This post is also available in: English
“Die volgende trokke wat ek aankoop is weer Scania,” sê Flip de Bruyn van River North op Klerksdorp. “Die trokke is betroubaar, ek werk lekker saam met die span mense en ek het nie probleme met hulle dienslewering nie.”
Hoe dan anders met ’n volledig toegeruste Scania-werkswinkel op sy voorstoep? Die werkswinkel het teen die einde van verlede jaar geopen. Flip sê daar is nou glad nie meer nodigheid vir ’n trok om Johannesburg toe te gaan vir versiening of herstelwerk nie, en hy is die hele tyd ten volle op hoogte van elke Scania in die werkswinkel se vordering en wanneer die wiele weer kan rol.
Hy kan mooi beplan en die geleentheid gebruik om ’n wa of kantseile op te kikker of te vervang terwyl die trok self deur die werkswinkel beweeg. Scania het vroeër sy vloot ondersteun met tegnici, maar omdat Klerksdorp so goed geleë is in die mieliegordel, naby myne en op hoofroetes van noord na suid en van oos na wes, het Scania besluit om met Flip se ondersteuning ’n volledige Scania-tak daar te vestig.

Morné Botha, hoofbestuurder, Scania, Sentraal- en Vrystaat-streek, sê die waarde van die werkswinkel wat sedert November verlede jaar aan die gang is, is reeds oor en oor bewys.
“Ons het altyd besef hoe goed dit kan wees, maar dit oortref al ons verwagtinge. Ons moes nou al ’n bykomende werktuigkundige en nog ’n onderdele-koördineerder aanstel om die aanvraag te hanteer.”
Morné sê vragmotorbestuurders verwelkom die geriewe wat daar tot hulle beskikking is om te stort, te rus en verversings te geniet op ’n lang reis, of terwyl hulle wag vir ’n vinnige herstelwerkie.
Scania-eienaars in die omgewing glimlag ook lekker breed, want hoe nader jou vragmotors aan jou eie plek versien kan word, hoe meer werktyd en minder staantyd het jy.
Dit pas presies in by Scania se filosofie van kliëntediens – Customer First. “Ons sien om na die klant se trokke, sodat hy op sy kernsake kan konsentreer. Hy moet boer of vervoer, ons sal die werkswinkel bestuur sodat sy trokke perfek kan bly werk,” sê Morné.
Die vestiging van die werkswinkel bevestig ook Scania se onderneming om na hulle kliënte se behoeftes te luister. Uiteraard moet so ’n ontwikkeling geldelik sin maak, maar daar is ook ander maniere waarop Scania hulle kliënte in ’n bepaalde omgewing kan ondersteun. Morné sê as die kliënt 100 of 200 km van die naaste handelaar af is, kan hulle help met ’n tegnikus op die perseel.

Op Hennenman is daar byvoorbeeld ’n Scania-werktuigkundige toegewys aan ’n kliënt se werkswinkel. In die sentrale streek, wat in ’n strook regoor die land van oos na wes loop, is daar volledig toegeruste handelaars met werkswinkels in Bloemfontein (die hooftak), Kimberley, Upington, Klerksdorp, Harrismith en Port Elizabeth.
Scania het ook ’n mobiele ondersteuningsdiens en geen Scaniaboer hoef bekommerd te wees dat sy groente langs die pad gaan staan en vrot of sy beeste gaan ontwater nie. Scania is betroubaar en breek is min, maar in geval van ’n tegniese probleem en as daar ’n krisis is, kan Scania selfs help met ’n ander vragmotor om ’n kosbare vrag by sy bestemming te besorg.
Nou, met die bykomende dienspunt in Klerksdorp, is daar net nog meer gemoedsrus vir elke Scania-boer in die mieliegordel. Jy kan maar stroop, die trokke sal loop!
Kontak Scania SA by 011-661-9600, Christopher Magson by 072-122-5705 of besoek www.scania.co.za.