in , ,

Strooptyd: Berei reg voor en gly gladweg deur die land

This post is also available in: English

Strooptyd is aan die kom en vir die boere wat na die droogte geseënd genoeg is om iets te hê om te stroop, is elke pit belangrik. Dit is nou die tyd om alle strooptoerusting na te gaan en reg te kry vir ’n voorspoedige en gelukkige stroopseisoen.

Alle tyd wat nou aan voorbereiding bestee word, is staantyd wat jy bespaar wanneer die stropery eers begin het. Dit is baie beter om vir onderdele wat bestel moet word te wag terwyl die stroper nog voor strooptyd in die skuur staan as wanneer hy in die land staan en die hele stroopproses tot stilstand knars.

Die volgende nuttige wenke kan die boer help om nie per ongeluk ’n stap in sy voorbereiding vir die stroopseisoen oor te slaan nie.

Die stroper

Maak nie saak hoe groot, hoe blink, hoe rooi, geel of groen jou stroper is nie, hy bly ’n masjien en enige masjien werk op sy beste as hy die aandag kry wat hy nodig het:

  • Gaan voor strooptyd die enjin na. Vervang die diesel-, lug- en oliefilters en die olie en koel-middel indien nodig.
  • Ondersoek al die wiele, dryfbande, kettings, pype, laers en aandrywingsonderdele. Dit is baie makliker om vooraf rustig ’n dryfband in die skuur te vervang as op die land terwyl die tapkarre en wegryvragmotors ledig staan en wag. Vervang alles wat lyk of hulle dit nie deur die oestyd gaan maak nie.
  • Ondersoek al die stroper se onderdele noukeurig van voor tot agter – onthou die snyerstaaf, messe en sleeplate.
  • Maak die stroper deeglik skoon al het jy dit na die vorige oes gedoen. Verwyder alle plantmateriaal, ghries- of olieaanpaksels en knaag-dierneste. Hou die laers regdeur die strooptyd skoon van stof en plantreste.
  • Verstel en kalibreer die opbrengsmonitors, GPS-stuur en ander meters om seker te maak dat hulle die regte inligting deurgee en akkuraat werk.
  • Lees weer ’n slag die stroper se handboek en verstel die stroper volgens opbrengsverwagtinge en landtoestande, veral as jy tussen mielies en soja oorskakel.
  • Ghries die stroper en kyk terselfdertyd of daar los, beskadigde of verlore boute, moere of skroewe is. Tydige optrede kan groot skade voorkom.
  • Gaan die awegaarspirale en -laers na en sorg dat dit gereed is om betroubaar en flink oor te laai.

Die land

  • Gaan kyk na die lande en bepaal strooproetes om dinge soos slote, walle en moontlike sand- of nat kolle die beste te benader. Maak seker dat alle stroperoperateurs van alle moontlike moeilikhede bewus is en weet hoe om dit te hanteer.
  • Slingeronkruid kan baie lastig wees, veral wanneer soja gestroop word. Dit mag wys wees om te wag totdat hierdie plante droog is voordat jy stroop, maar moenie wag totdat die sojapeule begin oopbars nie.

Tapkarre

’n Flukse stroper help niks as die tapkarre nie die oes kan uitry nie:

  • Ondersoek die oorlaai-awegare vir slytasie of foute en maak reg.
  • Ondersoek en versien of vervang dryfbande, hidrouliese pompe, pype en  silinders, ligte en die kragaftakker.
  • Maak seker al die wielboute is deeglik vas en die bande is reg gepomp en sonder lekkasies.
  • Gaan die ratkas se olievlak na.
  • As die tapkar ’n skaal het, maak seker dat dit akkuraat  weeg.

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

‘n LEMKEN-vloot is slaggereed vir vyandige droogtes

Crop-Tech se Jumil-planter red boer na droë voorjaar