in ,

Slim besproeiing: Ocmis verseker oes in droogte

This post is also available in: English

Lommie Joubert boer tussen Schweizer-Reneke en Vryburg en met die knellende droogte moes hy, soos die ander boere in die omgewing, mooi dink of hy wel die afgelope seisoen die kans moes waag om grondbone en mielies te plant. Die grond was droog en sy waterbronne beperk. Lommie het begin rondsoek na ’n besproeiingsoplossing wat by sy boerdery kon inpas. As hy nie die hele oes kon red nie, wou hy darem seker maak hy kan ’n ordentlike oes op sy goeie grond behaal. Kotie Botha van Kotla Besproeiing op Vryburg het op ’n boeredag die Ocmis-spuite van Irrigation Unlimited bekendgestel en Lommie het besluit dit is die pad om te loop.

Vandag is hy nie spyt nie. Hy sê ’n goeie reënjaar is natuurlik altyd beter, maar noudat hy die grondbone uithaal, kan hy baie duidelik die verskil sien tussen die lande wat hy kon besproei en die ander wat met bietjies-bietjies reën moes klaarkom. Die mielies onder besproeiing se koppe is nie so groot soos hulle in ’n goeie reënjaar is nie, maar “deur hierdie lang droogte, het ek daardie mielies laat groei en daar is ’n oes,” vertel hy. Die aanlê van die watervoorsieningstelsel vir die drie spuite wat Lommie aangekoop het, was nogal ’n uitdaging, want as gevolg van die vorm en uitleg van die plaas moet die water van die boorgat en dam af ’n pad van 1,6 km loop tot by die verste toevoerkraan. Hy sê Kotie het alles vir hom mooi uitgewerk en die dikte van die ondergrondse toevoerpype aangepas om seker te maak die waterdruk is orals reg. Een van die groot voordele is dat hy baie maklik sy spuitsiklusse en die hoeveelheid water wat hy gebruik kan aanpas by sy beskikbare watervlak.

“Daar is soveel verstellings wat ’n mens kan aanbring om jou watertoediening en die spoed waarteen die spuit moet beweeg te reguleer, dat ’n mens regtig jou beplanning baie fyn kan doen,” vertel hy. Die ander groot voordeel is dat die spuite so maklik verskuif kan word om water te kan toedien op die plekke wat dit die nodigste het. Selfs ’n bakkie kan gebruik word om die spuite van een toevoerpunt na die volgende te sleep.

Die groter spuit (58/200) kan 10 hektaar oor ’n tydperk van sewe dae besproei as die spuit so gestel word dat elke plekkie in die mielieland tussen 15 en 20 mm water ontvang. Die 58 staan vir die dikte van die pyp en die 200 beteken die pyp met die spuitkarretjie vooraan kan 200 meter ver afgerol word. Waterdruk en ‛n ratkas sorg dat die spuitkarretjie ingekatrol word sonder dat daar enige kragaansluiting in die land nodig is. Die kleiner spuite (40/130) kan elk so 6 hektaar per week benat. Die klein spuit is veral nuttig in die smaller grondboontjielande en Lommie het die spuitkarretjie se wielbasis bietjie aangepas sodat die wiele netjies tussen die rye grondboontjies deur kan loop. Die spuit kan dus deur die hele seisoen aangewend word sonder om ooit oor een van die kosbare plantjies te ry. In die mielielande loop die spuitkarretjie tussen die rye en daar het die slim Ocmis-ontwerpers van Italië gesorg dat die sproeier met ’n eenvoudige pypverlenging hoër gestel kan word om ook regdeur die seisoen die water van bo af oor die mielies te laat reën tot op die grond waar dit nodig is.

Lommie sê hy het gevind dat die besproeiing selfs in redelike sterk wind nog doeltreffend is, maar wanneer die water skaars is, maak ’n mens natuurlik seker elke druppel tel. Die spuite is nou in die winter ook besig om hulle waarde te toon, want waar die somergewasse gestroop of uitgehaal is, pronk alreeds koring en hawer.

Met Kotie en manne van Irrigation Unlimited se diens is Lommie ook heel in sy skik. Hy sê die werking van die spuit is goed aan hom verduidelik en hy het nog geen rede gehad om oor enigiets te kla nie. “Die spuite help BAIE,” sê hy.

Skakel Henko Cilliers by 079-777- 9303 of Tobie van den Heever van Irrigation Unlimited by 082-658- 6054 of 012-736-2121 of e-pos tobie@iunlimited.co.za. In Vryburg se wêreld staan Kotie Botha van Kotkla Waters gereed by 082-684- 2233, 053-927-0326 of kotklawatersvryburg@gmail.com.

 

Lommie Joubert van die Vryburgomgewing sê dit is nie die beste grondboontjie-oes wat hy al gehad het nie, maar die Ocmis-spuite het verseker gehelp dat hy wel kon oes.
Lommie Joubert van die Vryburgomgewing sê dit is nie die beste
grondboontjie-oes wat hy al gehad
het nie, maar die Ocmis-spuite het
verseker gehelp dat hy wel kon oes.

 

Die Ocmis-spuite kan maklik gestel word om by jou plaas se watervoorsiening en besproeiingsbehoeftes aan te pas.
Die Ocmis-spuite kan maklik gestel word om by jou plaas se watervoorsiening en besproeiingsbehoeftes aan te pas.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Maak kluite krummels met Southtrade se CultiRateau

APV en Pöttinger: Vestig weiding vinnig en ekonomies