in ,

Scania help die boer om ’n plan te maak

Scania

This post is also available in: English

“Amper al ons kliënte in hierdie streek het iets met landbou te doen en een ding wat ons sien, is dat ’n boer altyd gereed is om ’n plan te maak,” sê Morné Botha, streeksbestuurder van Scania in Bloemfontein. Die streek strek van die Noord-Kaap af deur die Vrystaat en Oos-Kaap, tot by die see.

Morné en sy gesin het so bietjie meer as ’n jaar gelede Johannesburg vir Bloemfontein verruil en hy sê dit voel of hulle tuisgekom het. “Dit is ’n ander leefstyl, ons is deel van die gemeenskap.”

Christopher Magson, verkoopsbestuurder, is ook ’n ou Bloemfonteiner. “Ek ken die mense en verstaan hulle behoeftes.”

’n Persoonlike benadering is deel van die kultuur van Scania. Die maatskappy glo daarin om nie net verkope na te jaag nie, maar om kliënte te help om volhoubare ondernemings te vestig, sodat almal saam kan groei.

As gevolg van voortslepende droogtes en ander onsekerhede was dit nie maklik om die afgelope paar jaar in die landbou-omgewing te groei nie.

Morné sê: “Vanuit ’n ekonomiese oogpunt lewer landbou ’n groot bydrae tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk. Landbou en die landbouverwante vervoersektor het swaar getrek in die eerste twee kwartale van 2018 en bygedra tot algemene negatiewe groei. In die derde kwartaal het albei sektore egter sterk teruggekom en gehelp om positiewe groei te toon teenoor 2017.”

Hy sê die verhoging van 22% in die dieselprys het ook nie die situasie vir boere verbeter nie. “Die boer is gewoonlik die eerste party wat in so ’n waardeketting geraak word deur die hoër leweringskoste van landboutoerusting en voorraad en die vervoer van produkte na die mark. Die verbruiker voel die gevolge van brandstofverhogings eers veel later in die proses.”

In hierdie omstandighede het Scania steeds goeie verkope van nuwe en tweedehandse vragmotors gehad en Morné skryf dit toe aan die volgende faktore:

“Benewens die dieselbesparing wat die gebruik van Scania-trokke aan boere bied, gaan ons voort om ons mense by te staan met pasmaak oplossings. Ons formuleer vir elke kliënt sy eie pakket met betrekking tot die bate, die onderhoud daarvan, finansiering en logistiese bestuur. Gedurende so ’n konsultasie word alle faktore, soos seisoenale kurwes en kontantvloei, in berekening gebring om ’n volhoubare oplossing te bied.”

Die feit dat Scania self finansiering aanbied, maak dit moontlik om pakkette te plooi om by kliënte se behoeftes te pas.

Christopher sê die konsultasie met ’n kliënt gaan ook oor veel meer as net finansiering en pakkette: “Natuurlik is dit ons doelwit om nuwe vragmotors te verkoop, maar as ek saam met ’n boer deur sy behoeftes werk en ek sien sy trok gaan net omtrent 50 000 km per jaar aflê, dan sal ek aanbeveel dat hy na ’n tweedehandse trok moet kyk. Die tweedehandse trokke uit die Scania-stal kom met ’n volle onderhoudplan en dit kan dalk net die boer help om sy vervoerbeen so te ontwikkel dat hy oor drie jaar ’n nuwe trok moet koop.”

Daar is ook bepaalde uitgebreide waarborge as ’n trok nie baie kilometer per jaar aflê nie. En dit geld selfs vir grondpadry, want Scania-trokke kan grondpaaie hanteer.

Morné sê hulle streef daarna om in die streek bekend te staan as betroubare adviseurs. Hulle sal alle opsies oorweeg en as ’n boer werklik net seisoenaal ’n vragmotor nodig het, kan hulle ook kyk na verhuring. Scania het ’n vloot van meer as 400 huurtrokke.

Morné Botha, streekbestuurder, en Christopher Magson, verkoopsbestuurder, is gereed om boere by te staan met sakpaspakkette sodat hulle deel van die Scania-familie kan word.

Boere maak planne

Morné sê dit gebeur al hoe meer dat boere in plaas van trekkers en waens en selfs tapkarre, van trokke gebruik maak vir kort afstande tydens oestyd, letterlik van die land na die silo. Die brandstofverbruik is minder, tyd word bespaar en die loonvrag op ’n vragmotor is baie groter as op ’n trekker en sleepwa.

Nog planne wat boere maak is om twee of drie stelle waens aan te hou en tussen seisoene kontrakvervoerwerk te doen. Dieselfde trok wat vandag mielies aanry silo toe of beeste aanry slagpale toe, word more gebruik om sand of klip aan te ry vir die mynbedryf of om trekkers NAMPO toe aan te ry.

Om vragte te ry, beteken inkomste. Morne sê ’n boer maak ’n plan om vrag te ry as hy ’n vragmotor het en by Scania maak hulle ’n plan om te sorg dat die boer die beste vragmotor met die beste diensondersteuning het, sodat hy met gemoedsrus kan diversifiseer.

Skakel Christopher Magson van Scania Bloemfontein by 072-122-5705 of Scania se hoofkantoor by 011-661-9600 om uit te vind waar is jou naaste handelaar. Besoek gerus ook www.scania.co.za vir meer inligting oor Scania se raakvat-vervoeroplossings.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Jongboere word toegerus om buite die plaashek te dink

Takel die berge en dale met hierdie nutsvoertuie!