in

Sekuriteitkwessies in landelike gebiede

This post is also available in: English

Veiligheid en sekuriteit in landelike gebiede raak toenemend op die voorgrond, maar dit is veel meer as net veediefstal en plaasaanvalle. Verkeer wat ontwrig word en vragmotors wat voorgekeer en aan die brand gesteek word, raak landelike gemeenskappe swaar.

Die fasiliteerder van Nasie in Gesprek, Theo Vorster van Galileo Capital, en sy gaste het dié kwessies tydens Donderdag se tweede sessie by NAMPO Kaap in Bredasdorp bespreek. Die paneel het bestaan uit: Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap; Reinhard Geldenhuys, Overberg Rampbestuur; Pieter Albertyn, Wes-Kaapse boer; Uys van der Westhuizen, landelike veiligheidskenner; en Gary McKay, uitvoerende hoof van Fidelity.

Van der Westhuizen sê, volgens die jongste inligting kos landelike misdaad die Suid-Afrikaanse ekonomie jaarliks R7,7 miljard, waarvan R1,1 miljard veediefstal behels. Hy sê werkloosheid is ‘n reuse probleem, maar daar is planne in plek. “Die landelike veiligheidsplan het besonderhede wat alles dek. Die sektor polisiëringplan het baie besonderhede. Alles is daar, maar dit kom nie aan die operasionele kant uit nie. Kom ons doen wat op papier staan, op die grond.”

Geldenhuys meen dit is noodsaaklik dat verskillende strukture saamwerk, en hulpbronne en inligting deel, om voorkomend teenoor misdaad op te tree. In daardie opsig is die Overberg Veiligheidsforum op die been gebring om ‘n fragmentering van hulpbronne te verhoed. Hy sê die rolspelers sluit die hele spektrum in, tot die gevangenisdienste en maatskaplike dienste.

Albertyn is van mening dat baie gemeenskappe reaktief ingestel is en eers saamwerk wanneer ‘n ramp tref. Hy glo dit is belangrik om proaktief te wees in die stryd teen misdaad.

McKay sê hy was verbaas om te sien hoe min sommige boere, veral in die Wes-Kaap, doen om hulle persoonlike veiligheid te verseker. “Seker sewe uit tien boere het nie goeie sekuriteit nie,” sê McKay. Hy sê verskillende gemeenskappe praat nie met mekaar nie, so wanneer misdaad in een gebied doeltreffend bekamp word, skuif dit net na ‘n ander gebied wat minder moeite doen. McKay voeg by dat Fidelity se rol by Agri SA se landelike veiligheidsinisiatief is om oorhoofs na die situasie te kyk, sodat almal saam kan werk om misdaad te bekamp. McKay sê baie boere in die Wes-Kaap is té gerus. “Die ouens in die Oos-Kaap, Noord-Kaap, en noordelike provinsies is paraat,” sê McKay.

Strydom sê volgens die Grondwet is dit die staat se plig om sy burgers se veiligheid en dié van hul eiendom te verseker, en hy wil ‘n beroep op die regering doen om die verpligting na te kom.

Geldenhuys sê egter mens moet realisties wees, en beter saamwerk met die owerheid. “Dieselfde stelsels wat ons gebruik om brande dop te hou kan gebruik word om misdadigers te volg. Om eerlik te wees, ons het nog nie gebloei nie,” sê Geldenhuys.

Albertyn sê die WhatsApp groepe laat loop wanneer iets gebeur. “Dis soos ‘n afkop-hoender!” Hy sê Wes-Kaapse boere is nie voorbereid genoeg nie, maar dat jy nie wil hê iets moet gebeur voor iets daaraan gedoen word nie. “In Stellenbosch, waar daar nou al ‘n paar voorvalle was, het die ouens elektriese heinings, maar daar moes eers iets gebeur om dit aan te spoor”.

McKay sê tegnologie kan doeltreffend ingespan word om inligting in te samel om misdaad te voorkom. Hy sê een probleem is dat kleiner sekuriteitsmaatskappye in silos funksioneer en nie hulle intelligensie met mekaar deel nie.

Van der Westhuizen sê die eerste ding wat ‘n produsent moet doen is om homself, sy gesin en sy werkers te veilig. Daarna kom samewerking met die groter gemeenskap.

Strydom sê georganiseerde landbou fokus nie net op produsente se veiligheid nie, maar ook op dié van plaaswerkers en die hele landelike gemeenskap. “Almal moet in ‘n veilige omgewing lewe. Elke misdaad is te veel, elke moord is te veel,” sê Strydom.

Vorster sê die werkloosheid-probleem is reusagtig, omdat mens nie kan ophou honger wees nie. Van der Westhuizen sê dié probleem is baie groter as misdaad. Dit sluit maatskaplike uitdagings, rehabilitasie en opleiding, jeugontwikkeling en bemagtiging in.

McKay sê die Eyes and Ears projek betrek plaaswerkers by die insamel van inligting oor potensiële misdaad. Hy sê mense word bemagtig met inligting en opleiding. Verder noem hy dis noodsaaklik dat mense opleiding ontvang oor hoe ‘n misdaadtoneel behandel moet word, en wat hulle regte en verantwoordelikhede in ‘n noodsituasie is.

Geldenhuys sê die Overberg is gelukkig dat die munisipaliteit doeltreffende kommunikasie tussen departemente het. “Die Wes-Kaapse Premier, Alan Winde, is baie streng. Hy het die opdrag gegee dat munisipaliteite dit moet doen. Hopelik hoef ons nie te bloei nie. Dit alles kan teruggevoer word na voorkoming,” sê hy. 

Strydom sê landelike veiligheid is krities. “Landbou se vermenigvuldigingseffek in die Platteland is reusagtig. Produsente sal nie in die Platteland belê as hulle nie veilig voel nie. Hy moedig alle produsente aan om betrokke te raak. Die Agri Securitas fonds het geld beskikbaar om gemeenskappe te help om hul veiligheid te verbeter, want daar is kostes hieraan verbonde.

McKay erken dat veiligheidskoste nie voor in die tou staan nie, maar dat produsente nie moet wag totdat iets gebeur voor hulle daaraan aandag gee nie.

Besoek gerus www.nasieingesprek.co.za of www.nationinconversation.co.za vir die volledige gesprekke.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

kanola

TLU SA stel eenstop-produk vir boerderybestuur bekend

Trekkerverkope daal met 21% in 2019