in

Scania verstaan boere se behoeftes

Scania

This post is also available in: English

’n Foto waar hy as driejarige op die neus van ’n Scania sit, is een van Raimo Lehtio se kosbaarste besittings. Raimo is onlangs as die besturende direkteur van Scania Suid-Afrika aangestel.

Hy sê sy pa het gedurende die Tweede Wêreldoorlog ’n klein vervoermaatskappy gehad en self met ’n Scania aflewerings gedoen. Nie een van hulle sou ooit kon raai dat Raimo na baie jare se ondervinding as ingenieur en later, met ’n MBA agter sy naam, as besturende direkteur van ’n Sweedse ingenieursmaatskappy in sy geboorteland, Finland, uiteindelik by Scania sou eindig nie.

Sy verhouding met Scania het vyftien jaar gelede begin tot hy die destydse hoofuitvoerende beampte van Scania, Liev Erstling, by ’n internasionale bestuursopleidingsgeleentheid raakgeloop het. Liev se geesdrif oor Scania het hom beïndruk en hy het gou ’n tuiste in die vragmotormaatskappy gevind.

Hy het homself bewys in Finland, Rusland, Siberië, die Verre Ooste, Estland, Letland en Litoue. Nou is sy taak om die mark in Suidelike Afrika en spesifiek Suid-Afrika verder te ontwikkel.

Hy sê: “As ingenieur en sakeman was ek nog altyd geïnteresseerd in voertuie, meganika en bestuursake, maar wat ek die meeste geniet, is die interaksie met ons kliënte. Dit gaan vir my daaroor om sake-oplossings vir ons vragmotorgebruikers te vind.”

Raimo sê Scania het uitstekende groei in Suid-Afrika getoon, ook in die landboubedryf, maar die droogte het wel verlede jaar sy merk gelaat en dit sal na verwagting vanjaar ook nog in die verkoopsyfers wys. Moeilike handelsomstandighede keer egter nie vir Scania om goeie diens te lewer nie.

Raimo sê hulle gaan ook nie nou nuwe modelle na Afrika bring nie, want die huidige reeks voertuie het hulleself reeds oor en oor bewys as goeie, robuuste vragmotors wat die uitdagende plaaslike padtoestande kan hanteer.

Hy sê hulle doel is om saam met ’n boer na sy hele operasionele begroting te kyk om die beste moontlike vervoer-oplossings te vind sodat die boer nie sy hele wins uitry of verkwis op staantyd nie. “Ons wil graag ons kliënte se ondernemings verstaan, sodat ons beter oplossings vir hulle kan vind,” sê hy.

Scania se oplossings vir boere

  • Goeie diens orals: ’n Boer wat ’n kontrak met Scania het, het net een rekeningnommer regdeur Suidelike Afrika. As sy vragmotor enige aandag nodig het in byvoorbeeld Botswana of Namibië, kan hy dus maar net die plaaslike handelaar kontak en hulle het reeds ’n volledige rekord van hom en sy voertuie.
  • Verhuringsafdeling: Scania verstaan dat landbou ’n seisoenale bedryf is en dat ’n boer moontlik nie regdeur die jaar ’n vragmotor nodig het nie. Die maatskappy het sy eie uitverhuringsafdeling waar ’n boer byvoorbeeld gedurende oes- of strooptyd die regte trok of voorhaker vir sy behoefte kan huur.
  • Opleiding van bestuurders: Scania het ’n opleidingseenheid waar bestuurders geleer word om hulle trokke te verstaan, om verantwoordelik en ekonomies te bestuur en om noodsituasies goed te hanteer.
  • Finansiering en dienspakkette: Al die ekstras wat Scania bied, soos die dienspakket, finansiering, versekering en opleiding, kan in een pakket vir ’n boer saamgestel word en uitgewerk word as vaste koste per maand of per kilometer.
  • Goeie gebruikte vragmotors: Vir die boer wat gereeld goedere wil aanry, maar dalk nie ’n nuwe vragmotor kan bekostig nie, is daar ook ’n hele reeks gebruikte voertuie beskikbaar. Al die trokke wat Scania verkoop, is deeglik getoets en nagegaan vir betroubaarheid en voldoening aan al die wetlike vereistes.

Wat sê die boere van Scania?

Rudi White, pakhuis- en vervoerbestuurder, Aqua, Christiana: “Scania se naverkoopdiens is die beste. Hulle reageer onmiddellik.”

Mundus Joubert, Makoadi, Clocolan: “Die vragmotors is baie gerieflik om in te ry en die bestuurders word nie so gou moeg nie.”

Sebastiaan Steyn, Goliatskraal, Kroonstad: “My beestrokke ry elk gemiddeld so 25 000 km per maand en jy kan nie bekostig dat diere langs die pad staan en wag op herstelwerk nie. Die Scanias is regtig betroubaar.”

Skakel Scania SA by 011-661-9600 of besoek www.scania.co.za om uit te vind watter oplossings daar vir jou vervoeruitdagings is.   

Scania
Raimo Lehtio is die nuwe besturende
direkteur van Scania SA wat graag
boere se ondernemings ook wil
verstaan, sodat Scania nog beter
oplossings kan bied.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

John Deere

John Deere se RX loop suutjies tussen die plantrye

KUHN

Kom kyk by NAMPO: Valtrac maak die boer nog sterker