in ,

Spruite by mielies: Oorsake en die invloed daarvan op die hoofplant

This post is also available in: English

deur Pioneer Agronomie

Spruite, die bykomende stamme wat ontwikkel uit ondergrondse knoppe, kom gereeld voor by grasse. By koring en ander kleingrane is spruitvorming ՚n belangrike komponent om gapings in te vul.

By mielieverbouing raak boere egter ongemaklik met die verskynsel indien dit wel voorkom. Dit is reeds vir jare ՚n baie aktuele onderwerp by boere en die menings daaroor is ook uiteenlopend.

Redes vir spruitvorming by mielies

Spruite is laterale stamme wat uit ondergrondse knoppe vorm. Die aantal spruite wat uit hierdie knoppe ontwikkel hang af van die plantbevolking, grondvrugbaarheid en klimaatstoestande vroeg in die seisoen, asook die genetiese boustene van die mieliebaster. Sekere basters spruit vir seker meer as ander, maar byna enige baster sal spruit indien dit die ruimte en voeding gegun word om dit te doen. Spruitvorming is meer waarskynlik wanneer daar vroeg in die seisoen ՚n oormaat water en voedingstowwe beskikbaar is vir die plant. Basters wat meer geneig is tot spruitvorming maak een of meer spruite by selfs hoë plantbevolkings, veral as die klimaatstoestande ook gunstig is.

Spruite dreineer nie die hoofstam nie

In vroeë navorsingstudies is die spruite vroeg in die seisoen verwyder en later vergelyk met die plante waarvan die spruite nie verwyder is nie. Hierdie studies het aangetoon dat spruitverwydering nooit die opbrengs verhoog het nie, maar meestal verlaag het. Later is blaarverwyderingstudies gedoen, om die verwantskap tussen die spruite en hoofstam en die moontlike vloei van voedingstowwe beter te verstaan.

՚n Proef is gedoen op ՚n land met ՚n baie lae plantbevolking sodat daar groot spruite op die plante kon ontwikkel. Die blare aan die hoofstam is dan vroeg in die graanvulstadium verwyder. Helfte van die plante wat ontblaar is het spruite aangehad en die ander helfte nie. Blare op die spruite is net so aan die stamme gelaat en die uiteinde was dat plante met spruite byna dubbel die opbrengs gehad het as plante sonder spruite. Hieruit kon afgelei word dat daar ՚n verband bestaan tussen die vloei van voedingstowwe tussen die hoofplant en spruite.

In meer onlangse navorsing is radioaktiewe koolstof gemerk en die vloei daarvan deur die verskillende plantdele is deur die seisoen gevolg. Daar is in hierdie studies gesien dat daar voor blom baie min beweging van voedingstowwe tussen die hoofstam en spruite plaasvind. In teenstelling daarmee beweeg daar egter na blom en stuifmeelstorting groot hoeveelhede voedingstowwe vanaf spruite sonder koppe na die kop van die hoofstam.

Daar is egter baie min voedingstofbeweging tussen die spruite en hoofstam indien daar wel koppe op die spruite en hoofstam teenwoordig is. Met ander woorde, die kop op ՚n hoofstam

kry sy kos van die blare op die hoofstam en die kop op die spruit kry sy kos van die blare op die spruit. Die enigste keer wat daar gevind is dat voedingstowwe van die hoofstam na die spruite beweeg het, was as daar geen kop op die hoofstam was nie, maar wel op die spruite. Dit is natuurlik minder moontlik in die praktyk en die proef is net gedoen om die vloei van voedingstowwe beter te verstaan. Hierdie proewe is by baie lae plantbevolkings gedoen om die spruite so root as moontlik te kry. In die praktyk is die plantdigtheid egter baie hoër en daarom is die spruite ook gewoonlik baie kleiner, koploos en groei meestal in die koelte van die hoofstam. Hierdie spruite het gewoonlik min tot geen uitwerking op die hoofstam nie en indien hulle wel ՚n klein bydrae kan lewer, sal dit eerder bydra tot die opbrengs.

By lae plantbevolkings kan spruite groter as normaal wees, maar sal nie die hoofstam beroof van voedingstowwe nie. Inteendeel, soos uit die proewe gesien is, sal die opbrengs eerder hoër wees by plante met spruite as gevolg van die bydrae van koppe op die spruite of verplasing van voedingstowwe vanaf die spruite na die hoofstam.

Vir meer inligting, of om ՚n Pioneer landboukundige te kontak, besoek www.pioneer.com/za of stuur ՚n e-pos aan info.rsa@pioneer.com

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

ProAgri SA

ProAgri SA 250

Senwes presteer goed in Covid-jaar