praktiese stappe boere kan doen om in dié onsekere tye steeds ՚n bestaan te maak, sê Theo boere moet wysheid aan die dag lê in hul produksiebeplanning vir die komende seisoen.

“Dit is belangrik om te prioritiseer op die plaas en allereers jou belegging te maak in die vertakkinge van die boerdery waar die lande, boorde en weidings van die grootste moontlike inkomste en wins verseker is, en vandaar besluite oor die meer marginale dele van jou onderneming te neem.”

Theo sê voedselsekerheid beteken lankal nie meer dat ՚n land alles produseer wat hy verbruik nie. Dit beteken dat ՚n land genoeg produseer van dit waarin hy ՚n mededingende voordeel het sodat hy uit die kosmandjie kan ruil vir dit waarin hy nie ՚n mededingende voordeel het nie.

“Dieselfde geld op ՚n plaas. ՚n Plaas moet nou eers konsentreer op daardie toekomstige oeste waarin hy ՚n mededingende voordeel het sodat hy volgende jaar ՚n voorkeurproduk in die mark kan stoot voordat hy gaan kyk na daardie vertakkinge waarin sy mededingendheid op ՚n laer vlak lê.”

Intussen het Agri SA ՚n beroep op verskeie regeringsdepartemente gedoen om stappe in sekere sektore te doen om insetkoste vir boere te verminder. Die organisasie het vir onder meer die ministerie van Handel en Nywerheid gevra om in gesprek te tree met die landbousektor en ander belanghebbendes om die produksie van Foskor te optimaliseer en te verseker dat die landbousektor baat vind by gereelde verskaffing en bekostigbare pryse.

“Dit is noodsaaklik, omdat verskeie groot vervaardigers van kunsmis in Europa gedwing is om vervaardiging af te skaal weens die hoër koste van gas.”

Agri SA het ook ՚n beroep op die departement van Minerale en Energie gedoen om die brandstofprys onmiddellik te dereguleer.

“Ons kan nie langer gyselaar gehou word deur beleide of beleidmakers wat meer mag vir die regering soek oor die ekonomie en kritieke kommoditeite soos brandstof, elektrisiteit, water en gas nie. Hierdie beroep word ondersteun deur die Tesourie, wat in 2019 reeds voorgestel het dat die land se brandstofprys dereguleer moet word.”

Volgens Christo Van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, het Suid-Afrika toegang tot ՚n oorvloed van steenkoolreserwes. “Hierdie hulpbron moet optimaal gebruik word om goedkoper brandstof beskikbaar te maak aan alle ekonomiese sektore en veral die landbousektor.”

Op die vraag oor wat die regering kan doen om druk op boere te verminder, sê Dawie Maree van FNB dat baie gesê kan word, maar ՚n mens weet dat min gedoen sal word: “Die regering moet net ՚n sake-vriendelike omgewing skep en die mark ՚n groot rol laat speel. Die regering kan die bedryf help deur meer markte oop te maak of net voordelige handelsooreenkomste vir ons produkte onderhandel.”

Dawie sê die regering kan verder ook die belasting en ander administratiewe heffings op brandstof verminder om die bedryf, asook die verbruiker, te help.

TLU SA het onlangs in ՚n mediaverklaring gesê indien die regering nie aktief ingryp en die probleme by Eskom oplos nie, sal dit produksie verder belemmer.

“Waar daar onvoldoende kragtoevoer is om lande te besproei, is die uitkoms permanente skade aan opbrengste en dit lei tot verdere verliese. Die regering moet ook die vasstelling van minimumlone heroorweeg. Arbeid, veral in landbou, raak onbekostigbaar wanneer ՚n mens kyk na die winsgrens en insetkoste,” lui die verklaring.

“Van georganiseerde landbou se kant af durf ons nie ophou om druk op die regering te plaas om ՚n gesonder beleidsomgewing te skep nie, maar boere het nie die tyd of die kapasiteit om daarvoor te wag nie. Ons moet doen wat ons hand vind om te doen. Produseer wat jy kan produseer met dié hand, want volgende jaar gaan die wêreld dit bitter nodig hê,” sluit Theo de Jager af.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Timberg Quality Timber

Boerbokbedryf groei sterk en gesond