in

SA Kaasfees vier 18 jaar van kaas en meer!

This post is also available in: English

Die Suid-Afrikaanse Kaasfees vier vanjaar van Vrydag 26 tot Sondag 28 April 2019 sy 18de bestaansjaar met ‘n fees van 18-ervarings-in-een. Dié “Fees van die Jaar” soos bekroon in 2018 beloof ‘n proe-ervaring van gewilde plaaslike en internasionale kase, alternatiewe en fynproewersprodukte, sowel as uitgesoekte wyne, boetiekbier en -gin. Nuut vanjaar is ‘n pizza met alles Italiaans en Raak-‘n-bietjie-rustig-Vrydag vir diegene wat die fees teen ‘n rustiger pas wil ervaar. “Die SA Kaasfees het gegroei tot Suid-Afrika se gewildste buitelug-koservaring,” sê Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo, wat die fees sedert 2002 aanbied. “Dit bied ‘n ongeëwenaarde waarde vir geld-platform vir besoekers om kaas- en komplementêre produkte van sowat 150 uitstallers te proe, koop en geniet, en veral om vernuwende skeppings van entrepreneurs uit te toets – van insekroomys tot perlemoenpastei!” Tonne kaas – van Napels tot Kareedouw In die Cheese Emporium kan feesgangers die grootste verskeidenheid kase – ou gunstelinge én interessante nuwes – onder een dak proe en koop. Hier wag ‘n splinternuwe Italiaanse Pizza – met Mozzarella, olywe, Provolone, Prosciutto di Parma, pasta, pesto én Italiaanse gasvryheid in oorvloed. “Uniek aan die SA Kaasfees is uitstallings van boetiekkaasmakerye van heinde en verre,” sê Ehlers. “Ons bied jaarliks ‘n geleentheid aan ‘n aantal klein kaasmakers om hul unieke handgemaakte produkte aan tot 30 000 besoekers bekend te stel as deel van ons #Support #SmallCheeseMakers-projek in vennootskap met die Wes-Kaapse Departement van Landbou (WKDL) en Absa.” Leer proe-proe by kenners Vir kosliefhebbers wat hou van avontuurlike pas-en-proe-uitdagings, wag daar ‘n fees van ses gratis daaglikse demonstrasies in die Tasting Room. Bekende kospersoonlikhede soos The Food Alchemist Pete Goffe-Wood, The Kate Tin Katelyn Allegra, The Food Fox Ilse van der Merwe en die Italiaanse La Terra dei Cuochi-wenner Lapo Magni kom deel hul geheime oor hoe om kaas op opwindende maniere saam met wyn, bier en ander pasmaats voor te sit. Kom ontdek ook die storie agter Afrikoa-sjokolade uit Tanzanië én wát Prosecco anders as sjampanje maak. Volgens Ehlers kan besoekers ook uitsien na “Is jy ‘n BOK vir kaas?” met die Bok Radio Brekfis-duo Wimpie en Le-Lue wat SA se 2019 Suiwelproduk van die Jaar – die 50/50-bok-en-koeimelkkaas St Francis of Ashisi van Belnori Boutique Cheesery – bekendstel. Ook op die program is SA se Top Tien Chenin Blanc in samewerking met Standard Bank; en kaas-en-wynproeë deur Fairview se hoofwynmaker Anthony de Jager (Vrydag en Sondag) en eienaar Charles Back (Saterdag). “Verlede jaar was die Tasting Room-sessies uiters gewild en besoekers moet dus vroegtydig daarvoor aanmeld om ‘n sitplek te verseker,” beveel Ehlers aan. Ontdek alternatiewe produkte In die ‘Cape Made: Taste the Alternatives’ Mall is daar ‘nversameling van nis- en alternatiewe produkte soos granate, brandrissies en alikreukel te kies en te keur met winskopies direk van entrepreneurs, danksy ‘n vennootskap met die WKDL. In die ‘Cape Made Kitchen’ kan besoekers daagliks tydens drie gratis demonstrasies proe-proe ervaar hoesjefs van die Private Hotel School toor met kaas, brood en alternatiewe produkte. Besoekers sal ook ‘n eksklusiewe resepteboek as geskenk ontvang. Kaaskerf en musiek Groot en klein kan fantastiese pryse (en natuurlik heerlike kaas!) wen in die Ladismith Kaaskerfkompetisie waarvoor besoekers daagliks voor 13:00 in Blossom se Gazebo kan inskryf. Inskrywings is gratis, maar plek is beperk. En by die Musiek Gazebo kan feesgangers optredes deur kunstenaars soos ShenFM, Absolutely Fabulous, Sincere Swing, The Grey, Under Cover en SHIM SHAM Band geniet. Boetiek is bobaas Volgens Ehlers bied die SA Kaasfees die ideale platform om boetiekvervaardigers te ondersteun. “Stalletjies met ‘n uitgesoekte versameling wyne is net buite die Cheese Emporium te vind – ‘n skuif van binne wat verlede jaar oorweldigend positief deur feesgangers ervaar is,” sê Ehlers. “Ons fokus is op die ontdekking van nuwe smaakervarings – van wyn en boetiekbier tot gin met heuning, amandel, boegoe, aarbei of chai.” Raak ‘n bietjie rustig-Vrydag Vrydag 26 April is die eerste dag van die fees en dus die ideale dag om die fees teen ‘n rustiger pas te ervaar voor die naweek besig raak. Kyk uit vir ‘Raak ‘n bietjie rustig’-pakkette op Vrydag 26 April – dis perfek vir groepe soos boek/tuin/hekel/koffie/rolbal/ryklubs. Koop drie kaartjies vir volwassenes of drie kaartjies vir senior burgers en ‘n vierde vriend kan die fees gratis bywoon. Kry kaartjies voor dit uitverkoop Die SA Kaasfees vind van Vrydag 26 April tot Sondag 28 April 2019 op Sandringham buite Stellenbosch plaas. Geen kaartjies sal by die hekke te koop wees nie. Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite en Checkers teen R180 per persoon per dag.  Senior burgers betaal R120 en kinders van 2 tot 13 jaar betaal R20.  ‘n Eksklusiewe Fynproewerservaring is beskikbaar (teen R950 per persoon, slegs bo 18 jaar) vir slegs 100 gaste per dag wat gereserveerde sitplek, BBP-parkering, vroeë toegang, ‘n kaasbord met Président Cheese-kase, ‘n bottel Linton Park-wyn en meer insluit. Besoek www.cheesefestival.co.za, kontak Agri-Expo by tel 021-975-4440 of e-pos admin@agriexpo.co.za vir meer inligting. Vir programhoogtepunte, volg die SA Kaasfees op Facebook (Cheese Festival), Twitter (SACheeseFest) of Instagram (sacheesefest).

Bron: Agri-Expo

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

tractors

Trekkerverkope vir Maart is 17% minder as in 2018

Jongste oor Bek-en-klouseer in SA