in ,

RENAULT DUSTER 1.5 dCi 4×4: Duster kry viervoet vastrap vir veldpadry

duster

This post is also available in: English

Deur DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive

Renault se Duster is wêreldwyd gewild en het reeds meer as ‘n miljoen eenhede verkoop. Die Fransman het ook ‘n groeiende aanhang in Suid-Afrika, veral sedert die tweede generasie  in September 2018 ter plaatse bekendgestel is, aanvanklik eers net met voorwielaandrywing.

Terwyl meeste middelslag sportsnutse plaaslik meerendeels slegs beskikbaar is in voorwielaandrywing, bied die Duster kopers ook ‘n vierwieltrek opsie vir meer as om net stofpad te ry en voorstedelike randstene te trotseer.

Renault Motors SA het onlangs die 2de generasie vierwieltrek model bekendgestel op die grondpaaie rondom die pragtige Magaliesberge waar ons die oulike Fransman ook op ‘n uitdagende viertrekroete behoorlik kon beproef.

Plaaslik word die 4×4 model aangedryf deur slegs die 1.5 dCi dieselenjin wat nou 80 kW se piekkrag lewer met 260 Nm wringkrag.  Dit is effe hoër as die kraguitsette in die voorwielaangedrewe model met die EDC-outomatiese ratkas.  Die 4×4 is in Suid-Afrika net beskikbaar met ‘n 6-spoed handratkas.  Die ratkas bied egter drie verstellings na gelang van die tipe pad.  Ry jy op die teerpad kies jy die 2-wieltrek opsie en al die krag word na die voorwiele gestuur.  Met die keuse op “Auto” bepaal die stelsel self, na gelang van die tipe ry-oppervlakte, waarna en hoe die krag tussen die vierwiele versprei word. Wil jy egter met die Duster in die veld gaan rondkarjakker, kies jy die derde opsie waar die krag permanent na al vier wiele gestuur word.

Met ‘n grondvryhoogte van 210 mm en ‘n intree- en vertrekhoek van onderskeidelik 30⁰ en 34⁰, was ek verbaas om te sien hoe gemaklik die Fransman moeilike en uitdagende terrein baasgeraak het.  Die “Heuwel-af-help” stelsel waar die motor se remstelsel self die spoed teen steil afdraandes af bepaal, asook die 4×4-monitor wat die terrein se helling en hoek aandui, het baie bygedra dat die nuwe Duster die moeilike hindernisbaan redelik maklik kon baasraak.  So ook die kameras reg rondom die voertuig wat die bestuurder help om moontlike hindernisse by die wiele betyds raak te sien.

Die Renault Duster 4×4 is toegerus met Renault se Dynamique afwerkingspakket, terwyl die gewone 2×4 model ook in die luukser Prestige afwerking te koop is. Die Dynamique pakket bied egter praktiese voordele soos swart afwerking vir die kantspieëls, dakrelings asook die beskermplate voor en agter onder die buffers.  Daarenteen word die soortgelyke toerusting by die Prestige topmodel in silwerkleur afgewerk.

Binnekant is die nuwe Renault Duster 4×4 se kajuit prakties uitgelê en goed toegerus.  Afgesien van die lugversorging met klimaatbeheer, is daar ondermeer elektriese verstelling vir die kantspieëls en vensters.  Daarby is ook satellietnavigasie, blindekol waarskuwing, parkeerhulp met ‘n trukamera asook ‘n mediastelsel met klank, telefoonkoppeling na Bluetooth en rit- en motorinligting wat met hoë definisie beelde op die raakskerm middel in die voorste paneel vertoon word.  Die Duster 4×4 is ook standaard toegerus  met wegtrekhulp en wanneer  teen ‘n opdraande gestop word, sal die remme die voertuig teen die opdraand “vashou” totdat die koppellaar gelos word.

Tydens die mediabekendstelling kon ons die Duster 4×4 heerlik looi oor lang grondpadgedeeltes in die Magaliesberg omgewing. Terwyl die nuwe Duster veel meer verfynd geraak het met ‘n meer  weelderige kajuit en sagter rit, het dit geensins van die hardebaard eienskappe van die vorige modelle verloor nie. Al bied die nuwe 4×4-model geen lae strek-opsie vir die ratkas nie, was die nuweling gemaklik op die 4×4 hindernisbaan waar dit duidelik geblyk het dat ‘n baie kort eerste rat in ‘n groot mate vergoed vir die tekort aan lae strek. Die ligter stuur aksie en ‘n baie kort draai sirkel het ook baie gehelp om die uitdagende hindernisbaan se knap draaie met gemak kaf te draf

Die tweede generasie Duster het danksy ‘n moderne voorkoms en luukser kajuit omtrent 50% meer as sy voorganger verkoop in die kort tyd sedert dit die mark laasjaar betree het. Met ‘n indrukwekkende amptelike brandstofverbruik van 5,2 liter per 100 km en ‘n CO₂ syfer van 138 g per km, behoort die nuweling oor ‘n breë koperspektrum gewild te wees. Met die 4×4 model teen ‘n uiters mededingende prys van R327 900 het Renault hier die regte perd beet, wat myns insiens in gewildheid gaan groei. Die nuwe Dustert bly my eerste keuse in die kompakte leefstylsegment.

Soos met alle nuwe Renault modelle is ‘n 5 jaar/150 000 km meganiese waarborg asook ‘n 6 jaar roeswaarborg ingesluit by die prys, asook ‘n 3 jaar/45 000 km diensplan  met dienste wat elke 15 000 km gedoen moet word.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Klipklim koning: Opgeknapte Triton kom met vars aanslag op bakkiekroon

AfriForum 911: Veeboere kan nou ook hulle vee hierop registreer