Die somer is hier!
Buiten warmer weer, kan meeste van Suid-Afrika se boere in die binneland ook weer uitsien na goeie reën wat hopelik hierdie jaar net na Oom Paul se verjaarsdag sal begin val.
Saam met die warmer weer en die afwagting op goeie reën beteken die seisoensverandering ook dat graanboere eersdaags weer kan begin plant. Voorbereidings vir hierdie plantseisoen is al ՚n geruime tyd aan die gang. Planters word gekalibreer, kunsmisstrooiers ook, laers word nagegaan, ghries gesmeer, lande word bewerk, alles ter voorbereiding vir volgende jaar se oes.
Boere kan ook nou weer uitsien na skoue aangesien die inperkingsmaatreëls effens verslap het. KragDag gaan voort! Vanaf 14 tot 16 Oktober 2021 kan boere gerus gaan kyk na die nuutste maniere om selfonderhoudend te word en nie meer aan die genade van Eskom se beurtkrag oorgelaat te wees nie. Hierdie jaar brei KragDag se landbou-afdeling ook sodanig uit dat dit die grootste landbouskou vir 2021 sal wees. Hopelik sal NAMPO hulle voorbeeld volg dat ons volgende jaar weer ՚n behoorlike NAMPO-skou ook kan beleef.
Intussen kan lesers gerus by ProAgri aanklop vir jongste nuus oor landboutegnologie. Met gereelde artikels wat die grootste en beste handelsmerke in die Suid-Afrikaanse landboubedryf dek, hoef jy nie verder as jou rusbank te reis om die nuutste landbounuus te kry nie.
Skakel in op ons YouTube-kanaal, besoek ons webwerf by www.proagri. co.za, en volg ons op ons sosiale-mediaplatforms om op hoogte te bly van die nuutste landboutegnologie.
ProAgri-groete
Jaco Cilliers – jaco@proagri.co.za