in ,

Reinke se verskuifbare spilpunte bied besproeiingsoplossings vir Afrika

՚n Boer moet elke stukkie grond tot sy beskikking behoorlik benut. Dit is nie in ՚n boer se aard om te mors nie, veral nie met iets so kosbaar soos krag, water of grond nie. Reinke is dit met die boere eens en daarom probeer hulle altyd om die boer te help om doeltreffend en kostedoeltreffend te besproei.

“Ons is baie bly om terug by NAMPO te wees vanjaar,” sê Patrick Ellis, besturende direkteur van Reinke Suid-Afrika. “Net om bietjie agtergrond oor Reinke te gee — ons voer die Reinke-produk in vanuit Amerika en maak seker dat ons genoeg voorraad het vir al die Suid-Afrikaanse asook Afrika-boere. Ons bied produkte vir al ons Afrika-buurlande, wat strek tot Egipte — van die ooste tot die weste, noorde tot die suide.”

Reinke se klante in Afrika word met toerusting sowel as naverkopediens bedien vanuit Suid-Afrika. Afhangend van waar klante geleë is, kan produkte ook regstreeks vanuit Amerika ingevoer word tot by die naaste hawe, of alternatiewelik tot in Suid-Afrika en dan van daar af met ՚n trok vervoer word tot by die klant.

Die enjinaangedrewe minispilpunt (EDMP) by Reinke se uitstalling tydens NAMPO.

“Ons produkte is uniek omdat ons spilpunte vervaardig word met hoësterktestaal, in plaas van wat mededingers gebruik, so die struktuur is baie ligter, maar baie sterker. Ons gebruik ook unieke seëls tussen die pype en ons toringkaste is ook anders — dit het dubbel- in plaas van enkelwande,”

verduidelik Patrick.

Patrick sê: “Ons handelaarsnetwerk is baie belangrik vir ons. Ons maak seker dat ons handelaars goed opgelei is met tegniese kundigheid, sodat ons kliënte net die beste diens en raad kan kry, en maak ook seker dat ons genoeg onderdele in voorraad het, sodat ons dadelik kan reageer wanneer daar ՚n probleem is.”

Een van die hoogtepunte by Reinke se NAMPO-uitstalling was die enjinaangedrewe minispilpunt.

Kleiner spilpunt met petrolenjin

Die Reinke enjinaangedrewe minispilpunt (ook bekend as EDMP vir ‘Engine Driven Mini Pivot’) is ՚n kleiner spilpunt wat beloof om die nagmerries te verjaag van boere wat met hande in die hare sit weens kragprobleme.

Hierdie spilpunt is die ideale oplossing vir kleinskaalse boere wat nie noodwendig driefasekrag het nie en met besproeiing wil begin. Die EDMP-spilpunt word aangedryf deur ՚n Honda-petrolenjin van 4 kW. Sy brandstoftenk hou 22,7 liter, waarmee hy minstens sestien uur lank werk.

Die spanlengte van die EDMP wissel van 41,8 meter tot 65 meter. Die oorhanglengte is 12,8 meter tot 32 meter en die langste EDMP-spilpunt is sowat 97 meter.

Werner Wolfaardt, sake-ontwikkelingsbestuurder van Reinke Suid-Afrika en Afrika, vertel meer: “Die spilpunte werk op ՚n klein reduksieratkas aan die onderkant, wat dan die ratkaste op die wiele dryf. Hierdie spilpunt werk baie doeltreffend en dien as ՚n goedkoper weergawe vir boere wat nie noodwendig driefasekrag wil laat installeer nie. Al waarvoor die boer moet sorg, is om water tot by die middelpunt van die spilpunt aan te lê.

“Nog ՚n voordeel van die spilpunt is die feit dat hy verskuifbaar is, sodat een spilpunt gebruik kan word om twee sirkels te besproei. Jy draai bloot die spilpunt se wiele na voor en sleep hom met jou trekker van die een land na die ander,”

voeg Werner by.

Die aandryfratkaste is in lae-, standaard- en hoëspoed beskikbaar. Die spilpunt sal volgens die ratkasaandrywing vinniger of stadiger loop, terwyl die enjin se omwenteling dieselfde bly.

Reinke demonstreer aan boere by NAMPO hoe ՚n spilpuntpomp se reguleerder werk.

Werner sê: “Hierdie spilpunt se gewildheid het die afgelope paar jaar toegeneem in Afrika, juis omdat dit ՚n gerieflike oplossing is vir jong opkomende boere, wat slegs ՚n klein gedeelte het om te besproei.”

Soos ons weet, gaan Afrika binnekort die kosmandjie vir die wêreld wees. Al die lande in Afrika waarin Reinke sake doen, het ՚n baie groot aanvraag om kleiner boere te kry om te begin boer, sodat die lande meer selfstandig kan word wat kosvoorsiening aanbetref. Dit plaas hulle dan in ՚n posisie waar hulle na hulleself kan omsien.

“Dit is vir ons ontsettend belangrik dat ons ten nouste met die boere skakel. Ons maak seker dat Reinke deel is van die mense, deel is van die omgewing, en die prosesse van beplanning, tot installasie en die suksesvolle oprigting van die spilpunt. Ons probeer om minstens een maal per maand in die Afrika-lande waar ons spilpunte opgerig het, uit te kom om seker te maak dat die verspreiders asook die klante tevrede is.”

Reinke se slim besproeiings-beheerpanele

Nog ՚n hoogtepunt by NAMPO was Reinke se Advanced+- en RPM-beheerpanele. Hierdie slim besproeiingsbeheerpanele maak die lewe vir die boer makliker.

Die betroubare Honda-petrolenjin van 4 kW wat Reinke se enjinaangedrewe minispilpunt aandryf.

“Reinke se besproeiingsbeheerpanele werk saam met die Rein Cloud-toepassing. Die slim beheerpaneel gee in ՚n oogopslag inligting oor wat met sy besproeiing aangaan aan die boer op sy slimfoon. Jy kan maklik en vinnig inligting bekom oor jou besproeiingstelselstatus, weer, sensordata en besproeiingskontroles, wat besluitneming makliker maak vir die boer,”

verduidelik Jacques van den Berg, tegniese bestuurder van Reinke Suid-Afrika en Afrika.

Reinke maak seker dat hulle ՚n wye reeks keuses bied vir die kleinste tot die grootste boerderye. Reinke bied besproeiingsoplossing vir sirkels van 1 tot 5 ha en tot 85 ha. Reinke help boere om die regte spanlengte, oorhanglengte, wielgrootte, aandrywing en spuitpakket te kies. Die pompe en toevoerpype word ook verskaf.

Vir meer inligting oor Reinke se besproeiingstelsels wat jou sak en behoeftes pas, praat met Patrick Ellis by +27-(0)31-350-4525, of stuur ՚n e-pos aan patrickellis@reinke.com.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published.

Kynoch: Enhanced efficiency through innovation

Rotrix Afrika se kruipspuite gooi nat sonder nonsens