in ,

Rotrix Afrika se kruipspuite gooi nat sonder nonsens

“Tegnologie is wonderlik, maar dit is ook aantreklik vir diewe,” sê Andries Bothma van Rotrix Afrika. Hy het by NAMPO boere ingelig oor Rotrix se staatmakeroplossings om uitvalhoeke van spilpunte, kleiner landerye, weivelde en groentelande te besproei.

Die kruipspuite het net ՚n waterkoppeling nodig en werk sonder elektriese aandrywing. Die feit dat daar geen koperdraad is wat gesteel kan word nie, maak dit klaar minder aantreklik vir diewe. Daarby kan jy maklik jou Rotrix agter jou trekker of bakkie haak en skuur toe sleep vir die nag as diefstal ՚n groot probleem is.

Andries sê hy weet van boere wat al met hulle tegnologies gevorderde, geoutomatiseerde besproeiingstelsels moed opgegee het as gevolg van diefstalprobleme en die koste en onbetrouaarheid van elektriesekragvoorsiening.

Andries Bothma van Rotrix sê dit was skoon nostalgies om terug te wees by NAMPO.

Met Rotrix Afrika se kruipspuite kan jy uit ՚n dam, opgaartenk of regstreeks uit die boorgat besproei met minimale 3 bar waterdruk, en as elektrisiteit ՚n probleem is, het Rotrix nou ook ՚n plan: By NAMPO kon boere kyk na die nuwe dieselaangedrewe pomp wat jy saam met jou spuit kan verskuif as dit nodig is, of naby die dam kan installeer. Dit maak die deur wyd oop vir boere in Afrika wat nie kragtoevoer het nie, maar ook nie meer op reën kan reken vir produksie nie.

Die afgelope 35 jaar verbeter en verfyn Rotrix Afrika steeds sy kruipspuite, wat regoor Afrika bemark word. Volversinkte staal word vir die raamwerk gebruik om roes te bekamp en die wiele is geskik vir padvervoer en om deur die lande te beweeg sonder vassit.

Nog ՚n groot voordeel van Rotrix-spuite is dat dit eenvoudig is om te gebruik, in stand te hou en te herstel.

“As ՚n boer hulp nodig het, is ons daar om te help, maar hulle kom gewoonlik self reg, want die slytonderdele is by enige koöperasie beskikbaar,”

sê Andries.

Andries sê hulle grootste mark is veeboere en perdeplase, maar dit beteken nie graanboere word uitgelaat nie. Die nuwe Cane Master-model is byvoorbeeld ՚n stewige bulletjie wat met groot vrug deur hulle grootste kliënt, Kagera Sugar, in Tanzanië gebruik word. Die reuse suikerplaas het 140 van die spuite en ՚n span mense wat die spuite verskuif na waar dit nodig is.

Kommersiële boere wat van ondergrondse drupbesproeiing gebruik maak span ook dikwels Rotrix Rainmakers in om die bogrond sag en klam te hou totdat die saad ontkiem en die plantjies se wortels na die ondergrondse water kan begin groei.

As gevolg van die bekostigbaarheid van die spuite, kan ՚n boer maklik meer as een spuit op verskillende plekke ontplooi.

Die kleiner modelle, soos Clubman en Sportman, word dikwels deur skole, stadsrade en sportstadions gebruik, maar die meeste kommersiële boere is bekend met die Rhino 300 en Rainmaker 200.

Die vierwiel-Rhino 300 besproei bane van 100, 200 of 300 meter lank en 50 meter wyd in een lopie. Die Rainmaker, wat bane van 200 meter lank kan besproei, is beskikbaar in tweewiel- of vierwiel-eenhede.

Só werk die kruipspuite

Die spuit word aan die een kant van die land staangemaak en sy duursame Oroflex-waterpyp word na die waterpunt in die middel van die land gesleep. Die staalkabel word uitgerol en aan die oorkant van die land geanker. Die staalkabel is dus twee keer so lank soos die waterpyp.

Rotrix se kruipspuite fnuik diewe, kragprobleme en droogte!

՚n Deeltjie van die stroom water word gebruik om met ՚n 4 mm-sproeier ՚n bakkieskyf aan te dryf, wat deur ՚n ratkas en kettingstelsel die staalkabel inkatrol om die hele spuit teen ՚n spoed van jou keuse na die oorkant van die land te trek terwyl hy al die pad egalig natmaak.

Die twee verstelbare spuite kan ՚n strook van tot 50 meter wyd besproei met ՚n aanpasbare druppelgrootte. Die toevoerpunte word normaalweg 36 meter uitmekaar geplaas om behoorlike oorvleueling te verseker.

So lyk Rotrix se nuwe dieselaangedrewe pomp wat dit nou nog makliker vir boere maak om enige plek te besproei.

Op die groter modelle is die hoogte van die spuite ook verstelbaar sodat suikerriet en mielies hulle water soos reën van bo af kan kry. ՚n Klein leertjie op die spuit maak dit moontlik om bo by die T-koppelstuk uit te kom.

Wanneer die strook klaar besproei is, word die watertoevoer afgesluit en die pyp kan dan met die hand opgerol word of met behulp van ՚n trekker wat aan die kragaftakker-aangedrewe ratkas gekoppel word.

Kom kuier!

Andries sê dit was skoon nostalgies om terug te wees by NAMPO en om al die bekende gesigte en nuwe besoekers te sien. Hy het boere uitgenooi om hulle fabriek in Worcester te besoek. In die fabriek word ook die Bushwakka-boswaens gebou vir die mense wat grondpadvakansies hou.

In die suidelike deel van die land hanteer Rotrix Afrika self hulle verkope van die kruipspuite en in die noordelike deel kan boere by Irrigation Unlimited aanklop.

Besoek www.rotrixafrica.co.za vir kontakbesonderhede of skakel Andries Bothma by 079-959-3356.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Reinke se verskuifbare spilpunte bied besproeiingsoplossings vir Afrika

Yara: Markleier in plantvoedingsprodukte