in

Sluiting van Tiger Brands se Langeberg- en Ashton-inmaakfabriek voorloper van ’n ramp

Op 9 Junie het Tiger Brands personeel, produsente en -kliënte geskok deur kennis te gee van ‘n 60-dae konsultasietydperk met die bedoeling om hul inmaakfabriek in Ashton in die Wes-Kaap te sluit. Min mense besef die werklike impak wat hierdie besluit op die gemeenskap, produsente, die bedryf en landbouverwerking in die Wes-Kaap sal hê. Dit is ‘n groot bekommernis vir Agri SA.

Die Langeberg- en Ashton-fabriek is die grootste in Suid-Afrika en een van slegs twee vrugte-inmaakfabrieke. Die wêreldklas-fabriek speel ‘n noodsaaklike rol vir Suid-Afrikaanse ingemaakte vrugte om ’n nisposisie in die wêreldmark te beklee. Suid-Afrika is volgens produksie in die top-sewe inmaakvrugtelande ter wêreld, en die fabriek bring honderde miljoene rande in buitelandsevaluta in.

Die produsente het dringende versoeke tot die Wes-Kaapse en nasionale regerings gerig om in die saak in te gryp. Gegewe die noodsaaklike bydrae van hierdie fasiliteit tot die nasionale en provinsiale ekonomieë, moet die regering bystand verleen deur met die partye saam te werk om belegging in die fasiliteit te fasiliteer.

Tiger Brands het aanvanklik twee jaar gelede besluit om van dié fabriek te onttrek. In daardie stadium het ’n konsortium van 160 produsente met Tiger Brands begin onderhandel om die fabriek te bekom, maar die konsortium sal ’n verdere R200–300 miljoen benodig om die transaksie te beklink. Met die jongste aankondiging van Tiger Brands is hierdie produsente in ’n bykans onmoontlike situasie geplaas: hulle moet die nodige fondse binne minder as 60 dae bekom. Sonder ondersteuning van die regering en samewerking van Tiger Brands, sal die produsente se inisiatief misluk en die gevolge sal katastrofies wees.

Die fabriek verwerk hoofsaaklik taaipitperskes, Bulida-appelkose en Bon Chretien-pere afkomstig van sowat 2 250 ha boorde. Hierdie vrugte is spesifiek vir inmaak aangeplant in die Klein-Karoo-, Ashton-, Robertson-, Bonnievale-, Breërivier-, Wolseley- en Ceres-gebiede. As die fabriek sou sluit, sal ongeveer 300 boere geen alternatiewe mark vir hierdie vrugte hê nie, aangesien die ander vrugte-inmaakfabriek in Suid-Afrika, wat deur die Rhodes Food Group besit word, reeds op volle kapasiteit werk. Hierdie boere sou die boorde moet vernietig.

Die uitwerking van die aankondiging word reeds gevoel aangesien arbeidsmakelaars rapporteer dat hul spanne tuis sit, omdat produsente ná die Tiger-aankondiging opgehou het om te snoei. In mediaverklarings het Tiger Brands aangedui dat 250 permanente poste en 4 300 seisoenale poste op die hoogtepunt van die seisoen geraak word. Die fabriek is die lewensondersteuning van die Ashton-gemeenskap en daarsonder staar die gemeenskap ’n sosio-ekonomiese ramp in die gesig. Die Langeberg- en Ashton-fabriek is ook die grootste enkele bron van inkomste vir die Langeberg-munisipaliteit.

Benewens fabriekswerkers verskaf die fasiliteit werk aan duisende plaaswerkers in Ashton en produksiestreke. Net meer as een permanente werkgeleentheid word met elke hektaar vrugteboord geassosieer en 2 250 permanente plaaswerkers se lewensbestaan ​​is nou in die gedrang. Bykomende seisoenale arbeid word gebruik vir wintersnoei, uitdunning, somersnoei en oes.

Die inmaakfabriek is al vir meer as 70 jaar in bedryf en verskaf vrugte vir Tiger Brands se KOO-handelsmerk, sowel as internasionale handelsmerke soos Silverleaf en GoldReef. Die fabriek het aanvanklik bestaan ​​uit twee afsonderlike fabrieke wat deur die produsente en ’n plaaslike entrepreneur besit is. Tiger Brands het hierdie fabrieke daarna gekoop en in een gekonsolideer.

Agri SA is bekommerd dat die sluiting van die fabriek ’n sosio-ekonomiese ramp vir die streek sal wees, met rimpeleffekte regdeur die waardeketting. In ’n tyd waarin werkskepping en ekonomiese groei broodnodig is vir die instandhouding en herstel van die nasionale ekonomie, kan die landbouverwerkingsektor nie hierdie sluiting bekostig nie.

Dit is noodsaaklik dat Tiger Brands saam met die produsente en werkers by sy fabriek na die onderhandelingstafel kom om die beste moontlike oplossing vir al die betrokke belanghebbendes te vind. En met die Landbou- en Landbou-verwerkingsmeesterplan wat nou in plek is, is dit ook noodsaaklik dat die regering sy rol opneem om die groei van hierdie belangrike werkgewer vir die Wes-Kaap te ondersteun.

Bron: Agri SA

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Syferfontein Bonsmara’s 23ste Produksieveiling, 14 Julie 2022

Genomiese teelwaardes vir die SA Hereford Beestelersgenootskap