in ,

Scania SA: Voluit na volhoubaarheid

Een van die dae kan jy dalk jou Scania by ‘n vulstasie intrek om vol te maak met Eskom en diesel!

“By Scania gaan dit vir ons oor waardes, respek vir die medemens, ՚n kultuur van dienslewering en om ons kliënte eerste te stel.” Aan die woord is Erik Bergvall, die nuwe besturende direkteur van Scania in Suider-Afrika.

Erik se loopbaan by Scania het vyftien jaar gelede begin toe hy as deel van die voltooing van sy meestersgraad in nywerheidsingenieurswese sy praktiese internskap by die maatskappy gedoen het. Hy het aanvanklik te doen gehad met internasionale aankope, verkope en bemarking en is in 2014 aangestel as bestuurder van die Scania-handelstak in Münster/ Osnabrück in Duitsland.

Hy sê dit is waar hy geleer het hoe belangrik regstreekse kontak met kliënte is en watter verskil dit maak om te verstaan waarmee hulle besig is. In 2016 is hy aangestel as streeksbestuurder in die noordwestelike streek van Duitsland waar hy ondervinding opgedoen het om ander handelaars te bestuur.

In 2019 het hy die verantwoordelikheid aanvaar as besturende direkteur van Scania in die Midde-Ooste. Daar moes hy deur die moeilike COVID-tyd die wiele aan die rol hou.

Erik het aan die begin van April met sy vrou en hulle drie jong seuns van 3, 6 en 9 jaar oud, na Johannesburg verhuis om hier die leisels oor te neem. Dit is nie die Sweedse gesin se eerste buitelandse verhuising nie. Voor Suid-Afrika was hulle eers in Duitsland, waar hy Streekdirekteur was en toe die Midde-Ooste, waar hy besturende direkteur was.

Hoewel die verskillende lande se kultuur vreemd mag wees, is dit maklik om tuis te voel in ՚n Scania-kantoor, ongeag die ligging, want oral in die wêreld deel die Scania-familie dieselfde waardes en kultuur.

Erik sê kort na sy aankoms het een van Scania se landboukliënte wat gereeld oorgrensvervoer doen, hom bedank vir die kultuur. Hy sê dit maak nie saak of sy mense in Namibië of die suidpunt van Suid-Afrika in ՚n Scania-kantoor of werkswinkel inloop nie, oral word hulle met dieselfde gesindheid van dienslewering begroet.

“Dit is soos dit hoort,”

sê Erik.

By Scania gaan dit oor mense — die mense wat daar werk en die mense wat Scania se vragmotors gebruik. Scania se operasionele stelsels is net so gebruikersvriendelik soos die maatskappy se trokke.

Erik Bergvall, die nuwe besturende direkteur van Scania in Suider-Afrika, is opgewonde daaroor om die maatskappy voluit na volhoubaarheid te lei.

Eenstop-diens nou nog makliker

Erik sê meer as die helfte van die voertuie wat Scania verkoop, word ook deur die maatskappy self gefinansier. Die eenstop-diens gaan nou in die toekoms nog makliker gemaak word vir aankopers, want die verkoopsorganisasie is nou verantwoordelik om die voertuie saam met dienskontrakte en finansiële dienste te bevorder.

Dit beteken dat die strukturering van die pakkette van die begin af meer geskik is vir die kliënt se behoeftes en dat die finansieringsproses moeiteloos vir die kliënte is.

“Dit is vir ons belangrik om ons kliënte se ondernemings met hulle kort- en langtermyndoelwitte te verstaan, sodat ons die regte aanbevelings kan maak,”

sê Erik.

“Al ons pakkette is plooibaar en dit is veral vir boere wat seisoenale druk ervaar baie belangrik. Met ons vlootbestuurstelsel kan ons die behoeftes van ons kliënte en die gebruik van hulle vragmotors beter verstaan. Ons bied ook buigsame instandhoudings-oplossings om te verseker dat hulle voertuie met die korrekte tussenposes onderhou en versien word spesifiek vir hulle sakebehoeftes.”

Deur te verstaan hoe en wanneer die trokke gebruik word, kan die instandhouding daarvolgens gereël word. Slim monitering- en kommunikasietoerusting in elke trok kan die eienaar en sy naaste Scania-werkswinkel laat weet wanneer versiening nodig is. Dit hoef nie altyd op vasgestelde kilometers of werksure te gebeur nie.

Ondervinding wat saakmaak

Erik vertel hoewel hy geweet het Suid-Afrika is ՚n groot, uitgestrekte land, het hy eers regtig die uitdagings verstaan na sy eerste toer na al Scania se plaaslike handelstakke.

Hy sê in Duitsland het hy ook baie met boere te doen gehad, maar daar kan Scania elke 50 km op die hoofroetes ՚n dienspunt hê. In Suid-Afrika het boere ander vorms van ondersteuning nodig, soos die uitplasing van Scania-tegnici om ՚n vloot vragmotors by hulle basis te versien en herstelwerk te doen wanneer nodig.

Scania se mobiele ondersteuningseenhede speel ook ՚n baie groot rol in Suider-Afrika om die nodige padbystand te verskaf.

Erik sê in Dubai, waar sy vorige plasing was, het hy van die beste paaie in die wêreld gesien, maar net soos in Suid-Afrika bied die land se plattelandse paaie ook maar hulle uitdagings. Scania se trokke word gebou om ook slegte paaie te hanteer.

Die inperkings en uitdagings van COVID het die vervoerbedryf seergemaak, maar hy sê die herstel was merkwaardig, hoewel nie sonder uitdagings nie. Aankope van die grondstowwe vir die vervaardiging van Scania se voertuie word wêreldwyd gedoen en daar was lang wagtydperke vir sekere grondstowwe wat ՚n kettingreaksie veroorsaak het.

Sake was amper terug na normaal toe die oorlog in die Oekraïne ՚n nuwe stel uitdagings gebring het, soos die verhoging in kommoditeitspryse.

Op pad na volhoubaarheid

Suid-Afrikaners voel ook die byt van die oorlog in die verhoging van brandstofpryse en as daar ooit ՚n tyd was om seker te maak dat die vragmotor wat jy kies nie brandstofgulsig is nie, dan is dit nou.

Internasionaal geniet Scania erkenning as die trokke met die beste brandstofverbruik en veral met die Nuwegenerasie-reeks wat sowat drie jaar gelede in Suid-Afrika bekend gestel is en ses jaar gelede in Europa, het Scania ՚n standaard gestel wat moeilik geklop kan word.

Erik vertel met trots dat Scania nou al ses jaar na mekaar die “Groen Trok-toekenning” in Europa gewen het. Goeie brandstofverbruik en skoner uitlaatgasse is egter nie al waarop die maatskappy fokus nie.

“Scania se plan en dus ook my plan vir die toekoms is baie duidelik. Gegrond op ons wetenskapgebaseerde teikens, moet ons maatskappy se koolstofvoetspoor teen 2025 met 50% verminder teenoor 2015 en die voetspoor van ons voertuie daar buite met 20%.

“My doel is om hierdie opwindende oorgangstyd na volhoubare energiegebruik in Suidelike Afrika te lei,”

sê Erik.

Wêreldwyd het Scania al ver gevorder met die ontwikkeling van elektriese vragmotors, maar Erik voorsien dat trokke wat in Afrika ry nog vir ՚n geruime tyd voorsiening sal moet maak vir albei opsies, diesel en elektries, vanweë die afstande wat afgelê moet word en onbetroubare kragvoorsiening.

Scania se fabrieke, werkswinkels en kantore is egter almal op pad na die gebruik van hernubare energie.

Erik sê net soos met alles wat die maatskappy aanpak, is mense die belangrikste. “Ek is hier om seker te maak al ons mense verstaan waarheen ons op pad is, om ons mense te laat voel dat hulle ‘n groot deel van Scania se sukses en ontwikkeling is en volhoubaarheid deel van hulle waardestelsel by Scania te maak.”

Besoek www.scania.co.za om ՚n venoot in jou vervoeronderneming te vind.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Bridgestone se nuwe landboubande is slaggereed

BRAZGrass: Weiding is wins