in

Saai dien kommentaar teen Grondwetwysiging in

This post is also available in: English

Saai – ’n organisasie wat die belange van familieboere beskerm – het kommentaar ingedien teen die wysiging aan die Grondwet om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak.

Saai beplan ’n baie sterk internasionale bewusmakingsveldtog oor onteiening sonder vergoeding en plaasmoorde vir 2020. Die eerste skof van dié veldtog was ’n besoek aan die Hongaarse regering en die Global Forum for Food and Agriculture (GFFA) wat in Berlyn, Duitsland plaasgevind het. Bykans 80 lande se landbouministers was teenwoordig en dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai se direksie en president van die wêreldlandbou-organisasie, moes talle vrae oor die onteieningskwessie in Suid-Afrika beantwoord. Suid-Afrika se minister en adjunkminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling was nie tydens die vergadering met die ander ministers teenwoordig nie.

“Daar is groot skeptisisme oor waarom die wysiging aan die Grondwet nodig is. Dis danksy die Motlanthe-verslag en die Zondo-kommissiegetuienis wêreldwyd bekend dat die grootste hindernis in grondhervorming by ’n kapasiteitstekort en korrupsie in die departement lê. Ook by die World Economic Forum in Davos is daar in tientalle vergaderings wat ek bygewoon het reguit gepraat oor staatskaping en veral die gebrek aan vervolging van mense met politieke bande wat geïmpliseer word,” sê De Jager.

“In die oë van buitelandse regerings en beleggers is die ANC se dryf na onteiening sonder vergoeding maar bloot ’n verlengstuk van ’n kultuur van staatstroping, nepotisme en ander vergrype onder die heersende elite. Hulle beskou Suid-Afrika as ’n beleggingsrisiko,” voeg De Jager by.

Saai is gekant teen enige wysiging aan die Grondwet wat onteiening sonder vergoeding toelaat. Die kommentaar wat ingedien is, fokus op die internasionale regsaspek en kwessie van nul-vergoeding. Die Universele Verklaring van Menseregte (1948) en verskeie ander internasionale verdrae soos die Afrika-handves vir Mense- en Volkeregte (1986) en die Eerste Protokol tot die Europese Konvensie vir Menseregte (1953) erken die reg tot eiendom, asook die feit dat eiendom onder sekere omstandighede onteien kan word. Onteiening van eiendom is egter altyd onderhewig aan sekere voorwaardes. Een van hierdie voorwaardes is die betaling van billike of regverdige vergoeding.

Volgens die ANC is die doel van die wysiging aan die Grondwet om dit wat implisiet is, duidelik te maak. Saai se versoek is dat Suid-Afrika hom eksplisiet in die Grondwet tot die beginsels van die Universele Verklaring van Menseregte verbind, asook tot die beginsels wat in sy bilaterale handelsooreenkomste vervat is. Saai versoek ook dat die Grondwet pertinent bepaal dat dit nie van ’n persoon verwag kan word om die rekening te dra van ’n nasionale verantwoordelikheid nie.

Saai is oorval met navrae uit die buiteland oor die ANC se skuif om die hof in die proses te omseil en aan die uitvoerende gesag die mag te gee om vergoeding te bepaal. Minister Thoko Didiza het in 2008 dieselfde idee in die konseponteieningswet laat vaar omdat daar tóé bevind is dat dit ongrondwetlik sou wees. Daar is min elemente van die debat wat buitelandse beleggings meer as hierdie voorstel afskrik, en dit kom op ’n tyd wat Suid-Afrika se ekonomie dit nie kan bekostig nie.

Die aard van Saai se kommentaar op die wysiging aan die Grondwet sal ook ’n sentrale komponent wees tot die regsaksie wat geloods sal word indien die wysiging sou voortgaan.

Bron: Saai

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Mielies/maize

10,21% meer mielies is aangeplant

wolmark

Wolmark daal