in ,

Skei die korrels van die kaf met LEMKEN se Solitair-planter

This post is also available in: English

“As ons geplant het soos ons in die verlede geplant het, het alles nou platgelê,” sê Willie de Klerk van Koedoeskop. Die dag voor ProAgri die besproeiingsplaas besoek het om aan die einde van die koringseisoen te kyk hoe LEMKEN se Solitair-planter gevaar het, het daar ’n hael- en windstorm deur die plaas getrek.
Willie se seun, Johan, vertel: “Dit is ’n verskriklike gevoel om te staan en kyk hoe vyf maande se beplanning, harde werk en insette in tien minute verwoes kan word.” Hulle was baie verlig om na die storm te sien dat die meeste van die koring en gars nog regop staan. Daar is gewis skade en korrels wat uit die are geslaan is, maar hulle sal steeds kan stroop.
Johan skryf dit toe aan die planter se presiese spasiëring van die saad wat optimale groei teweeg bring. Die are groei sterk omdat hulle mekaar nie verdring nie. “’n Halwe kilogram wat jy te veel op een hektaar plant kan die verskil maak tussen koring wat regop staan en koring wat gaan lê,” vertel hy.
In die Groblersdal-omgewing beam George Barnard die voordele van ’n stewige stand: “Ek het oorspronklik gesoek na ’n planter en ’n grondbewerkingseenheid wat saamwerk om diesel- en arbeidskoste te verminder sodat ek minder kere oor die land hoef te gaan. Toe ek met die Solitair begin plant, vind ek toe boonop dat my plantwydte smaller word en die koringsaad nie so dig neergesit word nie. Dit maak ’n skaakbord-effek, sodat die are mekaar nie verdring nie. Ek vind nou dat my plante lekker stoel omdat hulle genoeg ruimte het om te groei en die mededinging minder is.”
George het al van sy jongboer-dae af verskeie toekennings as boer van die jaar ontvang en op sy plaas is ’n ding reg of weg. Hy het tans 300 hektaar onder besproeiing, waar hy gewasse soos aartappels, saadmielies, soetmielies, droëbone, groenbone, koring, hawer en ertjies afwissel.
Hy sê: “Ek het die planter verlede jaar gekoop. Hierdie was my eerste plantseisoen en saam met die LEMKEN Rubin is dit ’n formidabele kombinasie.”
Die Rubin sny met sy skottelbewerking doeltreffend deur reste en die boonste lagie harde grond om ’n perfekte saadbed vir die planter voor te berei. Die Rubin-model wat saam met die planter werk, het ’n hidrouliese eenheid aan die agterkant en ’n dicker as en groter wiele waarop die Solitair monteer kan word. Die planter kan heeltemal op die as getel word om vervoer te word en die plantereenhede skuif in om die eenheid baie kompak te maak.
George sê hy kan so 10 hektaar op ’n slag plant met die saadbak wat 1,5 ton saad kan hou. Hy hou ook daarvan dat die 48 plantereenhede onafhanklik kan oplig om glad oor hindernisse te gly vir egalige plantwerk.
By die De Klerks van Koedoeskop loop die Solitair op sy eie karretjie, want hulle verkies om eers te bewerk en dan te plant omdat hulle grond wissel van gruis tot turf. Hulle het vanjaar gars en koring geplant, maar gaan die Solitair nou ook inspan vir soja.
Johan is nie ’n man wat hom maklik ’n gat in die kop laat praat nie. Hy het die planter behoorlik deur sy passies gesit om seker te maak hy hou sy ritme en gaan op die dansbaan bly.
Dit is veral die akkuraatheid van die LEMKEN Solitair teen hoë spoed wat hom beïndruk het. “Teen 10 kmu lyk dit of ek met ’n vingerplanter geplant het,” spog hy.
Hy het ’n metingstoets op 8,5 hektaar gedoen waar hy 78 kg/ha wou plant. Hy soom nie sy land onder die spilpunt nie en selfs met uitplanting op die draaie was die gemiddeld 78,8 kg/ ha, wat meer akkuraat is as wat hy ooit tevore met ’n koringplanter gekry het.
Die gemak waarmee die Solitair gekalibreer kan word en al die ander verstellings soos dieptebeheer en die aggressie van die vering op die plantereenhede, het hom verstom. “Alles is net so maklik om te hanteer,” sê hy, “en jy kry ’n rekenaar saam, of as jy wil kan jy dit net deur die ISOBUS versoen met jou bestaande presisiestelsel en skerm.”
LEMKEN se Solitair het vir hom gegee wat hy wil hê: “Ek soek nie koring wat tot onder my ken staan nie; ek soek stewige are vol korrels, want dit is wat tel.”

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Min tyd en te veel hooi op die vurk? Novacat het die antwoord

Stroop en strooi sonder mors met JWL se hulp