in

ProAgri SA 258

This post is also available in: English

Voor ons ons oë kon uitvee, is 2021 al in Augustus. Die jaar stap fluks aan en die seisoen gaan een van die dae weer draai. Nuwe seisoene bring weer die opwinding van nuwe uitdagings. Die winter se strooptoerusting word vir eers weer in die skuur getrek, en daar word in alle erns voorberei vir die plantseisoen wat kom.

Ongelukkig kan ons nog nie die vuurvegtoerusing bêre nie. Almal sien uit na die aangename verandering wat die lente bring wanneer dit tyd word om die yslagie van die winter af te skud.

Deur die jaar reis ProAgri se joernaliste na baie plase en dorpe om die onderhoude te voer vir die artikels wat in die tydskrifte en op die webwerf verskyn. Dikwels ontmoet ons indiwidue en organisasies wat ‘n blywende indruk op ‘n mens maak. Ons het onlangs die voorreg gehad om na die Oos-Kaap te reis vir ‘n besoek aan die Addo-omgewing waar die Venters van Venter Boerdery werk. Daar het ons ook die vriendelike personeel van die plaaslike Massey-handelaar, Beer Trekkers, ontmoet.

Oom Roelou Beer, ook bekend as oom Soggie, het Beer Trekkers sedert die tagtigerjare opgebou van ‘n eenmansaak wat met ‘n bakkie na plase gery het om Masseys te versien, tot die volwaardige Massey Ferguson-agentskap wat dit vandag is. Hy het ook die geleentheid vir sy kinders geskep om by die saak aan te sluit. Daar is meer oor hulle te lees op bladsy 5.

Die verhouding wat die Venters van Venter Boerdery en die Beer-gesin van Beer Trekkers met Massey Ferguson het, is tekenend van die Suid-Afrikaanse Boerderybedryf. Hier is verhoudings wat al dekades lank staande bly … deur sowel die vet jare as die maer jare.

Dit is verfrissend om te sien dat daar nog steeds lojale mense is wat daarin glo om verhoudings te bou en te onderhou. Dit is ‘n saak van wedersydse respek tussen die vervaardiger, die handelaar en die boer.

In ‘n baie mededingende wêreld bestaan daar nie eintlik meer iets soos ‘n swak produk nie. Die sukses van jou onderneming word grootliks bepaal deur jou verhoudings met jou verskaffers en jou klante. Van dit wat ons kon sien in die Oos-Kaap, is die toekoms vir Massey Ferguson, Beer Trekkers en Venter Boerdery beslis rooskleurig, of sal ons sê Massey-kleurig.

Om op die hoogte te bly van ons plaasbesoeke, artikels en ander nuus besoek, gerus ons ProAgri Facebook-blaaie, of ons webwerf by www.proagri.co.za. Om die regte toerusting teen die regte prys vanuit die gemak van jou leunstoel te vind, besoek www.agri4all.com.

ProAgri-groete

Jaco Cilliers

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Gebou om te hou: Valtrac se Tatu-werktuie wys staal in turfgrond

Maak meer van wildsvleis