in ,

Sonneblom se Toekoms in die somer-saaigebiede in Suid-Afrika

This post is also available in: English

Deur Philip Fourie, Landboukundige van Pioneer Saad

Buiten mielies, word sonneblom in die Westelike somersaaigebiede al vir dekades suksesvol verbou. Dit is een van die belangrikste gewasse in die Westelike produksiegebiede om saam met mielies in ‘n wisselbouprogram te gebruik.

Die gewas se uitsonderlike aanpasbaarheid onder koel temperature tot uitermate hoë somertemperature en droogteverdraagsaamheid is van die eienskappe wat tot die gewas se sukses oor dekades bygedra het. Sonneblom se aanpasbaarheid by verskillende omgewingstoestande word toegeskryf aan sy verdraagsaamheid vir beide lae en hoë temperature. “Kry hom net op!”

Die grootste dryfveer vir seisoenale aanplantings bly mieliehektare. Wat hiermee bedoel word, is dat grondvog tesame met plantdatum, grootliks die seisoenale sonneblom hektare op ‘n plaas sal bepaal. Die groot rede hiervoor is dat die meeste sonneblomprodusente, primêr mielieboere is. Daar is slegs ‘n handjievol produsente wat sonneblomaanpantings jaarliks bedryf op dieselfde beginsel as sy mielie-aanplantings. Daarteenoor is dié handjievol produsente, ook die produsente wat jaar na jaar hoë oesgemiddeldes en hoër opbrengste najaag en verkry. Hulle boer hulle blomme met dieselfde passie, navorsing en tegnologie as met hulle mielies.

Tabel 1 dui die afgelope 6 seisoene se aangeplante hektare in Suid-Afrika aan. Ek verwys sterk na die 2016/17 en 2018/19 seisoen waar tot laat in die daaropvolgende jaar se Januariemaande geplant was. In die meeste gevalle was mielies ook in die seisoene laat geplant gewees. Sonneblom se korter groeiseisoen as mielies, maak dit egter ‘n uiters geskikte gewas vir laat aanplantings in die somer.   

  14/15 15/16 16/17 17/18 18/19 19/20 Gem.
RSA 500,300 515,350 601,500 635,750 718,500 576,000 591,233
Vrystaat 260,000 270,000 314,000 330,000 400,000 285,000 309,833
Noordwes 167,000 175,000 233,000 210,000 245,000 200,000 205,000
Limpopo 65,000 61,000 45,000 90,000 65,000 82,000 68,000
Ander 8,300 9,350 9,500 5,750 8,500 9,000 8,400

Tabel 1: Die gemiddelde hektare aangeplant vir die drie hoof produksiegebiede in Suid-Afrika, vir die afgelope 6 seisoen (2014-2019). Bron: www.sagis.org.za/CEC

2de Viool: Ongelukkig loop sonneblom in Suid-Afrika, dieselfde paadjie as sonneblom in ander produserende dele van die wêreld. Sonneblom word gebruik as vervangingsgewas as aanplantings vir ander gewasse minder optimaal raak. 

Laat aanplantings die afgelope 2019/20 – seisoen

 Gemete hitte eenhede in Sannieshof die afgelope seisoen was 324 eenhede minder vir mielies, gemeet teenoor die ooreenstemmende tyd laasjaar. Gemete eenhede vir Maart 2020, was alleen op ‘n gemiddelde minimum en maksimum daaglikse temperatuur, slegs 300 eenhede. In leke terme – ons someraanplantings, moes met minder sonligenergie (petrol) ‘n oes produseer. ‘n Week vroeër geplant, was tot elke gewas se voordeel.

Baie sonneblomme, veral die laat aangeplantes sou minder geskepel het. Jou 10 ton wa was vol soos gewoonlik, maar dit het nie 10 ton se vrag geweeg nie. Die sonneblomme het alles bestuif, maar daar was nie genoeg hitte en sonstralingsenergie om die koppe ten volle te vul nie.

Foto 1 Gideon Knobel; Pioneer Hi-Bred
Foto 2: Charl de Wet; Pioneer Hi-Bred

 Foto 2 is ‘n land naby Coligny. Die gebruik van ‘n pakket aanplanting, kan nie beter verduidelik en oorbeklemtoon word as op die foto nie. In plaas van 100% rypskade op die land is daar nou net 50% skade. Lande word in die geval 50/50 tussen twee verskillende basters verdeel en so aangeplant. Hoe later geplant word en hoër die risiko, hoe groter die behoefte om risiko oor die aanplantings te versprei tussen genetika, dus ‘n pakketaanplanting. 

Ryp het die land gevang, maar een van die basters was net-net verder gevorder as die ander. Ryp was so erg dat selwande in die stam gebars het en tot valprobleme gelei het.

Pioneer Hi-Bred bemark huidiglik die vinnigste sonneblombaster in die mark: P 64LL23, met ‘n dae tot stroop vanaf 125 dae na plant. Dit differensieer die spesifieke baster in die mark t.o.v. spoed en blomtyd. Blomtyd veral om die infeksieperiode van sclerotinia kopvrot te vermy of versprei in jou pakket.

Sonneblom Saadolie konsentrasie persentasie

Olie konsentrasie persentasie is huidiglik ‘n baie warm onderwerp, met aantuigings van stadige genetiese vordering en teling t.o.v. olieinhoud en sonneblom opbrengste. Die waarheid is egter dat sonneblom opbrengste en saadolie konsentrasie negatief gekorreleer is, en totdat die wetenskap nie deur geneties gemodifiseerde prosesse vir ons beter opbrengste met hoë olie konsentrasie persentasies teel nie, is ons uitgelewer aan ‘n stadige teelproses en omgewingsfaktore. Alhoewel daar geteel word vir hoë olieinhoud, het omgewingsfaktore die grootste invloed op olie konsentrasie. Dit sluit faktore in soos hitte, droogtes en sonstraling.

Die alternatief is dat olie-perse premies betaal vir goeie kwaliteit oliekonsentrasies. Die Argentynse model waar ‘n glyskaal gebruik word vir elke persentasie hoër as ‘n basis waarde, kan ‘n antwoord wees om aanplantings te stimuleer. ‘n Agterskot word sodoende betaal op elke goeie kwaliteit olie, gelewerde vrag.

Hoër oliekonsentrasies verg beter bestuur en verbouiingspraktyke. Dit is algemeen bekend dat sonneblom baie afgeskeep word as dit kom by bemesting. In baie gevalle verkry die gewas darem volle bemesting as mielielande vooraf bemes word, en die hektare oorgeswaai word na sonneblom a.g.v plantdatum. Die aanplantings reageer egter baie positief t.o.v. die bemestingspeile, maar oor die algemeen kry sonneblom ook laer as wat die behoefte kalium vereis. Die wegbeweeg van ploeg veroorsaak ook dat kaliumvlakke in die ondergrond uitgemyn word.

  N P K Ca S
Saad 28 3.7 6   4.5
Stronk en blare 1.7 7 1.4 85  
Hele plant 2.7 35 5.1 91  

Tabel 2: Plantvoedingstowwe (Makro-elemente) verwydering per 1 ton bemarkbare produk. Bron: Fertasa Bemestingshandleiding 2016, bl: 156.

Genetiese Vordering

Die verkeerde afleidings word gemaak as na die grafiek verwys word as aanduiding van genetiese vordering. Daar word beweer dat die produsente vinniger vordering maak as nuwe genetika wat deurkom volgens die LNR Nasionale kultivar proewe. Die feit is die produsente gebruik die resultate van die Nasionale kultivar proewe om juis die kultivars te kies om beter stabiele opbrengste te verseker.  

Die Nasionale kultivarproewe resultate ondersteun die aanpassingsvermoë van sonneblom oor verskillende omgewings. Al is die gemiddelde opbrengste van die produsente laer as die gemiddelde opbrengste van die nasionale proewe, moet in ag geneem word dat die eindproduk oor omtrent 500,000 ha die gemiddelde opbrengs van die produsent bepaal. Die feit bly staan dat jou keuse op ‘n pakket uit die boonste top 6-8 basters van die nasionale proewe kan bestaan, en gegewe die seisoen en spesifieke land, jy altyd ‘n stabiele opbrengs behoort te stroop uit jou keuses.  

Grafiek 1: Gemiddelde jaarlikse opbrengs van produsente teenoor die gemiddelde jaarlikse opbrengste van die Nasionale Sonneblom kultivarproewe. Bron: LNR – Somergraan Potchefstroom.

Ek glo dat grafiek 2 eintlik ‘n beter aanduiding is van wat regtig aangaan in die twee hoof produserende streke naamlik Vrystaat en Noordwes. Die rooilyn dui slegs die 5-6 hoof basters in die Suid-Afrikaanse mark se gemiddelde opbrengste aan in die LNR proewe.

Die opbrengste stem goed ooreen van wat in die praktyk aangaan by van die hoër opbrengs sonneblomprodusente. Die kurwe en gemiddelde ombrengste van by die 2,6t/ha stem ook ooreen met ander produserende lande in die wêreld soos Argentinië. Inteendeel dis hoër en dit kan die sterk styging in die produsente se kurwe verder ondersteun.

Corteva AgriScience toets jaarliks basters tussen kontinente om te verseker dat die produsent nie agter raak in genetiese vordering nie, maar solank sonneblom altyd deur die agterdeur gebruik gaan word as omgewingstoestande minder gunstig raak vir die ander gewasse, sal die grafieke stadiger styg as wat verlang word. Inteendeel, die inkomstes wat sonneblom vir ons gee in sulke nie gunstige moeilike omstandighede maak van die gewas ‘n ongelooflike bo-menslike gewas en plant. 

Grafiek 2: Die gemiddelde opbrengste van die 5-6 hoogste opbrengsbasters in die LNR Nasionale Proewe vanaf 2007.

Sclerotinia – Kopvrot

Die tweede grootste hekkie naas mieliehektare vir sonneblom aanplantings is Sclerotinia – kopvrot. Sclerotinia het ‘n massiewe groot invloed op die sonneblom produsente se besluite op die aantal hektare vir die komende seisoen. Dis gewoonlik ook dié produsente wat verstaan hoekom en wanneer sclerotinia infekteer, maar nie kan bekostig op ‘n oes te verloor nie.

Die pasafgelope seisoen het produsente weereens groot opbrengsverliese gelei weens Sclerotinia kopvrot. In die Oos-Vrystaat het sommige produsente vir die tweede agtereenvolgende jaar massiewe tot geen opbrengste gerealiseer, as gevolg van sclerotinia kopvrot. Die aanhoudende wydverspreide reën gedurende blomtyd die pas afgelope seisoen het tot groter geaffekteerde hektare gelei as die vorige seisoen. Deur basters met verskillende blomtye in jou pakket te plant, sou min tot geen impak gelewer het die jaar nie, juis omdat reën in die najaar meer gereeld en aanhouded geval het as die vorige seisoen. Die reënbuie het konstant tydens blomtyd gebeur. Die defnitiewe verspreiding van plantdatum het ‘n groter invloed uitgeoefen.

Die komende seisoen beplan Pioneer Saad groot navorsingsblokke om sekere bestuurspraktyke en sclerotinia probleme aan te spreek. Ons kan nie bekostig dat ‘n tekort aan informasie, die oorsaak is dat sonneblomaanpantings verminder nie. Ons gaan groot klem lê op sclerotinia bestuur in samewerking met die Sclerotinia werkgroep.

Opsomming

Ten spyte van variasie in opbrengs en oliekonsentrasie persentasie is sonneblom as gewas in die Vrystaat en Noordwes somersaaigebiede diep gewortel tussen ons produsente. Groei en belangstelling in die gewas word gedryf deur interne en eksterne faktore.

Die ontwerp van ‘n prysmodel wat kan vergoed op grond van oliekonsentrasie wat seisoenale omgewingsfaktore in ag neem, is seker die belangrikste dryf om sonneblomhektare uit te brei en jaarlikse variasie in aangeplante hektare te verminder.

Die bestuur van sclerotinia bied sy eie uitdagings vir die produsent en navorsing. Dit bly huidiglik die moeilikste patogeen en mees nagevorste siekte in landbou in die wêreld. Elke bietjie hulp en inligting is ‘n tree nader aan die doeltreffende bestuur en ontwikkeling van strategieë vir die beheer van die siekte.

Vir meer inligting, gaan na www.pioneer.com/za of stuur ‘n e-pos na info.rsa@pioneer.com

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

VW Golf

VW Golf GTI TCR: Nr 7 se swanesang met witwarm TCR-model gevier

VinoVeritas deur CTP Toep – reuse sprong vir Veritas aanlyn-wynverkope