in

Stud-Game-Breeders-veiling-gee-die-toon-aan

Groot opwinding het by die jaarlikse Stud Game Breeders veiling geheers toe ‘n hele rits rekords gespat het. Op hierdie unieke katalogus-veiling, wat anders werk as gewone boma-veilings, word diere regstreeks vanaf die teler by die koper se plaas afgelewer sodat die diere die minste moontlike spanning ondervind.

Voorverkoop-plaasbesoeke word ook gereël sodat kopers die diere wat aangebied word in hulle natuurlike omgewing kan beskou. Daarbenewens het potensiële kopers ook die geleentheid om die moeder- en vaarlyne in hulle natuurlike omgewing te sien.

In ‘n poging om hervorming in die wildbedryf, te bevorder, is Cyril Ramaphosa, eienaar van Phala Phala Wildlife asook lid van Stud Game Breeders, genooi om die veilingshamer op die eerste lot te slaan. Die dier was ‘n Goue Wildebeesbul, " Sunrise " wat deur die lede van Stud Game Breeders ® geskenk is om fondse vir hervormingsprojekte by te dra. Die dier het ‘n allemintige R 750 000 behaal.

Die wildboere het daarna met oorgawe gebie en verskeie rekords verbeter:

Jacques Malan van Lumarie se saalrugrooibokram (nege maande oud) het ‘n allemintige R875 000 behaal en die verbasing was groot toe dié rekord twee lotte verder vir R900 000 weer gespat het.

Twee volwasse middernagrooibokooie wat Dinaka Game Reserve van Johan Bosch aangebied het, het vir R380 000 elk verkoop. Teenwoordiges het asem opgehou toe ‘n volwasse midernagrooibokram van 2 jaar en 9 maande net daarna vir ‘n spoggerige R510 000 verkoop is. Nyumbu Game van Norman Adami het die dier aangebied.

Die laaste bod was die hoogtepunt van die dag, toe ‘n Oos-Afrika-buffelvers, aangebied deur Nyumbu Game van Norman Adami, vir R3,4 miljoen verkoop is.

‘n Skare van 1 700 belangstellendes, waarvan 388 is geregistreerde kopers was, het by die veiling opgedaag. Die 23 volwasse buffels en 3 buffelskalwers, asook die 214 volwasse en 21 jong bokke wat aangebied is, het gelei tot ‘n veilingsverkooptotaal van R130 453 000.

Vleissentraal Bosveld en die afslaer, Brandon Leer, was aan die stuur van sake op die veiling wat by Mbizi Lodge buite Warmbad aangebied is.

Volgens Richard Morton van Tembani, is Stud Game Breeders® se doel om uitsonderlike diere in die beste toestand aan kopers te voorsien. "Ons visie is om voortdurend die beste genetiese materiaal uit te soek en te verbeter. Daardeur wil ons gehalte voorraad terugteel wat deur jag, siektes en verliese in habitat verdwyn het.

“Stud Game Breeders se strewe is om diere op dieselfde vlak te teel as die uitstekende rekords wat in die vroeë 1900’s aangeteken is. Uitsonderlike diere, soos die buffelbul van 62 en 6/8 duim, dien as maatstaf waarna Stud Game Breeders® streef. Ons glo dat ons noemenswaardige vordering gemaak het om diere soos dié weer terug te bring in die werklikheid.”

Vir enige navrae kontak Niel Swart van Vleissentraal Bosveld by 082-554-3070 of e-pos dds@telkomsa.net.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Sitrusbedryf-verwelkom-siekte-opspoorder

Sterker rand maak wolmark sagter