in , ,

ReMaCon Yfel: Die oplossing vir bergingsruimte van droë materiaal

՚n Wakker kop is nodig om oplossings te vind wanneer bergingsbehoeftes soos ՚n berg voor jou lê. Toe AFGRI bergingsruimte begin nodig kry, was daar twee vereistes waaraan die oplossing moes voldoen: dit moet kostedoeltreffend wees en beperkte oppervlakruimtes ten volle benut. Hardus Dupper, hoofingenieur by AFGRI Graanbestuur, het ՚n produk opgespoor wat presies dit doen en nog meer!

Die oplossing? Die ReMaCon Yfel. Hierdie modulêre betonstruktuur werk soos reuse boublokkies wat rondgeskuif kan word om tydelike (of permanente) bergingsruimte te vorm. AFGRI gebruik dit vir bykomende graanberging wat hulle bergingsvermoë aansienlik vergroot.

Hardus verduidelik hoe AFGRI en ReMaCon begin saamwerk het om oplossings te vind: “As siviele ingenieur was beton altyd my voorliefde, so ek het begin kyk na betonstrukture om die gewone staalbunkers te vervang, en wat ook meer hoogte het om die meeste graan op die beskikbare oppervlakte te kan berg. ՚n Soektog op die internet het my na ReMaCon
se webtuiste gebring. Ek het met hulle span begin gesels en die oplossings bespreek.”

Christopher Cosgrove en Silvio Farraris van ReMaCon saam met Hardus Dupper van AFGRI voor die Yfel-bergingseenheid in Devon.

Die omgekeerde Y-vormige Yfels is ontwerp om netjies langs mekaar te pas sodat dit ՚n sterk muur vorm wat baie druk kan weerstaan. Die los blokke kan rondgeskuif word tot waar dit benodig word om enige lengte muur te vorm, of bunkers soos dié wat AFGRI by hulle silo in Devon opgerig het, te vorm. Hardus verduidelik dat AFGRI se motivering om die Yfels te kies was dat hierdie strukture gehard en duursaam is en ՚n langer leeftyd as ander materiaal het. “Teen ՚n relatief lae insetkoste kry ons meer bergingskapasiteit. Die betonblokke het relatiewe lae instandhoudingskostes en die ekstra volume vir die area help ook baie,” sê hy.

By AFGRI Devon se silo word die bergingseenhede gebruik vir die berging van wit- en geelmielies; geneties gemanipuleerdes afsonderlik van nie-geneties gemanipuleerdes. Sojabone word ook op dieselfde manier daar geberg. AFGRI Devon se bergingseenheid is sowat twee maande nadat met die grondvoorbereiding begin is voltooi. Nadat die dravermoë en dreinering van die grond bepaal en reggestel is, is ՚n stewige vloer gegooi om die ekstra druk van die swaar Yfel-blokke te hanteer.

AFGRI se silo in Devon gebruik ReMaCon-Yfels om bunkers te vorm vir die berging van mielies.

Daarna is ՚n hyskraan ingespan om die blokke op hulle plekke te skuif. Die finale stappe was om die blokke aan mekaar en aan die vloer vas te heg en vasmaakplekke vir die seile by te voeg. Die ses bunkers hou altesaam
40 000 m3. Die strukture bestaan uit 748 gewone 2,4-m Yfels en 24 hoek-eenhede. Die bunkers word vol graan gemaak en seile bo-oor beskerm die inhoud teen wind en weer.

Yfels is beskikbaar in die volgende groottes:
  • 1,2 m x 0,615 m
  • 1,8 m x 0,762 m
  • 2,4 m x 0,97 m
  • 3 m x 1,2 m
  • 3,5 m x 1,4 m
  • 4 m x 1,65 m

Daar is ook twee ander AFGRI-silo’s wat dié bewaringsproses gebruik en dit werk so goed dat hulle beplan om nog meer aan te skaf in die toekoms! “Ek beveel ReMaCon se Yfels sterk aan vir ander maatskappye in die landboubedryf en boere,” sê Hardus. “Die gehalte en naverkopediens is uitstekend. Dit is lekker om met ReMaCon se mense saam te werk. Hulle luister na ons behoeftes, begryp wat ons wil hê, en vind saam met ons die beste oplossing.”

Vir ReMaCon gaan alles oor die eindverbruiker. “Ons bou ՚n direkte verhouding met die eindverbruiker. Elke produk gaan regstreeks na die boer of maatskappy, of dit nou vir graan, kuns-mis of ander droë materiaal gebruik gaan word,” sê Silvio Ferraris, bestu-rende lid van ReMaCon. “Die manier waarop ons ons produkte vervaardig en bemark is op die verbruiker se behoeftes afgestem. Elke produk word nommerpas gemaak vir die kliënt en sy behoefte — wat sowel grootte en omvang betref as die verskeidenheid produkte wat hy wil berg.”

Ander produkte wat ReMaCon die boer bied is batterykluise, betontrôe vir beeste en skape, maar ook die Yfel se T-vormige sussie wat gemaak is vir grensbeveiliging. “Wat die Remacon-produkte uniek maak, is dat dit vervaardig is vir spesifieke omstandighede en dat dit herbruikbaar is. Daar is aanvanklike insetkoste, maar dit is duursaam en kan geskuif na waar en hoe die boer dit ook al nodig kry; oor en oor en oor …”

Vir meer inligting oor ReMaCon produkte en hoe dit kan bydra tot jou onderneming, skakel Christopher Cosgrove by 082-880-0184, of stuur ՚n e-pos aan christopher@remacon.co.za. Besoek ook gerus hul webtuistes by: www.remacon.co.za en www.yfel.co.za.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Mielieopkoms: Die groot impak van ‘n dag

Aspekte waarna gekyk kan word met die besluitneming van rywydtes by mielieproduksie