in ,

Stroop en strooi sonder mors met JWL se hulp

This post is also available in: English

“Ek kan nie dink dat iemand wat soja plant nie met so blaser stroop nie,” sê DC Portwig van Standerton. Die blaser waarvan hy praat, is die Advanced WIND-REEL Systems of AWS wat voor aan die stropertafel geheg word.
Hy sê: “Veral as ’n boer nie die stoppelland gebruik vir skaapweiding nie, dan sou ek sê hy moet ernstig kyk na die AWS-blaser om vermorsing te voorkom.”
DC en sy pa, Manie, was van die eerstes om die WIND-REEL wat deur Werner Nel van JWL Landbouvoorsieners in Ermelo ingevoer word, te toets. Hulle het ’n stukkie klaar gestroopte land uitgemerk en die pitte op die grond getel om te kyk watter verskil maak die AWS en hulle was aangenaam verras.
Uiteindelik, toe die hele oes gestroop is, kon hulle bepaal dat hulle gemiddeld 125 kg/ha meer gestroop het as vantevore. Op ’n duisend hektaar is dit nogal ’n aardige tonnemaat en ’n klompie geld in die sak. Wie sal nee dankie sê vir 125 000 kg ekstra soja en die geld wat jy daarvoor kan kry?
In die Vrede-omgewing in die Oos- Vrystaat het Frans Kruger gevind dat hy tot 150 kg/ha meer soja herwin het op sy 1 800 hektaar. Hy sê die blaser werk baie mooi om sojapitjies wat wil uitspring of halms wat op die lem bly lê om later af te val netjies in die koers te stuur waar hulle hoort, naamlik in die awegaar om stroper toe te gaan.
Frans sê dit was kinderspeletjies om die blaser aan die stropertafel te Koppel en dit werk baie mooi saam met sy John Deere S670-stroper. Geen aanpassings was nodig nie en hy waardeer dit dat hy die windsterkte en spoed vanuit die kajuit kan stel.
Hoe dit werk
Die eenheid het ’n groot waaier wat langs die stropertafel monteer word, met ’n buis/pyp wat voor die tafel pas en waardeur die lug dan eweredig versprei word voor dit deur spuitstukke afgevoer word om die soja in die stropertafel se awegaar te blaas soos die gesny word.
Die WIND-REEL is geskik vir konvensionele awegaarstropertafels vanaf 4,5 m (15’) tot 12,2 m (40’) , asook vir tafels wat met vervoerbande werk. Dis pas maklik aan al die bekende handelsname in stropertegnologie.
Die voordeel is nie beperk tot die opvang van korrels wat uitspring nie. Omdat die graan vinniger ingevoer word en nie op die messe bly lê nie, kan die stroper ook vinniger werk sonder onnodige vermorsing.
’n Ander voordeel is dat die soja egaliger ingevoer word en nie bondeltjies maak nie. Dit beteken die stroper werk gladder en vinniger en gaan ook langer hou.
Nie net soja
Naby Volksrust vertel Wouter Kruidenier dat hulle nie net soja met die WIND-REEL gestroop het nie, maar dit sommer ingespan het vir sorghum ook. Hulle wou kyk hoe werk die stropery sonder ’n rygewastafel en was heel beïndruk met die blaser se vermoë om die are wat voor wou uitval terug te blaas. Die WIND-REEL werk perfek saam met die grondvolgende fleksietafel.
By die soja het die blaser “’n hengse verskil” gemaak. Wouter sê hulle het die AWS-blaser halfpad deur strooptyd gekry en wou nie tyd mors met behoorlike proefnemings nie, maar hy het ook op die grond die pitte getel en in die blok wat met die blaser gestroop is was daar omtrent die helfte minder pitte op die grond as in die gedeelte wat sonder die blaser gestroop is.
Hy glo hulle opbrengs was tussen 80 en 100 kg/ha meer as gevolg van die blaser. “Daai ding is fantasties.”
Bemes sonder mors
Nog ’n wapen teen vermorsing wat deur JWL Landbouvoorsieners verskaf word, is die Montag-kunmiskar vir die strooktoediening van korrelkunsmis. Met die astronomiese pryse van kunsmis is dit belangrik dat elke korrel tel. Die Montag laat elke korrel tel deur dit toe te dien presies daar waar die gewas dit kan bykom en nodig het. Wouter-hulle gebruik nou die Montag vir die tweede seisoen en hy sê hulle doen ook nou ’n vergelykende proefneming op hulle soja.
Hulle het op 100 hektaar kunsmis met ’n gewone breedwerpige strooier toegedien en op die res van die lande die kunsmis met die Montag in die plantrye geplaas. Wouter sê die gewone strooier hou minder kunsmis op een slag as die Montag se 5 ton, maar werk baie vinniger omdat die kunsmis net wyd uitgestrooi word.
Hy glo egter dat die blitsige en stewige plantegroei sal opmaak vir enige bykomende tyd wat gedurende planttyd gebruik word.
“Die kunsmis wat deur die Montag geplaas word, is dadelik beskikbaar vir die plantjies se wortels en natuurlik, hoe vinniger die wortels groei, hoe beter groei die plante en hoe stewiger staan hulle,” sê hy. Dit was veral op die jong mielies wat hulle verlede jaar die verskil gesien het.
Hoe dit werk
Die Montag kan op sy eie karretjie loop of op ’n werktuig monteer word sodat die kunsmis tydens grondbewerking toegedien kan word. Die groot bak kan vyf ton kunsmis dra en sy bek is groot genoeg om massasakke met ’n telehanteerder daarin leeg te maak.
In die bak is wurms (awegare) wat die kunsmis roer en agterop is ’nhidroulies aangedrewe waaier wat die kunsmis deur ’n akkurate uitmeter en verdeler na die pype blaas. Elke pyp se kunsmis word indiwidueel uitgemeet deur Montag se unieke vlekvrystaaluitmeter.
Die meter werk op dieselfde beginsels as ’n sikloon. Die kunsmis word in elkeen van die lugkamers ingevoer waar dit dan versnel/aangedryf word deur ’n kolkende lugstroom wat teen 3 000 opm beweeg. Die kunsmis verlaat die lugkamer teen tussen 128 en   160 kmu.
As gevolg van die presiese uitmeting, kan die Montag ook baie sinvol as deel van ’n presisieboerderystelsel gebruik word.
Wouter sê dit is maklik om die Montag te kalibreer, maar as ’n boer onseker is, is Werner Nel en sy span van JWL gou op die plaas om te kom help.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Skei die korrels van die kaf met LEMKEN se Solitair-planter

Tractor Warehouse dien boere met slim tegnologie