in ,

Stroperkoop: Belê só in ‘n goeie oes

This post is also available in: English

‘n Stroper is ‘n groot belegging en span die kroon op die seisoen se oes. Dit help om te weet presies wat in die pens van die stroper gebeur voor jy jou keuse maak: Nadat die mielieplukkerkop of koringtafel die materiaal afgesny en met sy awegaar of vervoerband na die middel vervoer het, voer ‘n hyser dit deur die stroper se bek of voerkamer na die dorsdrom. Net voor die dorsdrom is ‘n klipvanger wat bloot op die beginsel werk dat klippe swaarder as plantmateriaal is en dus in die klipvanger sal val. ‘n Doeltreffende klipvanger bespaar heelwat moontlike skade aan ‘n stroper se meganisme. Die draaiende dorsdrom of -silinder se gegroefde rasperstawe van staal werk teen die konkaaf (‘n halfdrom met staalstawe en ‘n stewige maasrooster) om die materiaal te pluis en die eerste skeiding van korrels en kaf te bewerkstellig. Die pitte en kleiner kafdeeltjies val deur die konkaaf se maasrooster tot in die graanpan terwyl die groter stronke, stingels en stamme na die strooiskeiers (straw walkers) gevoer word. Die spoed waarteen die dorsdrom draai en die afstand tussen die dorsdrom en konkaaf kan verstel word om die doeltreffendste skeiding van verskillende gewasse te bewerkstellig. Vir die verwydering van garsagtige gewasse se baard is daar spesiale plate wat aan die konkaaf gemonteer kan word om meer wrywing toe te pas.

Daar is twee verskillende soorte dorsdromme in die stroperbedryf beskikbaar: Die konvensionele of dwarsdromstroper en die rotor- of asvloeistroper. Waar die konvensionele stroper se dorsdrom dwars gemonteer is, is die rotorstroper se rotordrom oorlangs gemonteer, met plate soortgelyk aan die konvensionele stroper se rasperstawe. Elkeen van hierdie opsies het vooren nadele, maar met die ontwikkeling van die tegnologie raak die nadele al hoe minder sodat ‘n mens werklik nie kan sê dat daar ‘n slegte stroper in die mark beskikbaar is nie. Daar is vandag selfs kombinasiestropers wat dwarsdromme sowel as rotors het in ‘n poging van die vervaardigers om die boer die beste van albei opsies te bied. Die dwarsdromstroper verniel die kaf minder sodat dit vir veevoer gebaal kan word, maar die hedendaagse rotorstropers werk darem mooier met kaf as die eerste modelle.

‘n Dwarsdromstroper is ook minder skrikkerig vir klam of nat materiaal as ‘n rotorstroper en hy vereis minder enjinkrag, alhoewel heelwat moderne dwarsdromstropers sterker enjins het waarmee hulle prestasie heeltemal vergelykbaar met rotorstropers s’n is. Die voordele van ‘n rotorstroper is dat dit minder onderdele het, dat dit vinniger as die ou konvensionele stropers met die kleiner enjins stroop en die belangrikste is dat dit sagter werk met breekbare pitte soos bone. Skuinstes het ook nie so ‘n groot invloed op rotorstropers as op konvensionele dwarsdromstropers nie, maar tog is daar deesdae dwarsdromstroperontwerpe wat hulle net so opgewasse vir skuinstes maak. Sommige boere sweer by konvensionele dwarsdromstropers en ander by rotorstropers, maar stropervervaardigers ontwikkel hulle produkte so flink en vinnig dat daar vandag bitter min tussen die twee te kies is.

Kafskeiding

Nadat die pitte deur die dorsproses van die plantmateriaal losgemaak is, moet die pitte wat nog steeds met kaf vermeng is geskei word. Daarvoor beweeg die materiaal oor die strooiskeiers wat die strooi skud sodat die pitte, wat kleiner en swaarder is, ondertoe kan uitval vanwaar dit met ‘n awegaar of bakkieshyser na die stroper se graantenk vervoer word.

Die kaf beweeg oor die strooiskeiers en siwwe na agter en word agter die stroper op die land uitgewerp. Net soos die oumense die getrapte koring met gaffels in die lug opgegooi het sodat die wind die ligter kaf moet wegwaai terwyl die swaarder korrels terugval om opgetel te word, blaas ‘n sterk waaier in die stroper die kaf agter uit, terwyl die korrels terugval om na die stroper se graantenk vervoer te word. Maar vir wind om hierdie wanproses te laat werk, hoef nie boer nooit te fluit nie – die stroper se waaier fluit sommer self.

Waarna moet die boer kyk?

Alhoewel ‘n mens vandag seker nie ‘n stroper kry wat as swak of ondoeltreffend beskryf kan word nie, kan die volgende wenke miskien tog die boer help om nie dalk belangrike oorwegings oor te slaan as hy ‘n stroper kies nie:

  • Pas die stroper by die grootte en aard van my boerdery? ‘n Stroper moet vinnig genoeg kan stroop om die boer se oes binne ‘n redelike tydperk in te samel, maar dit help ook nie om te oorkapitaliseer deur die reusagtigste stroper vir kleiner aanplantings te koop nie.
  • Die stroper moet al die soorte graan wat die boer beplan om te plant, kan stroop.
  • Die boer en plaas se landbouomstandighede moet in ag geneem word. As die plaas heuwelagtig is en stroopwerk langs skuinstes moet geskied, sal die boer byvoorbeeld eerder ‘n rotorstroper of ‘n dwarsdromstroper wat vir skuinstes ontwerp is aanskaf, en ook een oorweeg waarvan die voerkamer kan kantel om die plukker of koringtafel deurgaans gelyk met die grond te hou.
  • Daar is vandag seker nie ‘n stroperenjin wat te swak is om sy werk te doen nie, maar tog moet die boer wat teen bulte op en af stroop of wat moeilike, digte besproeiingsgewasse stroop seker maak dat die stroper wat hy aanskaf die nodige enjinkrag en die regte kragoordragstelsel het om vas te trap wanneer dit nodig is. Stroop is altyd ‘n stowwerige werk. Dit is uiters belangrik dat die stroper se enjin doeltreffend teen stof en sand beskerm moet word.
  • Die stroperkapasiteit en die inhoudsmaat van die stroper se graantenk moet by die aantal en grootte tapkarre en massasleepwaens of wegryvragmotors pas, sodat die stroopproses gladweg, doeltreffend en ekonomies kan geskied.
  • Die boer moet seker maak dat die aflaai-awegaar lank en hoog genoeg is om in sy tapkarre of massasleepwaens of -vragmotors te kan oorlaai en dat die oortapproses vinnig genoeg na sy behoefte geskied.
  • Die boer moet besluit of hy outostuur of satellietnavigasie aan sy stroper wil hê. Dit is wel duur, maar dit verbeter produktiwiteit en verminder graanverlies. Vir presisieboerdery is satellietverbinding noodsaaklik.
  • Dit is aan te beveel dat die boer wat dikwels in nat of uiterste sanderige omstandighede moet stroop seker moet maak dat die stroper wat hy koop voorsiening moet maak vir die montering van rusperbande.
  • Hoe geriefliker die stroper se kajuit is, hoe langer en hoe akkurater kan operateurs werk.
  • Die voerkamer moet geskik wees vir die aanhegting van elke soort oestoestel wat die boer sal wil monteer en moet hoog genoeg optel sodat die koringtafel, plukkerkop of opteller nie aan walle vashaak terwyl daar met die stroper gery word nie.
  • Dit moet flink op kontroles reageer en so kan terugdraai dat daar maklik van enige moontlike verstoppings ontslae geraak kan word.
  • Dit is noodsaaklik dat die stroper ‘n doeltreffende klipvanger moet hê.
  • As die boer beplan om verskillende gewasse te stroop, moet die stroper se dorsmeganisme maklik en gou van gewas na gewas omgeskakel kan word.
  • Die meeste stropers se fyn instellings kan deesdae vanuit die kajuit gedoen word. Dit bespaar tyd en verhoog produktiwiteit. Dit is noodsaaklik dat ‘n stroper skoon moet kan stroop, want dit is nie lonend om kaf en klippies aan te ry silo’s toe nie. (Daar is graankopers wat ‘n persentasie by alle graan wat hulle koop aftrek vir onsuiwerhede… en daar is boere wat dan hulle stropers so stel dat hulle nie heeltemal skoon stroop nie, maar aan die koper die persentasie onsuiwerhede gee wat hulle van die prys aftrek.)
  • Hoe doeltreffender die eerste dorsproses plaasvind, hoe minder vuil graan is daar wat die stroper terug na die dorsdrom moet voer vir ‘n tweede kans en hoe doeltreffender en flinker verloop die stroopproses.
  • Voordat die boer ‘n stroper koop, moet hy seker maak dat dit aan sy kafbestuursbehoeftes voldoen. Plantreste speel immers ‘n belangrike rol, of dit nou vir veevoer, grondbedekking of organiese aanvulling van die grond is.
  • Gedurende die stroopseisoen is daar geen tyd te vermors op ‘n plaas nie. Daarom moet die stroper se daaglikse onderhoud en versiening maklik en eenvoudig wees sodat dit vinnig gedoen kan word voordat die stroper sy werk hervat.
  • Soos met enige ander landboutoerusting, is die boer se belangrikste oorweging in die aankoop van ‘n stroper die betroubaarheid en kundigheid van die handelaar en die beskikbaarheid van onderdele en diens wat die boer in staat moet stel om sy stroopseisoen met die minimum staantyd te voltooi.

Met die groot lande waarop boere deesdae plant, werk operateurs dikwels lang ure en daarom moet stropers so maklik hanteerbaar en operateursvriendelik as moontlik wees. Met presisieboerdery wat al hoe belangriker word, is dit noodsaaklik dat stropers die oes presies moet kan moniteer en aanteken, sodat kunsmistoediening en plantdigtheid vir die volgende jaar volgens die opbrengs bepaal kan word.
Met die groot lande waarop boere deesdae plant, werk operateurs dikwels lang ure en daarom moet stropers so maklik hanteerbaar en operateursvriendelik as moontlik wees. Met presisieboerdery wat al hoe belangriker word, is dit noodsaaklik dat stropers die oes presies moet kan moniteer en aanteken, sodat kunsmistoediening en plantdigtheid vir die volgende jaar volgens die opbrengs bepaal kan word.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Kubota se L45 maak boere se lewe makliker

‘n LEMKEN-vloot is slaggereed vir vyandige droogtes