in

SA Kaasfees ‘n uitsonderlike geleentheid vir klein kaasmakers

Kaasfees
Klein Kaasmakers: Willie Zastron (Absa Provinsiale Hoof: Besigheidsbank in die Wes-Kaap), Johan Ehlers (Agri-Expo HUB), Liesel Kasselman (Kasselshoop), Alan Winde (Wes-Kaap se minister vir Ekonomiese Geleenthede), Joyene Isaacs (Wes-Kaap se Departement van Landbou Departementshoof), Kassie Kasselman (Kasselshoop) en Breyton Milford (Agri-Expo Operasionale Bestuurder).

This post is also available in: English

Die SA Kaasfees, wat vanjaar vanaf Vrydag 27 tot Sondag 29 April 2018 vir die 17de keer aangebied word, verleen elke jaar aan ‘n aantal klein kaasmakers die geleentheid om waardevolle blootstelling vir hulle besighede en produkte te bekom.

“Die Kaasfees bring kaasprodusente en kaasliefhebbers reeds vir meer as ‘n dekade suksesvol byeen. Vanjaar kan ons met die rugsteun van die Wes-Kaap se Department van Landbou en Absa weer vir ontluikende boetiek-kaasmakers die geleentheid bied om hulle kase aan meer as 30 000 besoekers bekend te stel,” sê Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo.

Die beeld van die landbou

“Agri-Expo het sedert die eerste SA Kaasfees sewentien jaar gelede reeds ‘n groot aantal klein kaasmakers onder sy vlerk geneem. Van hulle is vandag gevestigde handelsname met produkte wat by die SA Suiwelkampioenskappe as SA Kampioene of Qualité-wenners bekroon is,” sê Ehlers.

“Die Wes-Kaap se Departement van Landbou is trots om hierdie boetiekkaasmakers te ondersteun aangesien hulle ‘n integrale deel van landbou se waardetoevoeging vorm,” meen Joyene Isaacs, departementshoof. “Hoewel verbruikers handgemaakte kase toenemend geniet, word ‘n nuwe klein kaasmaker aan groot uitdagings blootgestel op die pad na ekonomiese volhoubaarheid. Die geleentheid wat die Kaasfees skep in terme van marktoegang, is inderdaad prysenswaardig.”

Absa se betrokkenheid by die SA Kaasfees maak volgens hulle Provinsiale Hoof: Besigheidsbank in die Wes-Kaap, Willie Zastron, volkome besigheidsin. “Die sukses van die vennootskap lê nie net daarin dat klein kaasmakers se produkte aan die groot klok gehang word nie. Die gemeenskappe waarbinne die kaasmakers hulle besighede bedryf, ontvang terselfdertyd ‘n ekonomiese inspuiting deurdat ‘n groeiende bedryf nuwe werksgeleenthede skep. Die blootstelling wat die klein kaasmakers geniet, hou vir hulle die potensiaal in om vinniger toegang tot winkelrakke te kry”, het Zastron bygevoeg.

Boetiekkaasmakerye by die fees

Besoekers kan op die uitkyk wees vir klein kaasmakerye soos Langbaken Karoo Cheese (Williston), Taaibosch Cheese (Heidelberg, Suid-Kaap), Karoo Goat’s Milk (Loxton), Kasselshoop (Stilbaai), Foxenburg Estate (Wellington), Bettie Bok (Lambertsbaai), Noah’s Cheese (Clarens), Rockvale Cheesery (Bronkhorstspruit), Vredesberg (Kareedouw), La Petit France (Howick) en TlaquePaque (Klein Brakrivier).

Klein kaasmakers is dit eens dat die blootstelling aan so ʼn groot groep verbruikers goud werd is. Volgens Liesel Kasselman van Kasselshoop speel die fees ‘n enorme rol om klein kaasmakers in die openbare oog te kry. “Ons sien die Kaasfees as een van die hoekstene van Kasselshoop met verwysing na marknavorsing, produkontwikkeling en bande bou met kopers,” meen sy. “Die Kaasfees het vir ons kleinhandeldeure oopgemaak waardeur ons produksie verhoog het van 500 kg na 10 ton per maand. Ons personeelkorps op die plaas het gegroei van sewe tot 20. ‘n Groot deel van ons sukses is te danke aan Agri-Expo en sy vennote se visie en ondersteuning.”

Datum, tyd en kaartjies

Die SA Kaasfees vind plaas oor die Vryheidsdag-langnaweek van Vrydag, 27 April tot Sondag, 29 April 2018 op die plaas Sandringham buite Stellenbosch. Kaartjies is beskikbaar by enige Computicket, Shoprite of Checkers winkel teen R180 per persoon per dag.  Senior burgers betaal R120 en kinders van die ouderdom 2 tot 13 jaar betaal R20 per persoon per dag.  Geen kaartjies sal by die hekke te koop wees nie. Die feestye is daagliks van 10:00 tot 18:00.  Sandringham is gerieflik langs die N1, Stellenbosch afrit 39, tussen Kaapstad en Paarl geleë.

Besoek www.cheesefestival.co.za, kontak Agri-Expo by tel 021-975-4440 of e-pos: admin@agriexpo.co.za vir meer inligting. Vir kompetisiebesonderhede en programhoogtepunte, volg die SA Kaasfees op Facebook (Cheese Festival), Twitter (SACheeseFest) of Instagram (sacheesefest).

Bron: Agri-Expo

SA Kaasfees
Emile Esau, Jonathan Hendricks, Gerswin Jones en Monrico Lupini (voor) van Kasselshoop in Stilbaai, een van ‘n aantal klein kaasmakerye wie se handgemaakte kase vanjaar weer by die SA Kaasfees ten toon gestel word.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Dom Boer se lag vir die dag:

Kaasfees

Ontdek Cape Made-nisprodukte as ideale kaas-pasmaats