in

ProAgri SA 263

This post is also available in: English

“Stop die aarde, ek wil afklim!”

Wie van ons het nog nie so gevoel nie? Die dae word al korter, die werk al meer en die uitdagings al groter. Daar is nie eers meer kans om ’n bietjie briek aan te draai oor Kerstyd nie. 2021 spoeg ons uit en as jy nie 2022 reeds op ‘n drafstap ingaan nie, gaan jy val en bly lê. Of so voel dit …

Ongelukkig is daar geen trooswoorde nie, want dit is soos dit is. Om stil te staan in boerdery beteken uiteindelik dat jy agteruit boer, want die res van die wêreld gaan by jou verby. Tegnologie en boerderymetodes ontwikkel vinniger as wat die riemtelegram die nuus kan aandra.

Partykeer vat die navorsing ons terug na waar ons voorouers begin het, na ons wortels toe. Ons boer nou weer saam met die natuur en beveg dit nie op elke front nie, maar die toerusting wat beskikbaar is om wyd en vlak en vinnig en nader aan die natuur te boer is heel anders. Jy hoef nie eers meer te kan buk om te boer nie!

My 88-jarige pa het onlangs die kleinkinders verstom met sy herinneringe van koring met ‘n sekel sny, in gerwe bind en op ‘n mied pak. ‘n Paar gesinne het saam op ‘n plaas geboer en meer seuns het ‘n beter oes verseker. Die vrug van almal se arbeid was genoeg om van te leef, maar luuksheid was beperk tot ‘n beurt om in warm water in die koue sneeuwêreld te bad.

Tog, uit daardie geslag is die grootste tegnologiese omwentelings gebore. Dit is die geslag wat letterlik van die perdekar na die ruimteskip beweeg het en as jy ongeduldig wil raak omdat die ou vingers en brein sukkel om teksboodskappe op ‘n slimfoon te tik, stap uit en gaan sny koring met ‘n sekel vir ‘n dag lank.

Wanneer jy jou tekkies aantrek om die nuwe jaar in te draf, onthou net om die wortels van jou herkoms en jou waardes saam dra, want as die stortreën die hoenderhokke oorspoel en jy 50 000 hoenders verloor, of die hael klits al jou vrugte weg en slaan 300 lammers dood, of ‘n veldbrand verwoes jou weiding, dan is dit jou wortels en jou waardes wat jou daardeur kan dra.

By ProAgri het ons ook ons drafskoene aan en ons is besig om die hele Afrika vol te groei. Ons adverteerders kan nou al 15-miljoen mense in agt-en-twintig lande bereik. Om dit reg te kry, is ons redaksionele span ook uitgebrei en ons verwelkom graag vir Maryna Steyn en Natasha Kruger in die span.

Alle sterkte aan hulle en ook aan elke leser en adverteerder. Kom ons laat die tekkies klap in 2022!

Lekker lees!

Annemarie Bremner

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Boere dankbaar vir boorgate in Steytlerville

Lucasdam Dorperstoet fokus op geharde, produktiewe, mooi skaap