in , , ,

Sorg vir jou werktuie en hulle sorg vir jou

This post is also available in: English

Een van die onaangenaamste, duurste ervarings vir ‘n boer is lakse werktuie terwyl hy wil ploeg, plant, spuit, baal of stroop. Oom Koos le Roux, landbou-ingenieur, werktuigkenner en uitgewer van die Meganisasiegids, wat voorste boere landwyd help om winsgewind te beplan, sê dat trekkers en plaaswerktuie ‘n mens dikwels verbaas met die lang, troue diens wat hulle lewer, maar dat die boer die beste diens uit hulle kan put as hy ‘n goeie voorkomende instandhoudingsprogram volg.
Volgens oom Koos is die drie grootste voordele van voorkomende instandhouding die volgende:
• Verminder onklaarraking
• Bespaar loopkoste
• Masjiene is veiliger

Wanneer die werkprogram op die plaas die drukste is, kan ‘n masjien wat ontydig vassteek tot groot verliese lei. Dit kan net nie bekostig word dat ‘n planter in piekplanttyd of ‘n stroper in strooptyd gaan staan nie. Oom Koos gee toe dat enige masjien enige tyd kan breek, maar hy glo dat ‘n behoorlike instandhoudingsprogram staantyd op kritieke tye kan verminder. ‘n Voorkomende instandhoudingsprogram help ook om die loopkoste van plaasmasjinerie te verminder. ‘n Bekende koöperasie se werkwinkel, wat sowat 30 enjins per maand opknap, het bevind dat die meeste
enjinmoeilikheid uit die volgende toestande spruit:
• Oormatige stof in enjins as gevolg van versuim om lugfilters te vervang of skoon te maak.
• Oorverhitting omdat die verkoelingstelsel nie behoorlik in stand gehou is nie.
• Gebrekkige smering omdat die olievlak te laag was en nie gereeld nagegaan is nie.
• Te hoë enjinomwentelinge wat die enjin ooreis omdat daar met die dieselpomp gepeuter is.

Waar hidrouliese stelsels probleme gegee het, was die oorsaak hoofsaaklik die olievlak wat te laag gedaal het. Dit veroorsaak dat daar lug in die stelsel kom, wat baie skadelik vir die hidrouliese pomp is. Boere is dikwels dronkgeslaan as hulle hoor die oorsaak van ‘n hidrouliese probleem is ‘n te lae olievlak, want daar is dan geen
opsigtelike lekplekke in die stelsel nie. Dit moet egter in gedagte gehou word dat die meeste werktuie met afstandbeheerde hidrouliese silinders werk. In baie gevalle gaan olie verlore terwyl werktuie se hidrouliese pype
aan die trekker gekoppel word. Hierdie verlore olie behoort daagliks aangevul te word.

By kragoordragstelsels is dit gewoonlik die koppelaar wat foutief raak en vervang moet word. Ook hier is die oorsaak swak instandhouding omdat:
• Daar geen speling op die pedaal voorkom nie, wat beteken dat die koppelaar heeltyd werk of gly;
• Die koppelaar so gestel is dat die ratte nie wil ontkoppel nie;
• Swak opgeleide operateurs heeldag met die voet op die koppelaar ry.

In ‘n verdere ondersoek is vasgestel vir watter soorte foute en oponthoude boere werktuigkundiges na die plaas ontbied. Die mees algemene foute wat werktuigkundiges op die plaas moes gaan regstel, is die volgende:
Die trekker wil nie vat nie. Redes daarvoor was lugfilters wat so toegepak was dat die enjins geen lug kon kry nie en dieselfilters wat verstop was omdat hulle lanklaas vervang is. Gereelde instandhouding kon die boer hierdie tyd en onkoste bespaar het. Die trekker se hidrouliese stelsel werk nie. In die meeste gevalle het hierdie klagte gespruit uit lug in die stelsel omdat die olievlak nie gereeld nagegaan is nie en te laag gedaal het. Ook hier sou planmatige instandhouding tydverlies, onkoste en skade voorkom het. Die gevalle waar ‘n werktuigkundige werklik nodig was om die foute te herstel, was in die minderheid.

Brandstofvermorsing
Die Universiteit van Natal se Landbou-ingenieurwesedepartement het ondersoek ingestel na trekkers se brandstofverbruik. Die bevinding was dat die meeste trekkers wat hulle getoets het, baie meer brandstof verbruik het as wat nodig was aangesien hulle dieselpompe nie reg ingestel was nie.

Veiligheid
Wanneer ‘n operateur met werktuie moet sukkel wat nie behoorlik werk nie, raak hy ongeduldig en dan kan hy
kanse waag in ‘n poging om verlore tyd in te haal. Soms word daar selfs probeer om foute te herstel sonder om
die enjin af te sluit of die masjien tot stilstand te bring, wat ‘n uiters gevaarlike situasie skep. Los boute en moere, ongebalanseerde of oop kragaftakkerasse, snyers met beskadigde lemme… dit alles skep gevaarlike situasies as gevolg van gebrekkige instandhouding. Die behoort op elke plaas ‘n vaste reël te wees dat masjiene slegs gebruik
word as dit deeglik nagesien en in ‘n goeie, werkende toestand is.

Instandhoudingsprogram
‘n Vaste instandhoudingsprogram kan tot groot besparings op ‘n plaas lei. Die sukses van so ‘n program hang af van die opleiding van operateurs en die beskikbaarheid en gereelde raadpleging van ‘n handleiding vir elke werktuig.

*Lees meer oor die Meganisasiegids by http://www. proagri.co.za/maak-jou-sommereg- met-die-meganisasiegidsse- hulp/ en bestel dit by Koos le Roux by 082-828-9531 of per e-pos by koosleroux@live.co.za.

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Scania is altyd betyds

Beheer swartvlek met RovicLeers se jongste navorsing