Alle suiwelprodusente word genooi om in te skryf vir die 2022 Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe, die grootste, oudste en mees gesogte suiwelgebeurtenis in die land.
Die kampioenskappe, wat sedert 1834 deur Agri-Expo aangebied word, lok jaarliks sowat 900 inskrywings van groot, medium en klein vervaardigers. Hierdie suiwelprodukte kompeteer vir die gerekende titels van SA Kampioen, die Qualité-merk van gehalte en die Produk van die Jaar, wat aangewys word tydens die glansryke Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings.
Erken en bevorder uitnemendheid

Volgens Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo, is die doel van die kampioenskappe om uitnemendheid in die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf te erken en te bevorder. “Die kampioenskappe het die nasionale maatstaf geword waarvolgens vervaardigers – van internasionale maatskappye tot agripreneurs – hulself jaarliks teen mekaar meet,” sê Ehlers. “Enige suiwelprodusent wie se produkte in die handel beskikbaar is, kan inskryf vir die kampioenskappe, wat meer as 100 klasse vir kaas, jogurt, melk, room, roomys, botter en ander produkte insluit.

“Die wenners in die onderskeie klasse word as SA Kampioenbekroon. Produkte van uitsonderlike gehalte wat ’n spesifieke minimumpunt op die internasionale telkaart behaal het, ontvang die Qualité-toekenning, wat deur ons bedryf erken word as die enigste merk van gehalte. Ná die eerste rondte beoordeling deur sowat 60 beoordelaars wys ‘n onafhanklike paneel van vyf kundiges die Produk van die Jaar aan.”
Belangrike datums:
- Aanlyninskrywings open op Maandag 10 Januarie 2022 op die webwerf www.cheesesa.co.za.
- Die sluitingsdatum vir inskrywings is Dinsdag 1 Februarie 2022.
- Die beoordeling vind van Donderdag 24 Februarie tot Vrydag 25 Februarie 2022 in die Percheron-saal op Elsenburg plaas.
- Die SA Suiweltoekennings word op Vrydag 25 Maart 2022 by Cavalli Estate op Stellenbosch aangebied.
Die SA Suiwelkampioenskappe en SA Suiweltoekennings word moontlik gemaak in samewerking met die platinumvennoot Synercore en ander vennote. Vir meer inligting, besoek www.cheesesa.co.za of kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of cheese@agriexpo.co.za.
Uitgeruik deur:
Isabeau Botha
Korporatiewe Kommunikasiebestuurder
Agri-Expo
021 975 4440/072 247 5868