in ,

ProAgri SA 266

Voel is glo

Hulle sê sien is glo, maar dit is nie regtig nie. Voel is glo.

Na twee jaar se aanlynvertonings, videokonferensies, Internetveilings en Zoomvergaderings kan ons uiteindelik weer gaan bladskud by NAMPO.

Dit beteken jy kan gaan vat aan al die nuwe, blink masjiene, jy kan die spilpunttoring gaan skud om te voel hoe stewig dit is, jou vingermerke gaan los op die nuutste raakskerms wat alles beheer, teen die wand van die silo gaan klop, die vibrasies van die grootmeneer-enjins gaan voel, jou hand op die mobiele drukgang se staalraam sit en stilletjies voel of dit onder ook mooi gesweis is … en as jy regtig wil, kan jy jou hande in jou sakke steek, rondom die trekker loop en bande skop!

Nie een van hierdie aksies gaan regtig vir jou meer inligting gee as wat jy in die vervaardiger en handelaar se aanlynbemarking gesien en gehoor het nie, maar VOEL is glo!

Daardie handdruk tussen handelaar en boer is nog steeds die bevestiging van die transaksie, die belofte om te koop en die versekering dat die ondersteuning daar sal wees wanneer nodig. Menslike kontak bly belangrik.

Met dit alles gesê is dit interessant om daarop te let dat omtrent al die nuwe ontwikkelings in landbou daarop afgestem is om die menslike element uit te skakel. Masjiene doen die meetwerk en dinkwerk en een van die dae gaan die trekker en spuit nog self deur die lande ry om die doenwerk ook te doen!

Die ander koers van ontwikkeling is die wegbeweeg van brandstofgedrewe aandrywings na elektriese motors en enjins. Die opberging van krag in batterye bly die swak punt in hierdie ontwikkeling. ‘n Trekker moet ‘n dag lank kan werk en selfs al is Eskom af deur die nag, wil jy steeds more-oggend kan inklim en ry.

Al die ontwikkelings is nie noodwendig nou dadelik vir Afrika geskik nie, maar dit bly opwindend om kennis daarvan te neem en te besluit wat werklik ‘n verskil op jou plaas gaan maak.

As die gesondheid van jou grond belangrik is vir die verhoging van produksie en satellietprentjies uit die hemel help jou om dit te bereik, dan is die keuse maklik. Die keuse van watter een van die vele satellietstelsels in die mark vir jou die beste gaan werk, gaan bes moontlik afhang van daardie handdruk by NAMPO!

Geniet dit en kom kuier by ProAgri in die Hinterland-saal. Ons sal sorg dat daar ‘n stoel is vir die ongeoefende NAMPO-bene!

Annemarie Bremner

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 2

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 50.000000%

Downvotes: 1

Downvotes percentage: 50.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Parts warehouse in Joburg brings AGCO closer to dealers and distributors in Africa

Choose Africa’s gumboot specialists for comfort, safety & protection you can trust